‘Dis verskriklik’: Gaye Derby-Lewis oor Clive se dood

Clive Derby-Lewis
Clive Derby-Lewis op 'n jonger stadium in sy lewe
Deel op

Die politikus Clive Derby-Lewis wat deur die WVK amnestie geweier is vir sy aandeel in die sluipmoord op Chris Hani, is vroeër vandag in die Eugène Marais-hospitaal oorlede. Mev. Gaye Derby-Lewis het sy dood as “verskriklik” en “onverwags” beskryf.

Mnr. Derby-Lewis is vir asemhalingsprobleme in die hospitaal opgeneem, waar hy oorlede is. Terwyl hy in die gevangenis was, het hy onder meer ‘n aanval met ‘n bottelskerf wat sy long binnegedring het, oorleef.

Reëlings vir sy begrafnis word tans getref, volgens mev. Derby-Lewis.

Volgens inligting vanaf die Afrikaanse Wikipedia, was Derby-Lewis, wat in Kaapstad gebore is, ‘n Afrikaner van Duitse en Skotse afkoms. Hy het in Kimberley grootgeword en sy opleiding aan die destydse Christian Brothers-kollege ontvang. Hy het sy klerkskap as ‘n geoktrooieerde rekenmeester voltooi en by ‘n rekeningkundige sowel as ‘n olie-maatskappy gewerk. Hy was ook ‘n buitengewone leraar van die Holy Communion at Blessed Sacrament Church in Johannesburg voordat hy die Katolieke Kerk in die vroeë 1980’s verlaat het. Hy het later by die Afrikaanse Protestantse Kerk aangesluit.

Derby-Lewis is saam met Janusz Waluś skuldig bevind aan die sluipmoord op die kommunistiese terroris, Chris Hani, wat in 1993 plaasgevind het. Hulle is albei ter dood veroordeel, welke straf later tot lewenslange tronkstraf versag is.

Derby-Lewis is in 2008 vir gewone parool en daarna vir mediese parool aanbeveel, maar die owerhede het volstrek geweier om dit uit te voer. Derby-Lewis het die hof herhaaldelik genader om die onregmatige weiering van sy parool te betwis. Op 29 Mei 2015 het regter Selby Baqwa beveel dat die gevangenisdiens, die Minister van Korrektiewe dienste, en die Mediese paroolraad Derby-Lewis se paroolvoorwaardes teen 5 Junie moet vasstel. Die staat is ook gelas om sy regskoste te betaal.

Hy het negentien jaar as ‘n vrywilliger in die Suid-Afrikaanse Burgermag gedien en was die jongste bevelvoerder van die Witwatersrand se Rifles Regiment. Hy het later die John Chard-medalje vir lang en voortreflike diens ontvang.

Derby-Lewis het by die Nasionale Party aangesluit en was ‘n stadsraadslid vir Bedfordview (1972–1977), die onderburgemeester (1973–1974) en uiteindelik die burgemeester (1974–1975), asook ‘n vryman van Johannesburg se mini-stadsraad. Hy het Edenvale in die Transvaalse Provinsiale Raad (1972–1981) verteenwoordig, waar hy vir ‘n paar jaar as die Nasionale Party se woordvoerder vir onderwys en hospitaaldienste opgetree het. Hy dien ook op die direksies van verskeie ander liggame, insluitend hospitale, laer- en hoërskole, asook ‘n skool vir fisies gestremde kinders.

Hy was ook ‘n lid van die hoofbestuur van die voormalige Konserwatiewe Party.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.