Levubu-boere ruk op na plaasmoordenaar-verdagtes se verskyning

Deel op

Drie swart verdagtes wat na bewering ‘n boer van Levubu in Limpopo wreedaardig vermoor het, verskyn vandag in die periodieke hof buite Thohoyandou.

Die drie, onder wie ‘n plaaswerker, het die 60-jarige Hennie Bonnema verlede maand ingewag en doodgesteek. Daar is kort ná die voorval bevestig dat niks gesteel is uit die huis nie.

Na verwagting sal groot getalle belangstellendes weer die hofsaak bywoon. Boere in die omgewing het reeds ‘n beroep gedoen op die Nasionale Vervolgingsgesag om nie borg aan die drie toe te staan nie: “Ons soek nie misdadigers in ons gemeenskap nie.”

Die vermeende swart plaasaanvallers het Maandag vlugtig in die Vuwani Landdroshof verskyn en boere van die omgewing het Maandag opgedaag om hul solidariteit met die Bonnema-familie te wys.

Walter Maringa (24), Mudau Sylvester Takalani (31) en Khodani Tshishonga (33) is Vrydag deur die Levubu-polisie aangekeer. Volgens polisiewoordvoerder is die booswigte naby Mashau aangekeer. Die woongebied is nie ver van Bonnema se plaas, Beaufort F10, in Levubu nie.

Bonnema se bebloede lyk is twee weke gelede deur sy seun, Hendrik, buite sy plaashuis gevind. Hy is met sy terugkeer van ‘n besoek vermoedelik voorgelê en doodgesteek.

Sy aanvallers het Hennie klaarblyklik by sy hek ingewag, sy bakkie se sleutels gegryp en hom vermoedelik van die hek af huis toe gesleep.

Hendrik en sy broer, Pieter, was albei Maandag by die hof teenwoordig vir Maringa en sy twee medebeskuldigdes se eerste verskyning. Hendrik het bevestig dat een van die verdagtes voorheen vir hulle gewerk het.

Daar is nog steeds geen duidelikheid oor die motief vir sy pa se moord nie, het een van die seuns gesê.

Soutpansberg Distrikslandbou-unie (SDLU) het die nuus van die drie se inhegtenisname verwelkom.

“Sy [Hennie se] lewe is geneem op ‘n koelbloedige wyse deur gewetenlose kriminele wat wou kom vat wat nie aan hulle behoort nie. Hulle het ‘n familie van ‘n pa beroof en ‘n groot span werkers ‘n werkgewer ontneem wat vir baie jare net goed was vir hulle,” het Stephen Hoffman, voorsitter van die SDLU, aan die Zoutpansberger gesê.

Die voorsitter van die Levubu Boerevereniging, Fanie Havinga, het Hoffman se woorde beaam: “Ons [het] ‘n leierboer verloor. Hennie was saggeaard en ‘n persoon op wie se ondersteuning daar te alle tye gereken kon word. Hy was geliefd in sy gemeenskap,” het Fanie aan die koerant gesê.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.