Brief: Is universiteite nog relevant?

Die Universiteit van Pretoria tydens een van die tydperke toe dit weens kampusonrus geslote was. Foto: PRAAG

Word die oorlewing van ‘n volk bepaal deur haar vermoë om die status quo te beskerm of haar vermoë om aan te pas na gelang van omstandighede? Ek is oortuig die enigste manier vir ons as volk om te oorleef, is om meer analities en strategies na die wêreld om ons te kyk en vinniger te reageer op veranderinge, terwyl ons vashou aan die kernwaardes van die volk.

Ek sien daagliks hoe ongelukkig ons mense is oor die toestand van universiteite in die land. In ‘n sekere sin is dit vir hulle ondenkbaar dat die lewe kan voortgaan sonder universiteite. Vir dekades lank is ‘n graad by ‘n universiteit beskou as verteenwoordigend van besonderse akademiese prestasie. Die vraag is: het dit nie dalk tyd geword om te gaan kyk of universiteite nog relevant is nie? Is ons nie besig om vas te kyk teen die sentiment van hierdie instellings bloot omdat dit deur ons gebaar is nie?

In die jaar 2000 was ‘n LLB-graad 4 jaar lank en het ek ‘n Nokia-foon gehad met ‘n groen skerm en die prentjies op my sms’e is gemaak met punte, kommas en strepies. Vandag het ons slimfone (wanneer dit nie ontplof nie!) wat omtrent alles kan doen waaraan jy kan dink en ‘n LLB-graad is nog steeds 4 jaar lank. As ons objektief hierna kyk, kan mens nie help om te wonder of universiteite dalk tred verloor het met die spoed waarteen die mensdom ontwikkel nie. Oorskadu die idee van ‘n graad nie dalk ‘n lomp waarheid nie?

Hoeveel van ons het nie op die eerste werksdag gehoor: “Vergeet wat jy geleer het op varsity – hier is hoe dit werk in die regte lewe” nie? Ná drie of vier jaar se studie is soveel mense ontnugter deur die praktyk. Hierdie gaping tussen teorie en praktyk is egter nie ‘n nuwe debat nie, maar die gaping het aansienlik vergroot die laaste paar jaar. Daar is deesdae so ‘n wye verskeidenheid posbeskrywings dat meeste mense nie eers weet wat moet jy gaan studeer om ‘n sekere pos te kry nie. Kortom, stuur ons ons kinders vir drie of vier jaar universiteit toe om teorie te gaan leer wat verouderd gaan wees teen die tyd dat hulle klaar is, om ‘n graad te kry in ‘n rigting wat hulle moontlik nie eers gaan gebruik nie, en dít teen ‘n helse koste!

Digitale media het in ‘n kwessie van ‘n paar jaar die wêreld verander. Mense hoef nie meer te wag vir die koerant om te sien wat is nuus nie. Ons het toegang tot enige en alle inligting wat ons kan ronddra in ons broeksakke. Ons kan kommunikeer met enige iemand op aarde en dit alles gebeur in ‘n kwessie van sekondes. So die waarde van ‘n instelling wat toegang gegee het tot navorsing, teorie, inligting en opinies kan mos onmoontlik dieselfde weeg as wat dit twintig jaar terug gedoen het.

Ons moet egter onderskei tussen die stelling dat universiteite nie meer relevant is nie, in teenstelling met die idee dat kennis, wysheid, opleiding en vaardigheid nie relevant is nie. Laasgenoemde is vandag meer noodsaaklik as in enige ander tyd in die mensdom se geskiedenis. Die uitdaging is om ‘n alternatief te ontwikkel vir opleiding om kennis, wysheid en vaardighede oor te dra aan die individu, maar om dit te doen op ‘n doeltreffende, toepaslike wyse, met ons kultuur se voortbestaan as subteks.

