Motors: Sportnutsoorlog

Die Chevrolet Captiva

Kan die gevestigde rolspelers die nuwe aankomeling in die mark teëstaan of gaan dit ‘n kwessie wees van: almal hou by wat hul ken?

Met sedanmotors wat regoor die spektrum in byna alle markte dwarsdeur die wêreld wegkrimp ten gunste van die sportnutsvoertuig is die mededinging in hierdie segment nou strawwer as ooit tevore. ‘n Nuwe rolspeler soos Renault met hul vreemde uitheemse Kadjar begeer nou ook ‘n deel van die koek. Gevestigde motors soos die Chevrolet Captiva en Hyundai Tucson sal onderskeidelik moet bontstaan om mededingend te bly.

Voorkoms

Mense skakel oor na sportnutsvoertuie om verskeie redes, waarvan seker die belangrkste die feit is dat dié tipe voertuig baie meer gebruiksvriendelik as ‘n sedan of selfs ‘n luikrug is. Die moderne sportnutsvoertuig is gewoonlik hoër op sy wiele, wat rondomsig makliker maak en daar is ‘n vyfde deur wat groot oopmaak om allerhande goeters te kan laai; sitplekke vou plat sodat al daardie items vervoer kan word.

Die Renault Kadjar van die kant af
Die Renault Kadjar van die kant af
Die Hyundai Tucson van die kant af
Die Hyundai Tucson van die kant af

Tussen die drie voertuie wat ons gery het, was die Renault Kadjar die vroulike een onder die drie met sagte, stylvolle lyne wat meer herinner aan iemand wat die estetika van die motor hoër as die funksionaliteit ag. Die Captiva is beslis die manlikste ontwerp hier met doelgerigte, byna harde lyne en hoeke, iets wat die gesinsman onderstreep. Die Tucson is nie lelik nie, maar hy is ook nie vreeslik mooi nie en sekere lyne en hoeke val vreemd op die oog. Die motor het meer ‘n sportiewe voorkoms as manlik of vroulik. Waar die Kadjar ‘n besliste Minki is en die die Captiva ‘n defnatiewe Bobby, sal die Tucson meer ‘n Caster wees as een van die ander twee.

Nie een van die drie lyk onvanpas nie, maar te oordeel aan die buitelyne gaan elkeen ‘n besliste koper lok.

Binneruim

Binneruim van die Tucson
Binneruim van die Tucson

Met die motors wat deesdae werklik eerder deur gehalte as voorkoms onderskei word, kan ons onomwonde sê dat die Tucson se binneruim die beste aanmekaargesit is. Die motor het ‘n meer primagevoel binne as die ander twee, alle tasbare stowwe is sag en onbeskaamd daarop gemik om die insittendes gemaklik te hou.

Binneruim van die Kadjar
Binneruim van die Kadjar

Die Renault se afwerking en gehalte is ook bogemiddeld, veral gegewe dat die Franse nie die beste reputasie vir gehaltebinneruime opgebou het nie. Daar is sommige oppervlaktes wat te veel blink en te hard voorkom maar oor die algemeen is die Kadjar ‘n baie aangename plek om jou te bevind.

Binneruim van die Captiva
Binneruim van die Captiva

Die Captiva, daarenteen, begin werklik sy ouderdom wys en alhoewel die motor baie onlangs ‘n ontrimpeling ondergaan het, voel dit net asof die hele binneruim ‘n generasie agter die ander twee verkeer. Wat ruimte aanbetref, is die Captiva beslis die grootste met sewe sitplekke waar die ander twee slegs vyf sitplekke het. Die Captiva is ook presies 20cm langer as die ander twee. Sagte kunsleersitplekke in beide die Kadjar en die Hyundai wek ook ‘n meer primagevoel as die Captiva se veloerdoekstofsitplekke. Al drie se binneruime is in swart getooi wat dit baie generies maak en ons dink werklik vervaardigers kan bietjie meer skeppende vermoë aan die dag lê met kleure in die binneruime.

