Brief: Waarom die Afrikaanse Taalraad nie ‘n Afrikaanse taalraad is nie

Nathan Tantraal (bo): "Afrikaans en Kaaps issie dieselle taal ie ... ek for instance het 'n barely functioning Afrikaans vocabulary, maa ek is nogal eloquent in Kaaps"

Op 5 Mei is Bettina Wyngaard se artikel, “Die probleem met die verset teen die US se taalbeleid,” op LitNet gepubliseer. Volgens haar is daar eintlik nie (werklike) verset teen die verengelsing van die Universiteit Stellenbosch (US) afkomstig van die studente (of van ander persone en instansies) nie. “Die behoud van Afrikaans as medium van onderrig is bloot net nie een van die goed waaroor hulle [die studente] tob nie.” Soos in die geval van die oorgrote meerderheid ontwikkelde bruin mense opper Wyngaard geen beswaar teen die afskaling van Afrikaans aan die US nie. Soos JC Steyn dit gestel het: “By sekere lede van die bruin elite is daar sterk teenkanting teen enige doelgerigte poging tot samewerking om Afrikaans in die hoër funksies daarvan te beskerm” (Ons gaan ‘n taal maak, Centurion: Kraal Uitgewers, 2014, p 505). My indruk is dat Wyngaard die toenemende verengelsing van die US verwelkom. Daarom keur sy dit goed dat (die begin van) verengelsing by die US Woordfees merkbaar is.

Die eerste voltydse besturende direkteur van die Afrikaanse Taalraad (ATR), Conrad Steenkamp, se kommentaar op dieselfde dag op Wyngaard se artikel is: “Mooi so, Bettina.” Dit tipeer myns insiens die kern van wat verkeerd met die ATR is; dat dit polities korrek lof het vir standpunte wat skadelik vir Afrikaans is. Onder aan Wyngaard se artikel vind daarna ‘n myns insiens interessante meningswisseling tussen Steenkamp en Johannes Comestor plaas waarin Steenkamp weifel tussen meningswisseling met of ignorering van Comestor. Op 1 November gee Steenkamp opdrag dat Comestor sy “uiteenlopende opinies en opvattings” oor die ATR op skrif stel; vandaar hierdie skrywe. Aangesien Steenkamp nie gereageer het op die besware wat ek daar geopper het nie, moet ek hulle hier herhaal. Steenkamp verkies om nie onder die vaandel van iemand anders se artikel gesprek te voer nie. Ek hang die saak dus maar in hierdie aparte artikel aan ‘n groter klok.

Uit wat volg, blyk dit hopelik dat Comestor se opinies en opvattings nie danig uiteenlopend is nie. Die Bybel raai aan dat ons nie twee here moet dien nie (Mattheus 6:24, Lukas 16:13); of meer aards, dat ons nie gelyktydig op twee stoele moet probeer sit nie. ‘n Mens kan dit versag deur te sê dat die ATR meer as een doel voor oë kan hê; dat dit enersyds versoening en meertaligheid en andersyds die heil van Afrikaans kan bevorder. Wat ek kategories wil stel, is dat die ATR nie so ‘n tweeslagtige doel suksesvol kan najaag sonder om voorkeur aan die een of die ander te gee nie. In die praktyk sal ‘n hiërargie hom noodwendig vergestalt. Die oorwig sal by die politiek (versoening en meertaligheid) of by taal (Afrikaans) lê. Ek gaan vervolgens aantoon dat dit vir die ATR primêr nie om die bevordering van Afrikaans gaan nie; dat die ATR nie die letterlike betekenis van sy naam gestand doen nie; dus dat die Afrikaanse Taalraad nie werklik ‘n Afrikaanse taalraad is nie. Met die oog hierop verwys ek veral na die uitlatings van die agtereenvolgende ATR-voorsitters (Wannie Carstens, Michael le Cordeur, Anne-Marie Beukes) en Steenkamp. Ek noem dit “die ATR-diskoers”. My fundamentele beswaar teen die ATR is dat politieke korrektheid dikwels ‘n hoër prioriteit as die belange van Afrikaans geniet.

Die ATR is op 24 Mei 2008 op Wellington gestig nadat heelwat moeite gedoen is om bruin Afrikaanssprekendes aan boord te kry. Die verskil in die benaderings van blankes en bruin mense tot Afrikaans is soos volg verwoord: Die “wit sprekers [het] die taal beskou as ‘n saak van identiteit en taalregte, terwyl dit vir bruin sprekers ‘n saak van bemagtiging is. Sedertdien is bemagtiging in die diskoers oor Afrikaans opgeneem” (Steyn, p 504). Bemagtiging het ‘n sterk politieke assosiasie. Dit is deel van die ATR se leuse: “bemagtig, bevorder, beskerm”. Die verklaring vir die oorvloedige gebruik van die woord “bemagtig” in die ATR-diskoers is myns insiens omdat daar agteroor geleun is en steeds word om bruin mense by ‘n inklusiewe ATR te betrek en hulle steun te behou, selfs wanneer dit die belange van Afrikaans benadeel, bv wanneer die soort Kaaps wat oorvloediglik Engels bevat eerder opgehemel as veroordeel word. Dit is by uitstek Le Cordeur wat hom sonder teenspraak uit ATR-geledere hieraan skuldig gemaak het. Desnieteenstaande het hy homself as een van die “Wie is Wie” van Afrikaans beskou (Die Burger, 7.01.2014).