Baie akademiese dissiplines het alreeds groot vordering gemaak om weg te breek van die oordrewe gewig wat ‘n universtiteitsgraad dra en dit is vervang met meer doeltreffende alternatiewe. So ‘n paar dekades terug was Christene beperk tot die paar bekende kerke waar die arme predikant sewe jaar moes studeer voor hy iemand kon begrawe. Vandag sien ons talle suksesvolle kerke waar die predikers of pastore gebruik maak van kursusse of mentorskappe. Baie van die bekende internasionale predikers het geen formele opleiding gehad nie en tog bereik hulle boodskap duisende mense.

Dus, wat die geesteswetenskappe betref, is daar reeds alternatiewe beskikbaar. Bitter min kunstenaars studeer kuns, bitter min musikante studeer musiek en filosowe is werkloos met of sonder ‘n graad. Die uitdaging word aansienlik moeiliker met meer gereguleerde rigtings soos die regte. Een alternatief wat reeds beskikbaar is, is om langafstand-onderrig te ontvang. Ek weet van heelwat mense wat hulle grade gekry het en ‘n voltydse werk gehad het. Dit kan gedoen word.

Ek dink die ideaal is egter om ‘n meer praktyk-gedrewe alternatief daar te stel. Een so ‘n voorbeeld is dat mense in die regsberoep ‘n sentrum op die been bring vir jong mense. So ‘n sentrum moet skakel met die praktyke en studente moet van die eerste dag af betrokke wees by die praktyk. Die model sal baie korter en meer intensief wees as die vierjaargraad wat hulle gedoen het. Stel ‘n streng toelatingsvereiste en maak seker almal voldoen aan die vereiste voor hulle die beroep professioneel kan begin beoefen. In plaas daarvan dat hulle vir vier jaar jol en partytjie hou en nagte om studeer voor eksamens, gaan hulle nou elke dag op hoogte wees van wat aangaan in die beroep. Hulle projekte en take kan geskoei wees op die behoeftes van die betrokke praktyke en sodoende skep hulle waarde vir die aandeelhouers. ‘n Eenvoudige beursmodel kan gebruik word om mense te finansier wat nie kan betaal nie of ‘n lening wat hulle kan afbetaal sodra hulle toegelaat is om te praktiseer.

Hetsy dit regte, medies of enige ander wetenskap is, daar is alternatiewe om meer bedryfsgedrewe opleiding daar te stel. Ek is daarvan oortuig dat daar meer relevante maniere is om jou kind se toekoms te verseker as die huidige universiteite. Universiteite het ‘n plek geword waar duisende mense vir ‘n jaar of drie rondhang teen groot koste met te veel tyd tot hul beskikking terwyl die wêreld in daardie selfde tyd alweer besig is om te verander.

Dit wil voorkom asof universiteite die slagoffers gaan word van politieke, grootliks rasgedrewe standpunte. Die ondoeltreffendheid van die instellings, koste en risiko vir ons jeug watd daaraan verbonde is, word net al groter. Wat ons nodig het, is dat akademici begin koppe bymekaar sit om alternatiewe daar te stel. Die uitdaging bly om erkenning te kry vir die alternatief by ‘n regering wat duidelik sy eie agendas dryf en sy mag op minderheidsgroepe wil afdwing.

Gelukkig is daar baie mense onder ons met universiteitsgrade wat ‘n oplossing vir die probleem sal kan voorstel… of is dit nie relevant nie?

– Vannermerwe

 

