‘n Speelgoed- en ‘n gaspistool is in ‘n rooftog by ‘n klerewinkel in Thaba Nchu buite Bloemfontein gebruik.
‘n Polisiewoordvoerder, Martin Xuma, sê drie mans het die winkel omstreeks 08:30 binnegestorm. Hulle het mense wat in die winkel was beveel om plat op die vloer te lê.
Xuma sê die rowers het geld uit ‘n kasregister en ‘n kluis in die winkel en 13 selfone gebuit. Hulle het met ‘n blou Volkswagen Golf op die vlug geslaan. Niemand is in die voorval beseer nie.
Polisiebeamptes wat toevallig die sentrale besigheidsgebied in Thaba Nchu gepatrolleer het, het die wegkommotor agterna gesit. Xuma sê die motor het later stilgehou en vier mans het uitgespring.
Een van die verdagtes, ‘n 28-jarige man wat die motor bestuur het, is op die toneel aangekeer.
Xuma sê ‘n 24-jarige verdagte is by ‘n nabygeleë huis in hegtenis geneem. Daar is op ‘n onbekende bedrag geld, die selfone asook die speelgoed- en gaspistole beslag gelê. Die motor wat die rowers gebruik het om mee te vlug, is ook gekonfiskeer.
Xuma sê die polisie soek steeds na twee ander rowers in verband met die voorval. Die verdagte sal binnekort in die plaaslike landdroshof verskyn.
Bron: OFM