Demokrasie onderskryf die standpunt dat kwantitatiewe oorwegings, getalle, van deurslaggewende belang is en kwalitatiewe oorwegings, gehalte, van mindere belang is. In die diskoers van die ATR word meesal meer waarde of gewig toegeken aan die Afrikaanssprekende bruin mense omdat hulle meer in getal as die Afrikaanssprekende blankes is. Op grond daarvan word geredeneer dat die toekoms van Afrikaans van bruin mense afhang, sonder inagneming van die gehalte van die Afrikaans. My beswaar is nie teen eiesoortige Afrikaans wat by sowel bruin as blanke groepe aangetref word nie. My beswaar is teen Afrikaans wat met Engels gestrem word en onder die vaandel van bv Kaaps by sommige bruin mense aangetref word, asook die soort Afrikaans wat toenemend met Engels oorlaai word en by sommige blankes aangetref word. Ooreenkomstig die mode-politiek boer die ATR met kwantiteit terwyl ‘n kragtige kwalitatiewe teenoffensief noodsaaklik is.

Die ATR gaan van die standpunt uit dat Afrikaans uit talle variëteite bestaan. Na analogie van die gelykverklaring van alle mense in die demokratiese politieke bedeling, bv algemene stemreg met stemme wat elk gelyke waarde het, word geredeneer dat al die Afrikaansvariëteite gelyke waarde het. Taalvariëteite is in der waarheid almal gelyk in soverre hulle almal bestaan, dus in die werklikheid aangetref word. Maar Afrikaansvariëteite (as Kaaps as Afrikaans gereken word) bied nie almal in dieselfde mate verskansing teen verswelging deur Engels nie. Naas die ANC-regering wat Afrikaans vyandig gesind is, hou Engels as wêreldtaal en as voorkeurtaal van die meerderheidgroep, die swart mense, die grootste bedreiging vir die voortbestaan van Afrikaans in.

Die ATR is ingevolge sy leuse veronderstel om Afrikaans te bevorder en beskerm. In die diskoers van die ATR word Kaaps as Afrikaans gereken en meer as enige Afrikaansvariëteit vir ophemeling uitgesonder. Daar word sonder meer aanvaar dat Kaaps ‘n Afrikaansvariëteit is terwyl dit in werklikheid ‘n mengeltaal is wat in toenemende mate Engels is. Nathan Trantraal ontken dat Kaaps Afrikaans is: “Afrikaans en Kaaps issie dieselle taal ie … ek for instance het ‘n barely functioning Afrikaans vocabulary, maa ek is nogal eloquent in Kaaps” (Onderhoud met Annemarié van Niekerk, Rapport, 4.08.2013). Dit is nie moontlik om Kaaps sonder kennis van Engels te verstaan nie. Kaaps kan onmoontlik as verskansing teen verengelsing dien. Kaaps kan nie as reddingsboei vir Afrikaans funksioneer nie. Kaaps verhaas veel eerder die ondergang van Afrikaans; des te meer as Afrikaanssprekendes hierdie brabbeltaal se voorbeeld navolg en al hoe meer Engelse woorde gebruik wanneer hulle veronderstel is om Afrikaans te praat en te skryf.

Anders as Trantraal beweer Le Cordeur teen die waarheid in dat Standaardafrikaans nie “‘n meer korrekte (‘suiwer’) vorm van Afrikaans” as Kaaps is nie. “Kaaps [is] nie ‘swak Afrikaans’ nie, dis ‘n ander variëteit” (Die Burger, 8.08.2013, p 19). Op 31 Julie 2013 het Le Cordeur op LitNet geskryf: “Die Afrikaanse Taalraad bevorder nie net standaardafrikaans nie, maar Afrikaans met al sy variëteite en standaardafrikaans is maar net een variëteit.” Let op die verkleinerende frase “maar net een” en dat Le Cordeur Standaardafrikaans met ‘n kleinletter skryf. Ek dink nie dit dui suiwer op onkunde by hierdie nie-taalkundige nie; dalk eerder op moedswilligheid.

Christo van Rensburg skryf: “Standaardafrikaans [is] eintlik ‘n dialek wat bokant Afrikaans se dialekte staan” (So kry ons Afrikaans, Pretoria: LAPA Uitgewers, 2012, p 117). “‘n Bodialektiese standaardtaal … dwing dialekte … na die standaardtaal” (125). Om Standaardafrikaans hoër as bv Kaaps te ag, is heiligskennis in ATR-geledere en weerspreek die gelyke status wat mense soos Carstens en Le Cordeur aan alle mense en Afrikaansvariëteite toeken. Kaaps verskil van Afrikaans, bv Standaardafrikaans, nie net vanweë die kwistige gebruik van Engelse woorde nie. Die sinsbou van Kaaps is dikwels nie-Afrikaans, bv Engels of Arabies. Le Cordeur erken dat “Kaaps dikwels die Arabiese sinkonstruksie” volg (Onderhoud gevoer deur Naomi Meyer, LitNet 8.08.2013). Die ATR se bevordering van die mengeltaal Kaaps druis lynreg in teen die heil van Afrikaans. Dit is veral politieke oorwegings wat die ATR dryf.

As die ATR werklik ‘n Afrikaanse taalraad was, sou hy in hierdie situasie deurlopend die noodsaaklikheid van die grootste moontlike mate van taalsuiwerheid by Afrikaanssprekendes gepropageer het. Sover ek weet, het die ATR nog nooit met ‘n pleidooi vir taalsuiwerheid vorendag gekom nie. Hoekom nie? Omdat dit bruin sprekers wat bv Kaaps besig kan vervreem terwyl so ‘n absoluut noodsaaklike pleidooi in werklikheid ook baie blankes tot agbare Afrikaans kan aanspoor.

