Teenkanting teen die Internasionale Strafhof het duideliker geword tydens ‘n debat oor die Strafhof se jaarverslag wat in die Verenigde Nasies se Algemene Vergadering gelewer is.
Suid-Afrika het nie aan die debat deelgeneem nie. Die VN-sekretaris-generaal, Ban Ki-Moon het President Jacob Zuma die naweek in ‘n telefoniese gesprek probeer oorreed om die besluit te heroorweeg.
Talle Afrika-lande het hulle tydens die ope debat teen lande in Europa, Asië en Latyns-Amerika uitgespreek, maar ander het hul voortgesette steun toegesê aan die Strafhof.
Sommige lande het ook hul teleurstelling uitgespreek oor Suid-Afrika en ander lande se aankondiging dat hulle hul aan die Statuut van Rome gaan onttrek, terwyl die Strafhof Kenia en Burundi die skerpste veroordeel het.
Maar druk bou vir Afrika-state om die wêreld se enigste permanente oorlogstribunaal te verlaat, maar die hof sê hulle sal voortgaan.
“Selfs as die helfte van die Afrika-lande die hof verlaat, sou dit baie jammer en skadelik vir die konsep van internasionale reg wees, maar dit sal nie die einde van die hof wees nie,” het een IS amptenaar wat anoniem wou bly, aan Reuters nuusagentskap gesê.
“Dit is duidelik die IS nie regverdig is nie,” het die Keniaanse akstivis Ngujiri Wambugu in sy rubriek vir die Jamaica Observer geskryf en gevra waarom die voormalige Amerikaanse president George W. Bush en oud-Britse premier Tony Blair nog nie aangekla is vir die inval in Irak nie.
Uganda se president Yoweri Museveni het die hof beskryf as ‘n “klomp nuttelose mense” by sy inhuldiging in Julie, en is reeds besig om druk toe te pas om met die volgende AU-beraad in Januarie ‘n Afrika-uittog te bewerkstellig.
“Die IS verdien wat nou gebeur,” sê Okello Oryem, Uganda se junior minister van buitelandse sake.
Die mees kommerwekkende vir die IS, is bewerings van rassistiese vooroordeel en “neo-kolonialisme”. Byna elke Afrikaland het ingekoop by dié besware.