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.
  • Johan

    Spesifiek, LLB. Die idee van ‘n sentrum is waardevol. Ek is betrokke by veral die administratiefreg. Is nie toegelaat as prok. of adv. nie. Is wel regsgekwalifiseerd onder die ou bedeling toe Latyn 1 nog ‘n vereiste is.
    Daar is bv. bitter min LLB-studente wat na afstudering ‘n paragraaf kan skryf, aldus prof Venter, voormalige dekaan van die regsfakulteit, Potch. Ek sien dit in talle pleitstukke.
    Die regspan wat nou my hofsake hanteer, moes ek letterlik leer hoe bepaalde wette (handvesregte) inmekaar steek. Vandag, na meer as 30 hofsake, is hulle op pad om bv ‘n baie moeilike saak te hanteer. Die saak kom middel Nov voor.
    Die regte is uiters gespesialiseerd. LLB, behalwe vir jou argumente, wil ek byvoeg, kan nie “bemeester” word soos toe ek nog aan Unisa geswot het nie – veertig jaar terug – was die stelsel al verouderd.
    Die vereiste van ‘n BA-graad as voorvereiste vir LLB-studies was juis om die vermoë om sinvol te kan skryf, konsepte te kan bemeester, ens.
    Die probleemstelling in jou artikel is so relevant. Ek is verbaas dat dit vir die eerste keer hier op Praag verskyn.
    Nagedagte – wat van ‘n Dietse Universiteit met skole wat spesialiseer, nie alleen in die regsberoep nie maar ook ander beroepe.

    • Suidpunt

      Jou kommentaar strook inderdaad met my navorsing by https://af.wikipedia.org/wiki/Latynonderrig . Vele ou beroepsgidse het juis gesê: eers BA, dan eers LLB. Om presies dieselfde rede: “Die vereiste van ‘n BA-graad as voorvereiste vir LLB-studies was juis om
      die vermoë om sinvol te kan skryf, konsepte te kan bemeester, ens.” Ek weet nie of Latyn juis ‘n soort buffer was nie, maar dat jy jou storie moes ken met formulering van bv. testamente, om die saak so duidelik moontlik te stel, sodat geen dubbelsinnigheid kan bestaan nie – kyk, dit noem ek kuns!

      • Johan

        Latyn het sekerlik gedien as buffer. Ons reg, die Romeins-Hollandse reg, het nie verniet die woord Romeins voor nie. Sonder die vermoë om Latyn te kan lees (en te begryp natuurlik) kan groot dele van die reg nie in konteks geplaas word nie.
        Daar word nou bohaai gemaak oor die Handves van Regte (a 39 van die Grondwet) wat aksies in openbare belang toelaat. Dit is bloot die action popularis wat herleef. Plaas nou die saak in perspektief en dan kan mens sien welke actiones toepassing kan vind hoe mens op vindingryke manier dit kan toepas. Ek doen dit tans met munisipaliteite, dus is dit nie bloot teoreiese kennis nie.

  • Suidpunt

    Die hele internasionale akademiese stelsel is selfverterend:

    * Die World Economic Forum se jongste verslag 2014/2015 is dodelik: die Suid-Afrikaanse kurrikula wat ons op universiteit volg het absoluut niks met die werksomgewing of die werklikheid uit te waai nie. Ek het onlangs ‘n groot kokkedoor by ‘n privaatuitgewery gevra wat ek met ‘n M-graad in Afrikaans kan maak. Hy sê toe baie eerlik vir my dit gaan nie van die papier afhang watter werk ek eendag gaan doen nie; dit gaan van myself afhang. Ek dink ons behoort maatskappye se direkteure reguit te vra wat hulle wil hê ons moet doen. Moenie glo wat die gemiddelde dosente sê nie – hulle hoofdoel is om hulle klasse vol te kry.

