DA-burgemeester van Pretoria roskam sy vandaalvennote in EFF

Die EFF betoog by die Uniegebou op 2 November 2016

Die DA-burgemeester van die groter Pretoria-munisipaliteit, bekend as Tshwane, het sy EFF-vennote in die stadsraad so effens geroskam nadat Julius Malema se party Woensdag tydens ‘n betoging die stad op horings geneem het deur winkels te plunder, asook vandalisme, intimidasie en geweld te pleeg.

Burgemeester Solly Msimang het gister die wanorde wat sy koalisievennoot in die stad gesaai het, gekritiseer. Volgens hom het die toestemming wat die EFF vir sy optog van die metropolisie ontvang het ‘n bepaalde roete en riglyne ingesluit wat alles deur die Effers geïgnoreer is.

Die EFF het slegs toestemming gehad om vanaf Kerkplein tot by die Pretoriase Landdroshof te stap maar verskeie groepe Effers het deur die hele stad geloop en by die Uniegebou geëindig waar hulle met die polisie slaags geraak het toe hulle dié wou binnedring.

“Toe ons hul versoek vir ‘n optog goedgekeur het, was daar riglyne oor waarheen hulle kon stap en wat toelaatbaar was en wat nie. Ons keur af wat gebeur het en ons gaan die saak met die organisasie se betrokke leierskap opneem,” het Solly gesê.

Volgens die burgemeester “grens” die gebeure aan “onwettigheid” en gaan hy daarom voorstel dat die stadsraad se regulasies en beleide “versterk” word sodat organisasies of individue verantwoordelik gehou kan word indien skade berokken word weens ‘n optog of betoging wat in hul naam plaasvind.

“Dit is iets wat ons na die raad toe kan neem en kan probeer om bywette te versterk, om hulle meer tande te gee om teen mense op te tree wat aan dié tipe dinge deelneem,” het hy gesê.

Ná die skoonmaakoperasie wat gister in die stad plaasgevind het, het Msimang verklaar dat die beraamde skade wat die EFF-optog veroorsaak het tot miljoene rande beloop en dat hulpbronne van die stad se ander funksies weggeneem moes word om die gemors op te ruim.

Die waarnemende polisiekommissaris, luitenant-generaal Khomotso Phahlane, sê dat 28 mense in hegtenis geneem is en meer arrestasies mag volg aangesien 35 gevalle van saakbeskadiging, openbare geweld, inbraak en aanranding ondersoek word. Volgens hom is twee polisiebeamptes beseer, terwyl een, ‘n kaptein, chirurgiese behandeling moes ontvang nadat hy met ‘n bottel in die gesig geslaan is.

“Hierdie ongelukkige voorvalle, wat tot beserings onder lede van die diens gelei het, is betreurenswaardig en moet deur ons almal verwerp word,” het hy gesê.

Die EFF het tot dusver geen kommentaar gelewer nie.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.