Op 3 Julie 2012 het ek op LitNet na Louise Voigt se riglyn (in Dalene Müller se Skryf Afrikaans van A tot Z, Kaapstad: Pharos, 2003, p 652-653) oor die gebruik van Engels in Afrikaanse teks verwys. Voigt skryf: “Die algemene riglyn is om die minimum Engelse woorde in Afrikaanse skryfwerk te gebruik … Engelse woorde is toelaatbaar as daar regtig geen geskikte Afrikaanse woord daarvoor is nie … Moet nooit Engelse woorde gebruik net omdat dit vir jou makliker is om iets in Engels te sê nie. Wys liewer hoe raak ‘n mens enigiets in Afrikaans kan sê.” Wat verhoed die ATR om met ‘n soortgelyke riglyn vorendag te kom? Seker maar die sug na politieke korrektheid, versoening en selfs meertaligheid.

Johan Combrink en Johan Spies se boekie, SARA: Sakboek van regte Afrikaans (Kaapstad: Tafelberg, 1986), is gepubliseer toe daar nog beweer kon word dat “Engels nie meer die bedreiging is wat hy vroeër was nie” (p 14). Sedertdien het politieke magsdeling algehele magsoorgawe geword en is Afrikaans afgegradeer tot een van tien amptelike tale wat nie werklik as amptelike tale funksioneer nie. Die outeurs skryf: “Woorde en uitdrukkings wat nie in stryd met die Afrikaanse taaleie is nie en waarby ‘n mens moet perd opsaal om vas te stel of hulle anglisismes is of nie, moet in Afrikaans verwelkom [geduld?] word as ons hulle nodig het” (p 14). Wat ek probeer sê, is dat ek nie dogmaties taalsuiwerheid bepleit nie. Ek verkeer nie in die waan dat Standaardafrikaans vry van beïnvloeding van ander tale is nie. Moet dus nie kom met die verweer dat geen taal suiwer is nie. Waarteen ek beswaar het, is as daar mengeltaal bedryf word, daar met Afrikaans gemors word deur dit ongebreideld met Engelse woorde te laai, terwyl daar Afrikaanse ekwivalente vir daardie woorde bestaan. Die ATR leun polities korrek dermate agteroor dat hy hierdie soort “Afrikaans” aanmoedig. Dít is die soort Afrikaans wat nie die voorbestaan van taaleie Afrikaans gaan verseker nie.

Op 3 Julie 2012 het ek op LitNet geskryf dat Standaardafrikaans voorheen die onbetwiste ideaal van Afrikaners was. “Sedertdien het dit mode geword, ook by [sommige] Afrikaners van weleer, om taaltrots te versaak in soverre dit met Afrikaans te make het. Almal probeer steeds om korrekte Engels te besig. In Engels is daar geen noemenswaardige plek vir Afrikaans nie. In Afrikaans word daar egter toenemend plek vir Engels gemaak.” Die huidige situasie kan verander word as Afrikaners (verkieslik alle Afrikaanssprekendes) “besluit dat die huidige situasie onwelvoeglik is, dat dit glad nie aanvaarbaar is om met Afrikaans te mors nie, dat Afrikaners die voorbeeld moet stel en dat verwag word dat nie-Afrikaners hierdie voorbeeld moet navolg. Die gebruik van goeie Afrikaans is goeie maniere. Die gebruik van slordige Afrikaans is slegte maniere en as dit opsetlik gedoen word, is dit afstootlik.”

As die nuwe Suid-Afrika ‘n normale samelewing wil wees, moet Afrikaans in sy standaardvorm erken en bevorder word, soos wat elders in die wêreld met erkende tale gedoen word. Vir ‘n taal om te groei en oorleef, is dit van die uiterste belang dat die ATR nie verskeidenheid/verbrokkeling/verdeeldheid aanmoedig deur die oorbeklemtoning van Afrikaansvariëteite nie, maar eerder ‘n groter mate van taalstandaardisering en -eenheid bepleit. Carstens se voorkeur vir “getransformeerde Afrikaans” en sy onderskrywing van Nico Koopman se “hibridiese Afrikaans” (LitNet 1.10.2009) is ‘n radikale afkraking van Standaardafrikaans. Wat Koopman doen, is om sy hibridiese etnisiteit enersyds as model vir Afrikaans, maar nie vir Engels nie, voor te hou. Andersyds is hibriditeit Koopman se model vir die etnisiteit van die ganse Suid-Afrikaanse samelewing (google gerus: nico koopman hibriditeit).

Standaardafrikaans, wat deurlopend uit Afrikaansvariëteite gedistilleer word, bied die beste verskansing teen Engels. Die ATR moet die moed hê om Standaardafrikaans uit te sonder as dié Afrikaans waaraan hy voorkeur gee. Die ATR behoort dit onomwonde te stel dat die grootste moontlike taalsuiwerheid by Afrikaans (veral mbt tot Engels) vir hom erns is en ‘n mengeltaal soos Kaaps die voortbestaan van Afrikaans bedreig. Dit is juis by uitstek Kaaps wat die ATR noop om Afrikaansvariëteite buitensporig te beklemtoon.