Enjin

Die Kadjar se instrumentepaneel
Die Kadjar se instrumentepaneel

Ons toetsmotors was ‘n mengsel van petrol- en dieselweergawes, maar soos met die Motor van die Jaarwedstryd word die motorreekse beoordeel en nie die spesifieke model in die reeks nie. Al drie motors is verkrygbaar met ‘n keuse van diesel- sowel as petrolenjins, die Kadjar wat ons bestuur het was toegerus met ‘n 1,5-turbodieseleenheid wat 81 Kw en 260 NM se wringkrag ontwikkel. Daar is ‘n 96 Kw-dieselweergawe beskibaar, maar slegs in allewielaandrywing.

Die Captiva se instrumentepaneel
Die Captiva se instrumentepaneel

Die Captiva maak gebruik van ‘n groot viersilinderenjin met ‘n verplasing van 2,4 liter. Daar is wel ‘n 2,2-literdieselweergawe beskikbaar. Die 2,4-petrolweergawe wat ons bestuur het, ontwikkel 123 Kw en 230 Nm se wringkrag. Hierdie enjin laat die 2354-kg-Captiva baie ligter op sy bande voel en die middelbandwringkrag laat die motor maklik selfs teen opdraandes verbysteek.

Die Tucson se instrumentepaneel
Die Tucson se instrumentepaneel

Die Tucson is egter met ‘n 1,6-liter-turbopetroleenheid toegerus. Die enjin voel wakker en trek soos ‘n stoomtrein. Agter die stuur voel die Tucson baie meer kragtig as enige van die ander twee en met 130 Kw en 265 NM se wringkrag is hy ook die kragtigste van ons drie toetsmotors.

Die4 Kadjar van agter
Die4 Kadjar van agter
Die Captiva van agter
Die Captiva van agter
Die Tucson van agter
Die Tucson van agter

Wat brandstofverbruik aanbetref, gee Chev die Captiva se syfers aan as 8,8l/100km wat eintlik baie goed is, gegewe die grootte en gewig van die motor. Hyundai se syfers van 8,3l/100 vir die turboaangedrewe 1,6-liter is eintlik baie optimisties want ons kon onder normale omstandighede niks beter as 8,8 l/100km aanteken nie. Dit is eintlik ‘n bietjie teleurstellend aangesien die kleiner enjin met ‘n turboaanjaer veronderstel is om minder brandstof as die groter 2,4-enjin van die Captiva te gebruik. Die Kadjar is uit die aard van die saak die ligste omdat hy deur ‘n dieselmeuletjie aangedryf word. Renault se syfer van 4,6 l/100km is ook baie optimisties want ons kon slegs 6,2 l/100km aanteken, maar neem in ag dat die Kadjar ook anderkant die 1,9 ton weeg en die 1,5-dieselenjintjie maar aan die klein kant is, dan lyk die syfers glad nie sleg nie. Uitlaatgasse is onderskeidelik 210g/km vir die Captiva, 169g/km vir die Tucson en slegs 120g/km vir die Kadjar.

Op die pad

Die Captiva beskik oor dagryligte
Die Captiva beskik oor dagryligte

Agter die stuur van die Captiva kom ‘n mens agter die motor is groot en swaar. Die enjin loop glad en die 6-spoedhandratkas is seepglad en sekuur. Die motor is stewig geplant op die pad met minder bakrol in die draaie as wat ek verwag het. Die grootkapasiteitenjin maak verbysteek in byna enige rat werklik maklik. Self as daar 6 ander insittendes in die motor is, kom die Captiva sonder moeite oor die weg.

Die Tucson se laairuim
Die Tucson se laairuim

Die Tucson aan die ander kant voel soos ‘n sportsedan met hope skop onder die enjinkap, maar die motor voel baie vinniger as wat hy werklik is. Dit word toegeskryf aan die turboenjin wat sommer vanuit die staanspoor die pap dik aanmaak. Die Tucson is meer as ‘n sekonde vinniger van rus tot 100km as die Captiva en ‘n hele 3 sekondes vinniger as die Kadjar. Die Tucson voel ook skerp en die stuur is skerp en sekuur. Ratskakelings is seepglad en Hyundai se GDI-enjin voel werklik baie sterker as die gegewe 130 KW.