    * U kan persoonlik vir professore Jaap Steyn en H.P. van Coller vra, ek glo vas hulle sal met my saamstem. Die hele “publish or perish”-gedoente veroorsaak groot probleme vir klein taaltjies wat skaars oor volledige woordeboeke beskik. Druk word op dosente, lektore en professore uitgeoefen om hordes tydskrifartikels te skryf wat eenvoudig onbruikbaar en ontoeganklik vir die publiek is. Dit is slegs nuttig vir die Res publica literaria (Republiek van die Geleerdes, Geleerdesrepubliek of geleerde republiek, of geleerde kringetjie of kliek). Sulke projekte wat tot gemiddeld 11 jaar kan duur word doodgedruk. Ek het ‘n “Greek-English Lexicon of the New Testament based on Semantic Domains”, geskryf deur Johannes P. Louw en Eugene A. Nida, wat in 1972 begin is en eers in 1988 afgehandel is. Die woordeboek is 842 bladsye lank. As jy ook na die Verklarende Afrikaanse Woordeboek van 1938 vergelyk met die een in 2011, het die definisies bykans dieselfde gebly. Die grootste tweetalige Zoeloewoordeboek is by Wits tydens die Apartheidsjare geskryf. Net Xhosa-woordeboeke toon tans vordering. Die Afrikaans-Franse woordeboek het niks verder as 1950 gevorder nie. Die Afrikaans-Duitse woordeboek het opgehou groei in 1983 toe Duits nie meer ‘n verpligte vak aan die Afrikaanse universiteite was nie. So kan ek voortgaan: die dikste Latyn-Afrikaanse woordeboekie was geskryf deur Postma in 1975. Enige leksikografiese werk wat net ruik na Europa, of dit nou Middeleeuse woordeboeke, Goties, Indogermanistiek ens. is, kom daar dadels van.

    * My eie siening is juis: as jy Afrikaans wil red, moet ons vergeet van enige institute of help uit die hand van regering of regeringsorganisasies. Ek het lankal universiteite afgeskryf; ek verwag geen wonderwerke van hul kant af nie. Dié professore wat wel Afrikaans wil red, is reeds in hul vrye tyd hard aan die werk by die Afrikaanse Wikipedia (hulle is hoofsaaklik literatore). Tans hou die Afrikaanse institute hulle net besig met spelhervorming, wat ‘n absolute minimale impak het op diegene soos ek wat my nie daaraan steur nie. Ons moet soveel nuwe tale aanleer, ons eie navorsing doen met gratis buitelandse bronne (wat buitendien hoër aangeskrewe is), ons eie boeke en handboeke skryf en selfpubliseer, so te sê ons eie organisasies begin, en sover moontlik, en waar dit kan, alles gratis of ten minste toegankliker maak. Ou werke in die openbare domein (werke waarvan die outeur 50 jaar of langer oorlede is) moet self gedigitaliseer word en by Wikisource, Project Gutenberg en soortgelyke plekke opgelaai word. Woordeboeke kan ons begin by af.wiktionary. Ensiklopediese artikels kan byvoorbeeld by Wikipedia geskryf word, ens. Die hoofdoel: maak alles gratis en supertoeganklik. Onthou wat Prof. Jaap Steyn reeds in 1980 geskryf het in ‘Tuiste in eie taal’: daar moet ‘n goeie rede vir mense wees waarom hulle jou taal wil leer. Een aspek is goeie wetenskaplike bronne. Nie fiksie nie (behalwe natuurlik Anime in Japan wat almal op hol het…). Onthou ook die Nuus24 van weleer (vir diegene tot onlangs in ‘n koma: dit was die voorganger van die huidige Netwerk24) en selfs hul argiewe destyds gratis was, terwyl die Zulu News24 steeds gratis is. Ek verwag in die verdere toekoms dat alle Naspersprodukte wat in Afrikaans is al hoe duurder en minder gratis sal word. Dit wurg Afrikaans dood. Dit wurg die Afrikaanse verbruiker geldelik dood.

    * Die universiteite, en veral die Akademie, het van die begin af versuim om taalstandaarde vir taalaanleerders op te stel. In Europa kan jy by geen Duitse universiteit aanklop sonder ‘n C2-sertifikaat in Duits nie. Die Goethe-Institut is ‘n internasionale erkende liggaam, net soos Alliance Francais, ens. As ‘n buitelander hier Afrikaans wil leer, moet hy ‘n skooljuffrou nader om hom of haar te help. Want waarheen anders gaan hy? Daar is werklik geen bronne vryelik beskikbaar wat die buitelander kan help wat werklik lief is vir Afrikaans nie. Dit is eintlik al waarop die Afrikaanse institute hulle behoort toe te spits: reik hoëgehalte sertifikate uit!