Die oortoegeeflike gesindheid jeens Engels wat deur die ATR openbaar word, is nie net teleurstellend nie maar ook gevaarlik. Carstens het gesê: “Onthou dat ek op geen [!] manier ‘n geveg met Engels aan die gang wil sit nie” (Onderhoud gevoer deur Jean Oosthuizen, LitNet 8.05.2015). Beukes wil nie ‘n taalbul wees nie (Netwerk24, 12.11.2014), wat op halfhartigheid kan dui. Sy het die ATR se meertaligheidsdogma tot die “naasmekaarbestaan-beginsel” omvorm. “Die anglofobie; dis mos nou nonsens. In die naasmekaarbestaan-beginsel verstaan ons mos hoe belangrik Engels is. Engels is ‘n wónderlike instrument” (Onderhoud gevoer deur Murray la Vita, Die Burger, 21.08.2015, p 15). Dit is juis die invoer van onderrig in Engels naas Afrikaans aan die vyf tradisioneel Afrikaanse universiteite, dus Engels en Afrikaans se naasmekaarbestaan, wat veroorsaak dat die wónderlike instrument Engels besig is om Afrikaans as onderrigmedium aan al hierdie universiteite te verdring.

Die voortbestaan van Afrikaans as akademiese taal hang af van die bestaan van eentalig Afrikaanse universiteite. As die hoër funksies van Afrikaans vir die ATR belangrik is, moet hy onverwyld begin om die herinstelling en herlewing van eentalig Afrikaanse universiteite te bepleit, al is dit polities heeltemal inkorrek. “An Afrikaans-dominant or a Zulu-dominant university does not have to be an ‘ethnic’ university” (Neville Alexander, Thoughts on the new South Africa, Auckland Park: Jacana, 2013, p 84). Vir Beukes is anglofobie “nonsens”. Alexander, een van die besonge helde van die ATR, toon beter insig wanneer hy skryf van “the fallacy of the ideological neutrality of the English language in our multilingual new South African reality” (p 84).

Nêrens wend die ATR ‘n poging aan om te omskryf wat Afrikaans is nie. Al wat beklemtoon word, is dat die net wyd gespan word, dat inklusiwiteit die wagwoord is. Hoe meer die ATR sy terrein verbreed, des te vaer word sy fokus en des te moeiliker word dit om resultate te behaal. Na Standaardafrikaans, die agbaarste en reddendste vorm van Afrikaans, word daar selde in ATR-diskoers verwys. Die rede hiervoor is dat Standaardafrikaans met blanke Afrikaanssprekendes geassosieer word pleks van etnisiteit te ignoreer. Verwysings na Standaardafrikaans word soos die gif vermy ten einde bruin mense aan boord van die ATR te hou. Die ATR klou fanaties vas aan etniese inklusiwiteit in soverre dit bruin mense aangaan (almal moet ingesluit word). Blanke inklusiwiteit, daarenteen, geniet glad nie dieselfde mate van voorkeur nie, bv polities regse blankes word doelbewus deur die ATR uitgesluit.

Dit word algemeen erken dat baie bruin mense, veral die ontwikkeldes, glad nie Afrikaanslojaal is nie. Dit is die afgelope tyd in oortreffende mate in die US-taalstryd bewys. Diegene in die bruin gemeenskap wat die bekendste vir hulle uitsprake oor Afrikaans is, het hulle feitlik eenparig ten gunste van die verengelsing van die US uitgespreek, bv Le Cordeur en Adam Small, of deurgaans geswyg. In bruin geledere is steun vir ‘n Afrikaanse US so skaars soos besware teen ‘n eentalig Engelse Universiteit van Wes-Kaapland. Die oudpolitikus Peter Marais en die onderwyskenner Danie van Wyk is wel ten gunste van die behoud van onderrig in Afrikaans aan die US; ook twee lede van die ATR, Hendrick Theys en Ria Olivier.

In so ‘n situasie sou ‘n mens verwag dat die ATR diegene koester oor wie se Afrikaanslojaliteit daar geen twyfel is nie. Die sterkste voorstanders van Afrikaans word in polities regse geledere aangetref. Wat bruines betref wil die ATR inklusief wees en alle Afrikaans- en Kaapssprekendes aan boord kry. Wat blankes betref word geen poging aangewend om inklusief te wees nie. Dit is al uitdruklik gestel dat regse Afrikaners nie welkom in die ATR is nie. Carstens het geskryf: Steve Hofmeyr “versinnebeeld ongelukkig daardie element wat ons nie meer met Afrikaans geassosieer durf hê nie” (Die Burger, By, 15.11.2014, p 11). Ook: Praag “dra nie altyd die soort legimiteit wat ‘n mens graag hier sou soek nie” (LitNet 15.03.2013). Maar die ATR het graag met polities linkses soos Nelson Mandela en Neville Alexander geassosieer. Vir die ATR is niemand te links nie.

