Gustav Venter: Trump en die dood van ʼn dinosourus

Gustav Venter

Donald Trump gaan ʼn muur bou, en dit is ʼn goeie ding, maar sy werklike nalatenskap gaan nie wees wat hy gebou het nie, maar wat hy gebreek het. Hy het die Republikeinse Party geknak, die Demokratiese Party uitgewis, die loopbane van Jeb Bush, Mario Rubio en Ted Cruz óf erg belemmer, óf beëindig, en die Clintons… wel, húlle het hy sommer gekrok. Verreikender nog, meer ingrypend en skokkend, is die dinge wat ander mense gebreek het om hom aan bewind te kry: Die sogenaamde hoofstroommedia.

Vir ʼn anderhalfeeu het die media in die VSA – eers koerante, toe koerante en radio, toe koerante en radio en televisie – as’t ware oor alles geheers wat hulle oë gesien het, veral op politieke gebied. Hulle het presidente geskep en presidente soos Nixon vernietig. Hulle het regeringsbeleid in só ʼn mate bepaal dat die twee hoofpartye in Amerika, die Demokrate en die Republikeine, naderhand eintlik ononderskeibaar was.

Die media het die inligtingstroom na die algemene bevolking ontwerp, geskep en gereguleer. Húlle het besluit wat die gewone Amerikaanse japie mag lees, hoor en sien. Die enigste inligting wat die bevolking bereik het, is verpak en aangebied deur die hoofstroommedia. Hulle het dit bloot onwaar gemaak dat elke storie twee kante het. In Amerika het elke storie naderhand net een kant gehad – en die media het besluit wat dit is.

Met die aanbreek van die verkiesingskringloop verlede jaar was die media heel vervelig en amper verveeld seker van hulle vermoë om die presidentsaanwysing te dirigeer. Hulle het steeds die geld, die prestige, die reputasie, die maatskaplike gewig en die kanale gehad… soos altyd. Hulle sou as’t ware van bowe neerdaal in ink en luggolf en pieksel en vir die begenadigde gepeupel die waarheid aanbied. En wat is die waarheid? Die waarheid is wat die media besluit ons mag weet.

En toe loop die arrogante, selfaangeprese media hulle rieme styf. Ewe skielik, sien, het hulle nie meer al die versendingsroetes beheer nie. Die ontwikkeling van die persoonlike rekenaar het vir ons die internet gegee; meer in besonder wat al die Internet v.2 genoem is – sosiale media. Facebook, Youtube en veral Twitter. ʼn Los, bestuursvrye federasie van privaatnuusversamelaars het ʼn hele skadumediabedryf geskep. Internetbedrewe, skeppend, dinamies, nuuskierig, pittig… En aggressief.

Die hoofstroommedia het hierdie kwetterkoor eers geïgnoreer, toe probeer wegpraat, toe ontken en uiteindelik vergeefs probeer meeding. Ek het ʼn helder gedagtebeeld van ʼn witkruisarend in die lug bo die plaas, waar hy geteister en soort van gebombardeer is deur ʼn halfdosyn rooivlerkspreeus. Hoe die groot, manjifieke roofvoël ook al gekrul en in vlug gewriemel en geswiep het, hy was magteloos teen die dartelende, duikende terggeeste, en uiteindelik het hy maar bedremmeld weggefladder. Dit is ʼn prentjie van die oneweredige stryd tussen die hoofstroommedia en die “nuwe media” soos wat die Twitter-Facebook-Youtube-rampokkerbende gedoop is.

Die hoofstroommedia met, aan die spits, die New York Times en Washington Post en Wall Street Journal en met ABC, NBC en CBS in die voorhoede, selfs met hulle eie Nuwe Media soos Politico en Huffington Post in hulle falankse, was net te lomp, te beperk, te beteuel, te voorspelbaar en het vinnig uitgesak teen Breitbart, ʼn groterige, groeiende, konserwatiewe nuusdaarsteller, maar ook teen Paul Joseph Watson, Mike Cernovich, Paul Kersey, Stefan Molyneux en Ricky Vaughn, almal privaatenkelinge wat weet hoe werk ʼn skootrekenaar, ʼn videokamera en ʼn selfoon.