    • Johan

      Wat jy voorstel sal die akademiese windsakke skei van die wat iets vir Afrikaans doen.
      Ek hoop om, as ek die lewe en gesondheid hou, oor so ‘n paar jaar te begin skryf oor die Romeinse geskiedenis en hoe ons as Afrikaners, het ons daardie geskiedenis se lesse geleer, vandag daar anders kon uitgesien het.
      Dink maar net aan die ius Romanorum teenoor die ius peregrini.

      • Suidpunt

        Dit sal goeie opvolgwerk wees vir T.J. Haarhoff. Hy het probeer klemlê dat die Afrikaners, net soos die Romeine, aanvanklik boere was en dieselfde liefde vir hul grond en vaderland gehad het. C. M. van den Heever skryf een enkele paragraaf hieroor in ( https://wikisource.org/wiki/Die_Afrikaanse_gedagte/Die_Afrikaner_se_Beskawings-_en_Kultuurvorm ) :

        ” ‘n
        Baie interessante historiese parallel vir ons kultuurgeskiedenis word
        in die antieke wêreld gevind. Die Romeinse boer, kragtig, familievas,
        konserwatief, getrou, ‘n lewensbeskouing toegedaan wat verwant is aan
        dié van ons eie boere,
        het te staan gekom voor die vraagstuk van aanpassing by ‘n ouer
        hoogstaande oorseese kultuur. Wat was sy houding? In die begin ‘n
        vreesagtige – vrees vir die ou-Romeinse modes en sosiale gebruike, vrees
        dat hy sal ingesluk word deur die magtige en bekoorlike Helleense
        beskawingsvorme. So kla een van die vroeë digters dat mense na sy dood
        sal vergeet het om Latyn te praat. Maar die Helleense mode neem toe:
        alle kultuur word sinoniem met wat Grieks is. (Net soos in die Kaap voor
        die Nasionale Beweging, kultuur sinoniem was met alles wat Engels was).
        Toe kom die reaksie: Cato wil alles wat Grieks is uitsmyt: die ou
        boerekultuur moet herlewe. Dit was gedeeltelik ‘n gesonde reaksie; maar
        isolasie het tog onmoontlik geblyk en, soos die toekoms sou toon,
        onwenslik. Want toe die twee kultuurstrome uiteindelik harmonies naas
        mekaar gevloei het in dieselfde persoon, was daar ‘n verryking en
        ‘n opbloei soos nog nooit tevore nie. ‘n Cicero en ‘n Vergilius is
        absoluut bodemvas, hulle behou wat kenmerkend is van die ou Romeinse
        boer; maar hulle voeg daarby alle Griekse kuns en wetenskap wat by die
        volksaard aanpas.)
        Dit wil sê hulle is beter mense as die Romein van die ou tyd, wat
        dikwels kultuur ontbreek het, en die Griek, wat dikwels karakter gemis
        het. En is dit nie waar nie dat die beste tipe Afrikaner wat bodemvas
        gebly het, maar ook verruiming gesoek het, ‘n kenmerkende aantreklikheid
        het wat hom tot ‘n gesonde kultuur-persoonlikheid maak?”

        Die Romeinse model, volgens Haarhoff se toesprake, het wel effens imperiale ondertone gehad wat eintlik ten gunste van die Britse Ryk was. Kritiek hierop vind jy in Lambert ( https://play.google.com/store/books/details/Michael_Lambert_The_Classics_and_South_African_Ide?id=YT_SAQAAQBAJ ), wat dinge bietjie te ver voer met sy postkoloniale denke. Lambert oorskat, myns insiens, ook die rol van die klassieke in die uitvoering van Apartheid.

