Wetgewers in die noordooste van Nigerië ondersoek nuwe aantygings dat amptenare noodsaaklike voedselhulp gesteel het wat bedoel was vir mense wat van Boko Haram-militante gevlug het.
Die aantygings in die Adamawa-staat fokus op amptenare en handelaars wat daarvan beskuldig word dat hulle kos gesteel het wat deur Nigerië se doeane-owerheid geskenk is, het Hassan Barguma, hoof van ‘n komitee vir vlugtelinge in die Adamawa-staat se wetgewende liggaam gesê.
“Om kos te steel van verhongerde kinders, is onaanvaarbaar,” het Barguma gesê.
Boko Haram se sewe jaar lange insurgensie het reeds die lewe van meer as 20 000 mense geëis en 2,6 miljoen in Nigerië en naburige Kameroen, Niger en Tsjad haweloos gelaat.
Wetgewers en amptenare ondersoek reeds berigte dat voedselhulp in die Borno-staat, die geboorteplek van Boko Haram, gesteel is. Die Verenigde Nasies waarsku dat tienduisende kinders weens wanvoeding in die gebied kan sterf. Berigte van die diefstal het protes onder vlugtelinge laat uitbreek wat oor die naweek ‘n hoofweg onderweg na Maiduguri, die grootste stad in die noordooste van die land, geblokkeer het.
Nigerië se doeane-owerheid het in Augustus 11 vragmotors met kos, onder meer rys, kookolie en spaghetti, vir vlugtelinge in Adamawa geskenk. Barguma sê baie van hierdie items het nooit die vlugtelinge bereik nie en is op plaaslike markte verkoop.