Weerligstraal laat bome ontplof

Deel op

‘n Massiewe weerligstraal, wat Olive Hill in die noorde van Bloemfontein Saterdagaand getref het, het ‘n yslike spoor van verwoesting gesaai.

‘n Inwoner, Jeremy O’Kennedy, het aan OFM-nuus gesê die oorverdowende slag is net na 22:00 gehoor.

By nadere ondersoek het hy gesien dat drie volgroeide bloekombome op die plot langs syne, totaal en al vernietig is. Hy sê daar is niks van die drie bome, wat by die honderd jaar oud was, oor nie.

Die bome het as’t ware ‘ontplof’ en stukke daarvan het soos missiele in alle rigtings gespat en in ‘n radius van 80 meter grootskaalse skade aangerig. Verskeie huise en buitegeboue se mure is beskadig, gate is uit heinings geruk, en tot 400 teëls van net een huis se dak is tot niet.

O’Kennedy sê twee betonversterkte mure, naby die bome, is getref en stukke van dié mure het met verbysterende spoed rondgevlieg en nog verdere skade veroorsaak.

Inwoners in die omgewing berig dat die pad van verwoesting tot so ver as 2,5km van die aanvanklike impak sigbaar is.

Niemand is sover bekend in die voorval beseer nie.

Bome kan ontplof wanneer hulle deur weerlig getref word omdat die sterk elektriese stroom die water onder die bas verhit en kook. Die druk van die stoom kan die stam laat bars.

In Australië, die bloekom se tuiste, ontplof bome tydens brande en is ‘n risiko vir brandslaners.

Australiese inheemse bloekombome is bekend daarvoor dat hulle tydens veldbrande ontplof danksy die hoë ontvlambaarheid van Eucalyptus-olie wat die bome produseer.

Nie alleen weerlig en hitte kan bome laat ontplof nie, maar koue kan ook. Bome ontplof deur die bevriesing van die sap, want omdat dit water is wat uitsit as dit vries, word ‘n geluid soos ‘n geweerskoot gehoor as die bas van die stam afspring. Dit kom in lande soos Kanada voor.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.