        • henkst

          Publius Cornelius Tacitus, of Gaius Cornelius Tacitus (56 tot 120n.C.) was ʼn Romeinse orator en staatsamptenaar en waarskynlik die vernaamste geskiedkundige en een van die bekendste prosaskrywers wat in Latyn geskryf het. Onder sy werke is Germania, wat die Germaanse volke beskryf, die Historiae betreffende die Romeinse Ryk van 69 tot 96n.C., en die latere Annale, wat handel oor die Ryk in die tydperk 14 tot 68n.C..
          Tacitus beskryf die Germane as ʼn stamgemeenskap wat leef in verspreide nedersettings in die bosryke en moerassige landstreke van Noord-Europa. Hulle haat stede, sê hy, en bou hul huise ver uitmekaar, leef in houtgeboue, of somtyds, in die winter, grawe hul skuilings in die grond en bedek dit met puin. Hulle hou kuddes aan, en plant graangewasse, maar hul landbou is nie baie gevorderd nie en hulle beoefen nie tuinbou nie. Vanweë die groot hoeveelheid oop grond, verander hulle hul ploeglande jaarliks. Die areas word aan die hele nedersetting toegeken, en die grond word volgens rang onder die bewerkers verdeel. Die familie speel ʼn belangrike rol in hul sosiale samelewing en hoe meer bloedverwante ʼn man het, hoe groter is sy invloed op sy oudag. Hul konings is volgens hul geboorte verkose, maar die leiers word verkies as gevolg van hul onverskrokkenheid, en in belangrike sake besluit die hele gemeenskap saam. Die vryheid van die Germane is ʼn groter gevaar vir Rome as die despotisme van die Parthiaanse [Babiloniese] konings.

          • Johan

            Tacitus se beskrywing het uiteraard betrekking op die Germaan van sy tyd.
            Lees mens weer Julius Ceaser se “De Bello Gallico” bevat dit ook goeie inligting oor die Germane.
            Vir my veral insiggewend is die feit dat die Galliërs en die Helvitiae (Switsers vandag) tot ‘n groot mate oorheers was deur die Germane. Hulle het dan ook by Ceaser gekla hieroor en natuurlik die Germane die skuld gegee vir hulle opstand. Dat die Germane die dominante groep was, is seker. Die Romeine kon eintlik nie “vatplek” aan die Germane kry nie veral omrede die digte woude en die oop areas. Die Nerderlanders natuurlik weer het in die moerasagtige gedeeltes gewoon met padtjies na die eilande gemaak van houd gemaak is wat onder die water of op die bodem gelê het. Hierdie klomp was een te veel vir die Romeine.
            Die interresante wat Suidpunt hierbo skryf oor die Helleense invloed en hoe die Romeine dit verwerk het, is ook relevant. Hoe het die Germane die Romeinse kultuur verwerk?
            Jy het in een van jou kommentare, so 4-5 jaar terug geskryf oor Karel die Grote wat op een dag meer as 2000 edelmanne (Germane) gedood het. Vir my kom dit neer op die stryd tussen die formalisme van die Romein geërf deur die Galliërs (Franke ingesluit) teenoor die Germane wat nie geneig was tot formalisme. Let in die verband op na die Rooms Katolieke Kerk versus die Reformasie (Germaans).
            Dankie ook vir jou insette. Waardeer.

        • Johan

          Baie dankie vir die inligting. Ek vind jou kommentaar opbouend en sinvol.

  • Vicky Moriarty

    Hoekom berig praag nie oor die Spraakwet nie? Amper elke berig op praag is nou onwettig. Teen volgende jaar die tyd sit Karin en Dan in n kamp en vergaan.

    • Edkrause

      ? .. Vergewe my onkundigheid. Wat word bedoel met hierdie kommentaar en die verwysing die Spraakwet?