Die ATR gaan selfs verder. Die term Afrikaner word in ATR-diskoers vermy omdat dit as problematies beskou word. Carstens wil nie ‘n Afrikaner wees nie; eerder ‘n “Afrikaanssprekende Suid-Afrikaner” (Steyn, p 486). Steenkamp beur in dieselfde rigting. Die debat oor Afrikaans aan die US mag volgens hom nie aan Afrikanerkultuur gekoppel word nie. “Dit is die dood in die pot” (LitNet 6.05.2016). Wat bruin mense betref word voortdurend gepleit dat onderrig in Afrikaans aan die US aan hulle beskikbaar moet wees, al verkies baie van hulle om in Engels te studeer. Daar word (feitlik) nooit gepleit vir ander mense wat in Afrikaans aan die US wil studeer nie. Dít terwyl Afrikaners by uitstek daardie groep is wat histories aan die US hoort en dit Afrikaners is wat die US as akademiese inrigting oor bykans ‘n eeu opgebou het. Daar sou sedert 1918 nie ‘n US gewees het as dit nie vir die vrygewigheid van ‘n Afrikaner, Jan Marais, was nie. Afrikaans is ‘n (selfs dié) kern van Afrikanerkultuur, maar Steenkamp wil dit polities korrek in die taaldebat doodswyg. Danny Titus, die ATKV se kultuurhoof en ATR-direksielid, het in weerwil van sy ampstitel in ‘n rubriek in Die Burger (in 2013?) dit sinvol geag om te vra: “Is daar ”n ding’ soos Afrikaanse kultuur?” Daar is sekerlik iets soos Afrikanerkultuur en Afrikaans is inherent deel daarvan. Veralgemenend kan gesê word dat daar verskille tussen die kultuur van blankes en bruin mense is, soos blyk uit hulle verskillende benaderings tot Afrikaans, soos baie duidelik in bv die US-taalstryd geblyk het.

Carstens vra: “Hoe kan ons nog vandag in 2013 steeds Afrikanerskap net vir wit mense toe-eien? … Hoekom uitsluit en nie insluit nie?” (Maroela Media 10.07.2013). Maar dit is juis Carstens wat regse Afrikaners uitdruklik van die ATR uitsluit. Omdat Afrikanernasionalisme vir die ATR taboe is, is daar talle blankes wat ‘n grootse bydrae tot Afrikaans gelewer het aan wie die ATR verkies om nie erkenning te gee nie, bv CJ Langenhoven en die stigters van die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA). Het die ATR al ooit ‘n goeie woord vir Jan Marais gehad? Die lede van die GRA word dubbel gediskwalifiseer: hulle was nasionalisties en hulle het hulleself as Afrikaners geïdentifiseer. Hoe vul die ATR hierdie onnodig selfgeskepte vakuum? Deur bv veroordeelde misdadigers, bv Robbeneilanders, wat hoogstens Afrikaansrandeiers is, tot Afrikaanshelde te verhef, bv Nelson Mandela en Neville Alexander. Vanweë die GRA-assosiasie weerhou die ATR hom daarvan om (sterk) voorspraak vir Afrikaansdag (14 Augustus) te doen.

Op sy webwerf word die ATR se ontstaansgeskiedenis verdienstelik deur Ria Olivier vertel. In die ATR se Akte van Oprigting (2009) word Afrikaans sonder meer ‘n inheemse taal genoem (item 2), dus sonder vermelding van sy Europese wortels. Die doel is klaarblyklik om Afrikaans in oormaat te verafrika. Beukes het selfs beweer dat die Bo-Kaap “die wiég” van Afrikaans is (Die Burger, 21.08.2015, p 15). Dit is die soort doelbewuste valsheid wat aanleiding gee tot die volgende stelling van Le Cordeur. In die voorwoord by Van Rensburg se genoemde boek skryf Le Cordeur: “Met hierdie werk wil die ATR opnuut die veelfasettige afkoms van Afrikaans beklemtoon en die nou byna afgesaagde gesegde dat Afrikaans ‘n witmanstaal is, finaal in die kiem smoor; omdat ons hier die navorsing aanbied wat bewys dat Afrikaans die eiendom is van almal wat Afrikaans praat” (p 10). Die huidige oordrewe neiging tot besitlikheid het sy oorsprong in die ANC se Vryheidsmanifes van 1955 ingevolge waarvan Suid-Afrika glo aan almal behoort wat hier woon, al sluit dit miljoene onwettige immigrante in.

Alle Afrikaanssprekendes word hier met die oog op eiendomsreg oor dieselfde kam geskeer, terwyl sommige van hulle Afrikaans suiwer(der) besig en ander doelbewus geradbraakte Afrikaans praat, sommige taalgetrou is en ander uitmunt in dislojaliteit, ens. Daar behoort hier ‘n kwalitatiewe onderskeid gemaak te word. Ook word daar geen duidelike onderskei gemaak nie tussen enersyds die ontstaan van Afrikaans, waarby die Khoi-San en slawe in ‘n mate ‘n rol gespeel het (Kombuisafrikaans), en andersyds die ontwikkeling, standaardisering en amptelike erkenning van Afrikaans, waarby feitlik uitsluitlik blankes betrokke was (Voorkamerafrikaans – dink aan die voorkamer van Gideon Malherbe se huis in die Paarl waarin die Genootskap van Regte Afrikaners op 14 Augustus 1875 vergader het). Myns insiens mag daar maar erkenning aan Afrikaanssprekende blankes gegee word vir die groot bydrae wat hulle tot die uitbouing en voortgesette behoud van Afrikaans gelewer het en steeds lewer. Dit is een van baie voortreflike bydraes van Afrikaners, maar uit ATR-geledere klink daar selde indien ooit lof vir Afrikaners op.

Die “afgesaagde gesegde” waarna Le Cordeur hier bo verwys, heg ‘n verwronge vertolking aan wat CJ Langenhoven oor Afrikaans gesê het: “Hij is die enigste witmanstaal wat nie onmiddellik oor die see kom nie” (JC Kannemeyer, Langenhoven, ‘n lewe, Kaapstad: 1995, p 269). Langenhoven verkondig hier twee onbetwisbare waarhede: dat Afrikaans sy wortels in Europese tale het, bv in Nederlands, en dat ander plaaslike witmenstale, bv Engels, (grootliks) klaargemaak van oorsee gekom het. Langenhoven gee dus heeltemal tereg erkenning aan die mate waarin Afrikaans plaaslik geskep is en hy verkondig glad nie dat dit uitsluitlik ‘n taal vir wit mense is nie; byvoorbeeld nie wat die ontstaan of die gebruik van Afrikaans betref nie. Maar dit is grootliks aan blankes te danke dat Afrikaans tot ‘n volwaardige taal uitgebou is.