Hierdie mense het vanuit hulle studeerkamers die meganuuskorporasies voor hulle tuisskare geklop deur nuus vinniger en meer akkuraat te rapporteer. Kort Youtube-beriggies is blitsvinnig na enige gebeurtenis verfilm, geredigeer en versprei. Elke Trump-gebaar is toegejubel en elke Hillary-uitspraak uitgekryt. Video’s, potgooie, twiets en Facebook-plasings is as’t ware hand-tot-hand aangegee van selfoon na tablet na rekenaar na selfoon… Duisende, honderdeduisende, miljoene hertwiets, Facebook-aangeë en Youtube-delings het mense in die kleinste skeurtjie of gleufie van die Amerikaanse samelewing bereik en ʼn deurslaggewende aantal van hulle oorgeswaai na die kamp van die man met die oranje kuif.

Die ou, afgestompte media het lomp reageer. Eers het hulle oudergewoonte net grepies van die waarheid vrygestel, toe die waarheid probeer ignoreer en uiteindelik het hulle prontuit gelieg. Nog nooit in die vrye Weste het die media so pens en pootjies in die bed gespring met ʼn presidentskandidaat nie. Chris Cuomo van CNN – Clinton News Network soos die alt-regse media hulle gedoop het – het in ʼn onbewaakte oomblik erken dat die media hulle dekselse uiterste bes vir Hillary doen. ʼn Skrywer het sy verbystering in die New York Times uitgespreek dat hulle onbeskroomde kantkiesery nie hond haaraf maak nie.

Want dit het nie. Die alt-regse “nuwe media” het die ou dinosourusmedia gereeld voorgespring met stories en, veel belangriker, hulle was merendeels reg wanneer die ou media eenvoudig verkeerd was. Die nuwe media het nuus blitsvinnig verwerk en in verteerbare klankgrepe en meme omskep. Toe Clinton helfte van Trump se volgelinge as in “ʼn mandjie van afstootlikes” beskryf het, het die nuwe media gesorg dat sy dit onmiddellik, onophoudelik en eindeloos berou. Intussen het hulle vir Trump opgehemel in oordrewe, meestal komiese tuisgemaakte video’s en foto’s waarin hy gevier is as superheld of Koning Leonidas van Sparta.

Die ou media het selfvoldaan en selfskouerkloppend die hand gestrek na hulle gunsteling- diagnostiese implement – meningspeilings – en reg voor die verkiesing nog voorspel dat Clinton “ʼn 98% kans” (in die Huffington Post se woorde) het om die verkiesing te wen.

Ter plaatse het Naspers se koerante en selfs die parmantige Daily Maverick en omtrent al die ander koerante dié versekerde sommetjie herhaal. Clinton sou wen en dit is dit. In Amerika het een tydskrif sover gegaan om 150,000 voorblaaie te druk wat Hillary aandui as “Madam President,” so seker was hulle dat sy sou wen.

Sy het nie en die hoofstroommedia was verslae, verbyster, verpletter en verward. Dit kon nie gebeur het nie! Niemand kon dit sien kom nie! Strooi! Vir dié wat die nuwe media, die alt-regse inligtingstroom, gevolg het, was Trump se oorwinning nie net nie ʼn skok nie, maar heeltemal te verwagte.

Hierdie afgelope week het die een koerant na die ander met die eienaardigste oënskynlike kloekmoedigheid openbare bestekopname gedoen oor hoe hulle die tekens verkeerd gelees het. Natuurlik het Netwerk 24 se redakteurtjies dit nagepraat. Net die liberale media kan ʼn prestasie uit ʼn mislukking skep.

Die nuwe media, die alt-regse vleuel, het hierdie oorlog gewen. Die hoofstroommedia se rug is geknak. Hulle word deur massas mense wantrou. 63% van Amerika se bevolking gebruik Facebook as hulle hoofbron van inligting en Facebook word deur die alt-regses oorheers. Minder as 25% lees nog koerante.

Ons, in ons uithoekie van die alt-regse rewolusie, wonder tans onder mekaar hoe ons hierdie metodes en aanslag hier kan aanwend. Omstandighede is nie dieselfde nie. Die alt-regses het duidelike vyande en teikens gehad: Die Obama-regering en die Clintons. Hier het ons nie die luukse van so ʼn vyand nie. Almal verag die ANC en hulle president; in elk geval almal met wie ons wil praat.

Maar ons het wel een vyand wat ons kan en moet aanval, genadeloos en onophoudelik, en hierdie vyand is… ons eie nasionale hoofstroommedia.

Daar is ʼn tyd vir alles. Dit is nou die tyd van ons verskroeide aarde waarmee ons net die bouvalle van ons uitgediende outydse media agterlaat.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.