      • Vicky Moriarty
        • Ou Transvaal

          Dankie VM , die wet gaan interessante gevolge hê op belangrike boeke soos die Bybel , dit gaan moontlik ‘n nog meer verwaterde vertaling tot gevolg hê .As die Bybel ‘n regspersoon was , was die lankal aangekla en in die tronk gesmyt .
          Hierdie wet gaan ons muilband soos nog nooit tevore ; gelukkig veroorsaak verdrukking altyd oplewing !!!

          • Vicky Moriarty

            Daar geen Humanisme in die Bybel nie. Christus bring die swaard, nie die wit vlaggie van die NP. Vermenging van volke word nie toegelaat nie.

          • Vicky Moriarty

            Dis die wat “The Passion” destyds deur NG en die ander JeugKerke wereldwyd uitgejou is. Ek sal die film vir nie-gelowiges soos ek ook voorskryf.

          • Ou Transvaal

            Dit was juis ‘n toonbeeld van onverdraagsaamheid wat daardie film destyds uitgebeeld het.

          • Vicky Moriarty

            Ons ras lei onder onverdraagsaamheid sedert Alexander se tyd. Enigste tydperke toe ons suksesvolle samelewings gebou het, was toe ons gerebelleer het.

        • Johan

          Dankie vir die skakel. Die skedule tot die wet bevat wysigings wat veral vir moordenaars van boere ernstige gevolge gaan hê. Nie alles in die wet is aanvegbaar nie.
          Die verklaring wat die slagoffer wat die impak van die haatspraak op hom/haar het, gaan nie veel waarde hê nie tensy dit ondersteun word deur kundige getuies. Dit gaan ook die bron wees van appèlle. Verder, as die beskuldigde afwesig is tydens die hofverrigtinge, gaan geen hof, die beskuldigde hanteer soos die Penny Sparrow-saak nie.
          Regters stuur mense nie tronk toe indien vonnis in hulle afwesigheid gegee was.
          Geen kriminele saak word in elk geval gevoer tensy die beskuldigde aanwesig is. Die beskuldigde kan bloot ontken dat die impak so erg is as wat die klaer beweer. Dan geld die situasie wat ek hierbo geskets het.

          • Vicky Moriarty

            Jammer, ek stem nie met jou saam nie. Plaasmoorde neem nou teen so n tempo toe dat n rewolusie of buitelandse intervensie al is wat ons Boere gaan red. Daar is letterlik honderde phenomenale skrywes op praag wat nou onwettig is. As jy mooi lees sal jy sien dat die sing van die Stem ook nou n 3 jaar vonnis dra.

          • Johan

            Plaasmoorde gaan juis swaarder gestraf word.
            Waar in die wêreld kom jy aan die idee dat die sing van die stem rassisties is?
            Omdat bv swartes dit sou beweer. Dan is hulle mos ook rassisties.
            Die swaard sny na twee kante toe.

          • Vicky Moriarty

            n Goeie prokureur het vir my gese hierdie wet verban die Stem.

          • Johan

            Daardie goeie prokureur praat str*nt.

          • Vicky Moriarty

            Peertjies de Vos het al 2 “artikels” daaroor geskryf. Lees weer seksie 4.

          • Johan

            intentionally ……………….and which demonstrates a clear intention, having regard to all the circumstances, …………. plaas ‘n baie hoë bewyslas op die staatsaanklaer.
            Vicky, dit is een ding om ‘n wet deur die parlement te sit en ‘n ander saak om dit toe te pas.
            Kom ek gee jou gelyk, vir doeleindes van die argument, dan, “wat gaan gebeur indien sê 1000 blankes klagtes by die MRK en die polisie lê oor die T-hempe van die betogende studente?” en dit voortdurend opvolg met navrae. Gaan verder, en lê klagtes by die Openbare Beskermer teen die MRK. Volg dit weer op met klagtes aan die president se kantoor.
            Dit sal die hele stelsel verongeluk. Ek weet ons mense doen nie sulke dinge nie. Maar die swartes mag dalk.
            Dink ook net hieraan – die verskillende howe – sal waarskynlik die gelykheidshowe wees wat by landdros/streekhof gesetel is – moet oor die sake beslis. Eerstens, indien elke skuldigbevinding opgevolg word met ‘n appèl na die Hooggeregshowe, lê dit die werking van laasgenoemde lam want twee regters moet as Hof van Appèl sit.
            Dit laat my dink aan Waterwese wat hier in 1999 by plase omgegaan het om vas te stel hoeveel boorgate daar op elke plaas was, want die nuwe Waterwet het mos so bepaal. Hulle het nie ver gekom nie want eerstens almal lieg oor hoeveel boorgate daar op die plaas is, niemand voltooi die vorms wat agtergelaat was indien daar meer as 1 boorgat was. Die wat nog geregistreer het, moes iets soos R75 per jaar per boorgat betaal. Daar het dadels van gekom vir die eenvoudige rede dat die dept logisties bloot net nie instaat is om die massa werk te kon hanteer nie.