Verblydend is item 4.6 in die Akte van Oprigting ingevolge waarvan die ATR se taalstrategie aangepas kan word; iets wat ek hier onder bepleit. Item 4.13 lui: “om vaardigheid in ander tale onder Afrikaanssprekendes te bevorder.” Dit verswak die fokus van die ATR, wat myns insiens op die heil van Afrikaans ingestel behoort te wees. Uit item 4.13 volg die ATR se oorbeklemtoning van meertaligheid; iets wat teen die belange van Afrikaans kan indruis, soos hier bo ivm die naasmekaarbestaan van Afrikaans en Engels op universiteitskampusse aangetoon is. Wat die ATR gerus ook kan besef, is dat meertaligheid Afrikaans kan uitsluit. “In have no doubt that the generations born in the 2020s and after will be completely trilingual, in that all children, besides being fluent in their home language, will – if this language is not English – also learn English and another important South African language, usually from the Nguni or the Sotho cluster” (Alexander, p 163). Afrikaans word nie eens genoem nie en dit deur Alexander wat deur die ATR op die hande gedra is omdat hy moedertaalonderrig en meertaligheid bepleit het, al was hy lou oor Afrikaans. By die Roots-konferensie het Alexander in Engels oor Afrikaans gepraat (LitNet 12.10.2009).

Dit behoort nie ‘n funksie van ‘n Afrikaanse taalraad te wees om alle Suid-Afrikaanse tale te bevorder nie. Dit is soos ‘n sake-ondermening wat sy mededingers ondersteun. Die skoenmaker behoort hom by sy lees te hou. Die taak om Afrikaans sinvol te bevorder, is moeilik genoeg. Die sprekers van ander tale behoort self die heil van hulle moedertaal te bevorder in soverre hulle dit nodig ag. Bemoeiing deur die ATR kan hom aan die beskuldiging van paternalisme blootstel. Leon Wessels, wat homself as een van die vaders van die nuwe Suid-Afrika en as ‘n grondwetkenner beskou, skryf: “Afrikaners kan nie taalregte namens ander taalgemeenskappe opeis nie – hulle moet dit self doen” (Vereeniging, Kaapstad: Umuzi, 2010, p 331).

Volgens artikel 3.2 moet die ATR “alle dele van die Afrikaanstalige gemeenskap” dien. Desnieteenstaande kry blanke Afrikaanssprekendes nie na behore erkenning by die ATR nie; in elk geval nie in dieselfde mate as bruin Afrikaanssprekendes nie. Die ATR se gebondenheid aan die Grondwet word telkens genoem. Onderdanigheid aan die nuwe politieke bedeling word myns insiens oordryf met die ATR se voorneme om die demokrasie uit te bou (artikel 3.5). Onder ander staatsvorme as demokrasie kan ‘n taal sekerlik ook gedy. Onder ‘n meer elitistiese staatsvorm hét Afrikaans inderdaad voorheen voortreflik geblom. Daar is in werklikheid geen noodsaaklike verband tussen demokrasie en Afrikaans nie. In wat deesdae die voor-demokratiese era genoem word, was Afrikaans een van die twee amptelike tale en het dit floreer.

Deur ingenomenheid met die huidige politieke bestel te openbaar, heg die ATR sy goedkeuring aan ‘n taalkundige opset waarin tien tale aan amptelike status gewen en net Afrikaans drasties aan status ingeboet het, met Engels wat in die praktyk as die dominante en soms as feitlik die enigste amptelike taal funksioneer. Genoemde artikel 3.5 is gewoon die uitdrukking van politieke gedienstigheid aan diegene wat hulle in die nuwe Suid-Afrika verbly. Kortom, in die ATR se Akte van Oprigting is daar te min wat op taal en glad te veel wat op politieke kwaksalwery toegespits is. Die ATR is ‘n baie mank Moses wat nog nie die pad na die beloofde land van ‘n heilsame en respektabele Afrikaans gevind het nie. Terloops, volgens die ATR se visie en missie, soos gestel op sy webwerf, is een van die ATR se kernwaardes dat alle mense met respek behandel moet word. Die manier waarop Steenkamp my tot dusver behandel het, spreek nie van die gesonde uitlewing van hierdie kernwaarde nie.

Die skrywe wat my meer as enigiets anders oortuig het dat die ATR op die verkeerde pad is, is Carstens se artikel op 15 Maart 2013 op LitNet. Hy neem sy ATR-voorsitterskap in oënskou en skryf: “Versoening tussen die uiteenlopende Afrikaanse gemeenskappe was … van die begin af die fokus in die hele proses.” Dus, dit gaan vir die ATR eerder om versoening as die heil van Afrikaans. In Damaskus-modus skryf Carstens: In die “hartseer verlede van Afrikaans” het dinge so “skeefgeloop” dat ‘n “heelmaakproses” nodig is. Verlinkse elemente in die politiek was nie só uiteenlopend dat hulle nie in die ATR-kraal kon kom nie. Soos hier bo aangetoon is, is dit die verregses wat nie geakkommodeer kon word nie. Carstens noem dat daar sprake van geldelike ondersteuning vir die ATR uit die oord van regse Nederlandse politici was. Hieroor is Carstens egter deur Christo van der Rheede, toe ‘n ATR-direksielid al het sy kinders ‘n Engelse skool bygewoon, as ‘n “taalprostituut” uitgekryt.

