‘Staatskaping’ sirkus reis na Pretoria

Deel op

President Jacob Zuma se regspan voer vanoggend in die hooggeregshof aan waarom die Openbare Beskermer se verslag oor “staatskaping” nie vrygestel moet word nie.

Die hele oefening is ‘n klug aangesien die staat lankal reeds deur buitelandse belange gekaap is wat nou onder mekaar baklei dat die vere waai.

Die EFF, wat intussen univeristeite probeer afbrand, word voorgehou as ‘n legitieme stem in die kwessie. Die OB se dogter is lid van die party wat onafgebroke openbare geweld pleeg in en om kampusse.

Na verwagting sal advokaat Althea Platt aanvoer dat Zuma nie genoegsame geleentheid gehad het om op vrae te reageer wat deur die voormalige Openbare Beskermer, Thuli Madonsela, aan hom gestel is oor sy bande met die Gupta-familie nie.

Sy sal ook aanvoer dat Zuma nie tyd gekry het om te reageer voor die verslag gefinaliseer is nie. ‘n Volbank regters het gister beslis dat die DA, die EFF, Cope en die UDM, sowel as die ANC-veteraan Vytjie Mentor, toegelaat word om tot die saak toe te tree.

Hulle sal na verwagting aanvoer dat die onverwylde vrystelling van die verslag in nasionale belang is.

‘n Soortgelyke aansoek deur die minister van Minerale Hulpbronne, Mosebenzi Zwane om die verslag van die Openbare Beskermer te keer, sal aanstaande week aangehoor word.

Zwane se regsverteenwoordiger het gister gesê hy sal eers Dinsdag gereed wees vir die aansoek. Die minster van Samewerkende Regering, Des van Rooyen se dringende aansoek is gister van die rol geskrap nadat die hof bevind het dat dit nie dringend is nie.

Daar is ‘n groot polisieteenwoordigheid in die Pretoria middestad waar ‘n optog teen “staatskaping” later vanoggend begin.

Lede van die EFF is reeds besig om byeen te kom vir hulle protesoptrede.

Die EFF eis dat President Jacob Zuma bedank en dat die Openbare Beskermer se verslag oor “staatskaping” bekendgemaak word.

Honderde EFF ondersteuners het ook ‘n nagwaak op Kerkplein bygewoon.

Die Red Suid-Afrika-veldtog het ook bevestig dat sy optrede teen staatskaping voortgaan. Die byeenkoms begin by die St Albans-katedraal, naby die landdroshof waar minister Pravin Gordhan in die hof sou verskyn.

Die organiseerders sê hulle vier die reusebydrae wat die veldtog gelewer het om pogings te verhinder om die Tesourie te “kaap”, maar sê ook dat die stryd nie verby is nie.

Hulle sê die stryd teen “staatskaping” sal verskerp word. Die geleentheid sal na verwagting bygewoon word deur verteenwoordigers van burgerlike organisasies, vakbonde, kerkleiers en sakelui.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.