Swede sê hulle gaan aanhou om SA se wyne te koop

Deel op

Systembolaget, drankwinkels van die Sweedse staat, het gesê hulle gaan aanhou om wyne uit Suid-Afrika aan te koop ten spyte van ‘n Deense dokumentêre program oor die swak arbeidstoestande op wynplase

“Handel in samehang met duidelike vereistes wat aan produsente gestel word, is die beste manier waarop ons kan bydra tot voordelige ontwikkeling in sulke lande,” het Ida Ingerö, adjunkhoof van kommunikasie van Systembolaget, in ‘n verklaring gesê.

“Niks sal in Suid-Afrika verbeter indien Systembolaget ophou wyn aankoop en arbeiders hul werk kwyt is nie.”

Die program Bitter Grapes – Slavery in the Vineyards deur die Deense joernalis Tom Heinemann is verlede week in Denemarke en Swede vertoon.

Wynboere word daarvan beskuldig dat werkers minder as die minimum loon betaal word, hul basiese regte ontsê word en hulle onwettige afgedank en van plase verwyder word.

‘n Kettingwinkelgroep Dagrofa in Denemarke en Groenland het daarna Suid-Afrikaanse wyne van sy rakke verwyder.

Maar Dagrofa het Maandag gesê dat nie alle Suid-Afrikaanse wyne verwyder is nie, slegs dié van Robertson Winery.

Systembolaget het Woensdag in ’n verklaring gesê die dokumentêre rolprent wat op die openbare kanaal SVT uitgesaai is, bevat verskeie foute.

“Suid-Afrika is ’n land met talle uitdagings en hoë vlakke van armoede. Arbeiders is kwesbaar en Systembolaget probeer hul toestand verbeter.”

Robertson Winery het aan Netwerk24 gesê arbeiders op intreevlak ontvang ’n pakket met koste aan die maatskappy van R4 426 per maand, wat bonusse en gratis mediese dienste uitsluit.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.