Reeds op 1 April 2010 het ek op LitNet voorgestel dat slegs persone wie se kinders in Afrikaanse skole is of was, toegelaat moet word om in die ATR-direksie te dien. Hiervan het tot op hede nog niks tereg gekom nie. Afrikaansdislojales word steeds tot die ATR-direksie verkies of gekoöpteer. In watter taal jou kinders skoolonderrig ontvang, is myns insiens die lakmoestoets vir Afrikaansgetrouheid.

In sy LitNet-artikel van 15 Maart 2013 verwys Carstens na die joernalis J Rantoa wat beweer: “There is nothing special about Afrikaans.” Carstens spreek hom nie teë nie. Die waarheid is dat Afrikaans hoogs spesiaal is in die sin dat dit bykans 150 jaar lank (ten minste in proto-vorm) plaaslik algemeen gepraat is voordat Engels aan die inwoners opgedring is. Afrikaners se bydrae tot die ontwikkeling van die land is heel moontlik groter as dié van enige ander etniese of taalgroep. Carstens verwys na sy Damaskus-oomblik in November 2004 toe Christa van Louw hom tot politieke verligtheid bekeer het. Daarna was Carstens se standpunt: Die “media moet Afrikaans se lieliewit rok afgooi” (Rapport 10.11.2013). Propaganda teen blankes en veral Afrikaners en Afrikaans word deur Carstens eerder welwillend gesluk as manmoedig beveg. Hy sal nie ewewigtigheidshalwe iets pik- of roetswart noem nie. Die verdedigende en apologetiese rat waarin glad te baie Afrikaners verval het, kan myns insiens wat Afrikaans betref ten beste opgehef word as Carstens en die ATR liewer die anti-Afrikaans-elemente kompromisloos bestry.

Kortom, die ATR moet eerder sy aandag by Afrikaans as by bv versoening en meertaligheid bepaal. In belang van Afrikaans moet politieke korrektheid versaak en Standaardafrikaans pleks van Kaaps bevorder word. Taalsuiwerheid moet bepleit word. Een etniese groep moet nie voorkeur bo ‘n ander kry nie. Regse Afrikaners behoort eerder betrek as vervreem te word. Die hoër funksies van Afrikaans moet ondersteun word deurdat die ATR hom vir eentalig Afrikaanse universiteite beywer.

Die waarheid moet gedien word. Bydraes wat Afrikaners tot Afrikaans lewer, moet erken en net so rojaal soos dié van bruin mense geloof word. Die ATR moet die moed van sy oortuiging hê om waar nodig te kritiseer. Die ATR behoort hom bv openlik van Le Cordeur se ondersteuning van die verengelsing van die US te distansieer. Soos ek behoort die ATR vertoë te rig dat Le Cordeur onthef word as trustee van Het Jan Marais Nationale Fonds. Dit is ook ‘n onding dat net ‘n enkele blanke man in die raad van die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) dien en die raadsvergaderings boonop (hoofsaaklik) in Engels plaasvind. Die ATR behoort ook openlik onwyse handelinge van bv die ATM se kritiseer, bv die instelling van ‘n jaarlikse Mathew Phosa-gedenklesing en ‘n Neville Alexander-prestigetoekenning. Albei hierdie persone is/was hoogstens randeiers wat Afrikaans betref. Daar is dosyne ander mense wat eerder op so ‘n manier vereer behoort te word. Die taal van die koerant Son en van die televisiereeks 7de Laan behoort deur die ATR gekritieer te word, maar dit is net moontlik as die ATR hom vir taalsuiwerheid beywer.

Ek het verskeie kere hier bo na die ATR as “hy” verwys, wat my verder in onguns by die ATR kan bring. Die slegte gewoonte bestaan by Carstens, Beukes en Steenkamp om na Afrikaans as vroulik te verwys. Dit is niks anders nie as ‘n knieval voor feminisme, ‘n mode-foefie wat uiting in foutiewe Afrikaans vind. Wat klaarblyklik nodig is, is die afswering van politieke korrektheid.

Die tydperk sedert 2008 is deur die agteruitgang van Afrikaans gekenmerk. As die ATR in sy tweede dekade groter sukses wil behaal, sal hy grondig hervorm moet word. Hy sal ingevolge sy bogenoemde item 4.6 sy taalstrategie drasties moet aanpas. As hy dit nie doen nie, sal hy met ‘n ander liggaam wat Afrikaans doeltreffender dien, vervang moet word; iets soos ‘n Herstigte Afrikaanse Taalraad.

– Johannes Comestor

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.
  • Vicky

    Afrikaans sal slegs aanhou bestaan as die Boervolk wegbreek van die nuwe Suid Afrika.

    • Ou Transvaal

      HOOR-HOOR!!
      Dit is onstuutbaar oppad .

  • Flip Kriel

    Suid Afrikaanse Taalraad sou ‘n meer gepaste naam kon gewees het maar omdat die ATR hopeloos onbevoeg is om enige inheemse taal te bevorder, moet ons maar liewer praat van ‘n Kaapse Taalraad en dit voortaan ignoreer.

    • Ou Transvaal

      KOLSKOOT!!

