Karel Combrinck: Die edel barbaar

‘n Eeue oue twisgeskil tussen filosowe, politici, sielkundiges en opvoedkundiges is dié rondom die vraag of die mens die produk is van ingebore, oorerflike faktore (nature in Engels) of van omgewingsfaktore waaronder veral sy opvoeding (nurture).

Hierdie gesprek het veral gedurende die sewentiende eeu skerp in fokus gekom met die magistrale debat tussen die Franse filosoof René Descartes en die Engelse filosoof John locke. Ietwat vereenvoudig, kom Descartes se betoog neer op die siening dat die mens gebore word met ‘n godgegewe natuur wat sy talente, intelligensie en gedrag in die algemeen bepaal. Daarenteen gebruik John Locke die begrip Tabula Rasa – oftewel, skoon bladsy – wat beteken dat menslike eienskappe, talent en intelligensie, alles wat hy is en weet, aangeleer word.

Hierdie uiteenlopende standpunte kom tot vandag teen mekaar te staan en selfs die moderne wetenskap het die saak nog nie finaal na die een of ander kant uitgemaak nie. Die moderne siening van sielkundiges, ens. is dat die eienskappe van ‘n bepaalde mens waarskynlik die resultaat is van beide ingebore faktore en omgewingsfaktore gesamentlik en dat albei ‘n ongeveer gelyke rol speel om sy geestelike en liggaamlike eienskappe te bepaal. ‘n Kompromie dus en soos alle kompromieë bevredig dit niemand heeltemal nie.

‘n Eksentrieke variasie op die tema is die hoogs idealistiese standpunt van die Frans-Switserse skrywer, Jean-Jacques Rousseau, dat alle mense goed en gelyk gebore word, maar deur die samelewing sleg gemaak word, ‘n doktrine wat die politieke en ideologiese gesprek oor die afgelope 250 jaar reeds vergiftig. Kragtens ‘n soort verwronge logika glo Rousseau wel in ‘n bepalende rol vir oorerflikheid, maar hy glo dat oorerflikheid bepaal dat almal van geboorte goed en gelyk is. Ironies genoeg erken Rousseau tog ook dat die edel barbaar, hoewel goed gebore, deur opvoeding beter gemaak kan word. “Maak die landsburger ‘n goeie mens deur opvoeding en alles sal daaruit voortspruit,” was sy leuse, wat natuurlik reëlreg teenstrydig is met sy siening dat almal reeds goed gebore word.

Jean-Jacques Rousseau het ‘n reusagtige invloed uitgeoefen op politieke denke oor die eeue. Die ideologie van gelykheid wat vandag tot versadiging toe aan ons opgedring word, is grootliks aan hom toe te skryf en die denkbeelde wat uitgeloop het op die Franse rewolusie, die marxisme en die politieke en ekonomiese stelsel wat in die Sowjetunie gegeld het, is ook reëlreg van hom afkomstig. Dit alles te danke of te wyte daaraan dat hy self haas geen formele opvoeding gehad het nie.

Dit is moeilik uit te maak wie of wat Rousseau presies met die uitdrukking “edel barbaar” in gedagte gehad het. ‘n Gekultiveerde, beskaafde Europeër kon dit tog nie wees nie. Duidelik is dat hy die een of ander soort primitiewe menslike wese in gedagte gehad het en daar kan kwalik weggekom word van die agterdog dat die menslike wese wat hy bedoel het, swart was. In elk geval is dit onwaarskynlik dat Rousseau ooit ‘n swarte in sy lewe gesien het en die “edel barbaar” waarvan hy praat, is noodwendig ‘n soort geïdealiseerde abstraksie wat met die werklikheid weinig te make het.

Die ideologiese verskille in die wêreld van vandag hang uitdruklik of by implikasie nou saam met die wyse waarop met die begrippe oorerflik en aangeleer omgegaan word. So sal konserwatiewes oorwegend die siening huldig dat aangebore en oorerflike faktore die dominante rol speel in die bepaling van ‘n mens se persoonlikheidseienskappe, terwyl liberale weer meesal die siening handhaaf dat omgewingsfaktore, waaronder veral opvoeding, deurslaggewend is.