Die Kadjar se laairuim
Die Kadjar se laairuim

Die Kadjar deel sy 1,5-turbodieselenjin met Nissan se Qashqai asook die Duster maar selfs met slegs 81 KW voel die Kadjar heel lewendig met meer as genoeg krag selfs al is daar n klomp insittendes. Die Kadjar se 1,5-dieselenjin is gekoppel aan ‘n 6-spoedhandratkas en hier is die ratverhoudings redelik kort om die krag na die wiele te kry. Die enjin is werklik stil en jy moet mooi luister om te hoor dié is ‘n dieseleenheid.

Gevolgtrekking

Sou ons enige van die drie met ons eie geld koop? Waarskynlik die Captiva met sy groter binneruim en 7-sitplekuitleg. Die een wat die meeste pret is om te bestuur, is vir seker die Tucson; die voertuig wat die meeste ekonomiese sin maak, is die Kadjar. Hyundai het ‘n baie goeie produk in die Tucson; ons voel net dat hulle die motor te duur in die mark instoot. Met pryse van R370 000 vir die intreevlak-Tucson en R520 000 vir die heel duurste, is dit werklik te veel geld vir enige gewone gesinsman. Ons toetsmotor, die Tucson 1.6 Turbo Executive, verkoop teen R440 000, eina. Waar is die dae toe Hyundai die bekostigbare alternatief was? Die Captiva verkoop teen R402 000 wat ook ‘n hoop geld is, maar die motor is 20cm langer en het twee ekstra sitplekke en op die pad is die Captiva ligter op brandstof as die Tucson en die voorkoms is veiliger. Na ons mening is die wenner van die drie die Renault Kadjar dCi Dynamique. Hy verkoop teen R395 000, is die heel ekonomiesste van die drie en in ons Suid-Afrika met al sy paaie vol gate kom die grondvryhoogte van 200mm handig te pas. Die Tucson is 172mm van die grond af en die Captiva 171mm. Al drie die motors word verkoop met ‘n 5-jaarwaarborg en diensplanne as standaard ingesluit in die prys. Die Kadjar kon werklik net ‘n beter naam gekry het. Wat was fout met die Koloes-naam?

Hyundai Tucson 1.6 Turbo Executive

Prys 2 uit 5
Voorkoms buite 3 uit 5
Binneruimgehalte en afwerking 5 uit 5
Ruimte en praktiese toepassing 4 uit 5
Agter die stuur 5 uit 5
Enjin en ratkas 4 uit 5
Op die pad 5 uit 5
Veiligheid 5 uit 5
Totaal 33 uit 40

Chevrolet Captiva 2,4 LT

Prys 3 uit 5
Voorkoms buite 5 uit 5
Binneruimgehalte en afwerking 4 uit 5
Ruimte en praktiese toepassing 5 uit 5
Agter die stuur 5 uit 5
Enjin en ratkas 4 uit 5
Op die pad 4 uit 5
Veiligheid 5 uit 5
Totaal 35 uit 40

Renault Kadjar dCi Dynamique

Prys 4 uit 5
Voorkoms buite 5 uit 5
Binneruimgehalte en afwerking 4 uit 5
Ruimte en praktiese toepassing 4 uit 5
Agter die stuur 5 uit 5
Enjin en ratkas 5 uit 5
Op die pad 5 uit 5
Veiligheid 5 uit 5
Totaal 37 uit 40

 

 

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.
  • Naand André,
    ek het hierdie rubriek van jou nou baie geniet. So bietjie weg van die modder en eier gooiery van die ou politiek.
    Ek ry tans ‘n Hyundai Tucson CRDI 2006 Aut, model. wat n puik voertuig. 196000km.
    As ek die geleentheid sou kry om ‘n nuwe voertuig te koop, sal dit verseker weer ‘n Tucson wees.
    Ek verstout my om te sê dat hy homself, net soos die Toyota, bewys het. Ek het nog geen Tucson eienaar raakgeloop wat slegpraat van die Tucson nie. Gegroet.

    • Andre

      Ja dankie Andy, die Hyundai produkte het ‘n ver pad gekom om die puik produkte van vandag te wees ja, maar net soos Toyota en BMW het hulle ook buitensporig duur geraak in Suid-Afrika. Elders in die wêreld is Hyundai nog baie bekostigbaar, maar glad nie meer in Suid-Afrika nie.