  • Antonie Geyser

    wel die ATR is n ‘misnomer’; omdat dit (afrikaanse taal) nie hul doel is om op te bou nie, hulle doel is om af te breek en te transformeer na die meerderheid

  • Suidpunt

    Dierbare Johannes Comestor

    Baie dankie vir jou boodskap. Ek reageer graag op net die een paragraaf wat jy geskryf het:

    “My beswaar is teen Afrikaans wat met Engels gestrem word en onder die vaandel van bv Kaaps by sommige bruin mense aangetref word, asook die soort Afrikaans wat toenemend met Engels oorlaai word en by sommige blankes aangetref word. Ooreenkomstig die mode-politiek boer die ATR met kwantiteit terwyl ‘n kragtige kwalitatiewe teenoffensief noodsaaklik is.”

    Ek wil nou nie voorbarig wees nie, maar … as ek voor (of is dit nou agter?) die rekenaar inskuif, is my wêreld skielik in vyf tale. Die SAUK bestaan nie, my ouers se DStv bestaan nie. Nog minder die powere Engels van Parliamentary TV wat as “South African English” regverdig word (wat die moedertaalsprekers daarvan in die gesig vat). Trouens, ek luister dan nie eers RSG nie: want alle radio’s van Europa wink my met ‘n vonkel in die oog, van Nederland, België, ja, asook die New Age Musiekkanaal in Duitsland waar ek saam met die dolfyne kan swem. Ja, selfs Japannese Radio is daar. Laat staan nog al die wonderlike Duitse reekse op YouTube. Ek koop hoor- of luisterboeke op Google Play en verluister my hoe die Duitsers Franse leenwoorde op Frans uitspreek: Nonchalant word “nonsjelô” uitgespreek, nie “nonsjalant” soos my Afrikaanse taalonnie my skoolvosserig probeer wysmaak het nie. Ek luister na die “musical chairs” van Louane se Avenir en Jour 1. En ek voel asof ek sweef in ‘n kosmopolitiese heelal wat aan my behoort. Ek het verstandelik reeds “weggebreek” van die nuwe Suid-Afrika.

    Volgens ” https://w3techs.com/technologies/overview/content_language/all ” toon Engels se aandeel in die internetinhoud reeds ‘n afwaartse kurwe soos meer mense van dwarsoor die wêreld hulle stempeltjie begin afdruk in hul taal. So moet ons ook. Dus word die drang by my veel meer om nog meer tale te leer om myself te help nog nuwer sterre en planete binne hierdie heelal te verken.

    My lewe het heeltemal virtueel geword, en sweef, amper soos by buiteliggaamlike ervarings buite die fisiese. Dit sweef tussen lande, tale, streke, mense.

    Dis eers as jy jou rekenaar afsit en selfoon afskakel dat jy dink: arme drommels van Suid-Afrika wat dit nie het nie. Gelukkig het ons darem nog antikwariate, hospieswinkels en biblioteke. Iemand het op ‘n kol gesê nasionaliteite is maar net soos plase – die stalle verskil, die hooi verskil, die boere verskil – maar elkeen raak te gewoond aan die hooi en slaapplek wat hy het.

    Kan jy jou vir een oomblik in hierdie sterrestelsel van verskille die absolute nietigheid van die dwingelandy van die ATR voorstel?

    Die hoeveelheid adresse wat aan Naspers of hierdie organisasies behoort maak nie eens ‘n korreltjie in die Internetheelal uit nie. Gaan jy jou werklik steur aan een enkele Afrikaanse koerant op die draadrak waar jy brood koop? Nee! As ek nie om preutsheidredes keer nie, gaan my taal voortaan wemel met Hollandismes/Batavismes (verhollandsings), Gallisismes (verfransings), Latinismes (verlatynsings), Germanismes (verduitsings) en al sulke bisnis (jip, Anglisisme, ek bedoel – verengelsing). Die een Europese taalinvloed skakel die ander uit: hoeveel mense gebruik nou heel onskuldig al “been” (leg) as hulle na ‘n insek se “poot” verwys? Skat, jy ly aan die Engelse siekte. Gaan spreek ‘n Franse dokter. Sien, daar help Frans jou klaar weer reg met “patte”, wat na die poot van sowel soogdiere, voëls as insekte kan verwys – net soos in suiwer korrekte Afrikaans. Toe nou, jy wil my tog seker nie vergelyk met die TV-akteurs en aktrises nie? Nee, maak soos Gustav Venter geskryf het: sit die ding af. Maak soos Dan Roodt destyds geskryf het: gaan laai jou TV in die plakkerskamp af.

    Juis deurdat jy ander kulture leer ken (en met mekaar vergelyk, afspeel, vry in die bondel), besef jy watter kosbare kleinood jou eie is en hoe jy hom kan uitbou.

    Wat my betref: die impak van sulke Afrikaanse rade, toekennings, LitNet of enige Afrikaanse mediabaas (wat sweerlik seker 99,999999% Duitsers en Britte en veral Franse nie van gehoor het nie) het op my Internetbydraes, soos Goodreads, WikiWoordeboek, “Intensiewe vorme”, ens. is NUL. Hoe gouer die lot besef ons is nie verleë oor hulle nie, hoe beter.

    • 11petrus2

      Kosbaar Mnr/Juf., baie kosbaar geskryf!

  • Johanw

    Die rol en (dis)funksie van die ATR skeel my min. Die groeiende gebruik van mengeltaal deur Afrikaners is egter groot rede tot kommer. Stem saam met Vicky. Afrikaans sal weer herstel wanneer weggebreek word na ‘n Volkstaat.