Vir die moderne liberalisme is die edel barbaar wel deeglik swart en alles moet daarop gerig word om deur “gelyke” opvoeding van hom ‘n sukses te maak. Waarom dit nodig is om ‘n spesiale poging aan te wend om die swarte te bevorder, word meesal nie gesê nie. Waarskynlik word die spesiale poging nodig gemaak deur die feit dat hulle op die een of ander manier deur wittes “benadeel” is. Die verklaring vir die agterstand van swartes is dus nie hulle eie, aangebore natuur nie, maar die verantwoordelikheid van wittes wat hulle “onderdruk” het. Vir die moderne liberalis is alles wat swart is noodwendig edel.

Die liberale siening, as ons dit gerieflikheidshalwe so kan noem, gaan so ver om aan te voer dat ‘n mens van ‘n persoon wat met ‘n beperkte intellektuele vermoë gebore is, of wat van geboorte misdadige tendense openbaar, ‘n intellektueel ontwikkelde of ‘n wetsgehoorsame en nuttige burger kan maak bloot deur aan hom “gelyke geleenthede” te gee om hom te ontwikkel. Dit lê ook ten gronde van die siening dat ‘n mens van ‘n swarte ‘n soorte witte met ‘n swart vel kan maak deur hom in ‘n “goeie” (wit) skool te laat opvoed. Al wat in sy pad staan om ‘n voortreflike ingenieur, kernfisikus of neurosjirurg te word, is ‘n “gelyke geleentheid”. Daar word natuurlik veronderstel dat die sg gelyke opvoeding deur iemand anders verskaf moet word aangesien sy eie kultuur nie daarvoor voorsiening maak nie.

Miskien is die beste middel wat ons het om te kan beslis oor die korrektheid van die bogenoemde uiteenlopende sienswyses bloot ons eie gesonde verstand en objektiewe waarneming van die wêreld rondom ons. In Suid-Afrika het ons die afgelope maande totale wanorde, ontwrigting, en geweldpleging aan instellings van hoër opvoeding. Hier by uitstek het swart studente die geleentheid tot “gelyke” opvoeding wat dan hopelik sou uitloop op gelyke prestasie. Maar in teenstelling daarmee het ons brandstigting, vandalisme en alle vorme barbarisme, gepleeg deur mense wat nie in staat is om van die gelyke geleenthede wat hulle op ‘n skinkbord kry, gebruik te maak nie en wat hulle in hierdie atmosfeer van gevorderde studie net nie tuis voel nie. In stede daarvan om die geleentheid tot opvoeding aan te gryp, probeer hulle om die opvoeding te manipuleer om by hulle eie beperkte vermoëns en kulturele armoede aan te pas onder dekmantel van “dekolonisering”, ens. van die onderwysstelsel. Met ander woorde, hulle wil die onderwysstelsel, leerplanne en someer wysig om aan te pas by hulle aangebore vermoëns wat net nie vir ‘n sukses in ‘n intellektuele omgewing opgewasse is nie.

Uit Leon Lemmer se jongste artikel oor die botsing van beskawings van 5 Nov., kan aangehaal word die volgende hoogs gepaste opmerking in hierdie verband :

The intellectual substance of Western civilization is nothing other than the highest level of knowledge attained anywhere on earth, in virtually every aspect of every field, and if the purpose of education is to impart knowledge, then its purpose is to impart Western civilization.

As hulle dit maar kon verstaan.

Indien swartes oor die eeue weerhou is van opvoeding en verstandelike ontwikkeling, het dit met kolonisering, wat eintlik maar ‘n relatief onlangse fenomeen is, niks te make nie. Daar was tog geen universiteite in Afrika voordat daar van kolonialisme sprake was nie. Sedertdien is dosyne universiteite wel deur die “kolonialiste ” tot stand gebring. Die werklike rede vir swart agterstand is nie onderdrukking deur koloniale heersers nie, soos linksliberales hulle so knaend wysmaak, maar die feit dat hulle self nie die opvoedingsgeleenthede geskep het wat van hulle “beter mense” kon gemaak het nie en die opvoedingsgeleenthede het hulle nie geskep nie omdat hulle nie ‘n inherente behoefte daaraan het nie.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.