          • Vicky Moriarty

            Hi. Ek waardeer jou repliek. Geen regering of koning in die wereld het die reg om sekere skelwoorde te verban nie. Enige limitasie op vryheid van spraak is volgens my rede genoeg vir oorlog, wie weet dalk kom dit nog. 2 Regters in die Grondwethof het onlangs beslis dat alle Afr geskiedenis op die ashoop van gesk behoort. Dink jy hulle sal die Stem of praag toelaat?

          • Johan

            Nee, wat Praag se artikels betref, daar is geen haatspraak in nie. inteendeel oordeel ek dat daar tans geen webwerf is wat Praag kan nadoen nie. Die substansie vervat in art. 4 waarna jy my verwys het, dui daarop dat haatspraak spesifiek teen ‘n persoon of groep, ook ‘n politieke party gerig moet word met ‘n bepaalde bedoeling, ‘n “clear intention” om haat en allerlei gevolge teweeg te bring.
            My bekommernis oor die wet is nie die substansie nie maar eerder die toepassing daarvan. As dit selektief toegepas word, gaan dit mense baie geld kos om hulself te verdedig. Dus, die wet word as ‘n wapen gebruik en nie om haatspraak as sulks te bekamp nie. Verder kan die wet misbruik word soos ek hierbo uiteengesit het.
            Is dit nie juis wat die Nas Vervolgingsgesag doen deur Gordhan te vervolg maar Zuma te beskerm?
            Ek lees jou kommentare hierbo in die lig van die onderliggende “vrees/angs” wat jy mag hê – en daarvoor behoort daar begrip te wees.
            Groete.

          • Vicky Moriarty

            Dankie vir jou repliek. Ek glo nie in die Kommunistiese konsepte van “rassisme” “haatspraak” “hierdie phobia daardie phobia”. Ek het vrees omdat ek die Holodomor onder andere bestudeer het en die vergelykings tussen die se eerste fases en SA is skokwekkend.

          • Johan

            Ja’k, dit is die grotere prentjie.

        • Ou Transvaal

          Mis ek dit of is die uiters belangrike woordomskrywing van RASSISME nog steeds onduidelik; sonder dit gaan die regbank probleme hê .

          • Vicky Moriarty

            Ek wil eerder weet wat de donder is “inter-sex”? As jy mooi lees sien jy “beroep” is ook n verbode kategorie. Soos dit vir my lyk is hierdie wat in dieselfde week as ICC en Gordhan plaasvind glad nie toevallig nie. Zuma wil teenstaanders se monde toeklap soos hy gereedmaak vir n derde termyn.

          • Ou Transvaal

            KOLSKOOT!!

  • Baie dankie vir ‘n uiters aktuele rubriek. Ek het dit so prikkelend en insiggewend gevind veral saam met die kommentare hieronder.
    Die inleidende paragraaf was werklik mooi en het my aangespoor om alles te lees.

  • Karel Combrinck

    Dankie Vannermerwe. Baie waarhede in jou brief. Die aard en doel van ‘n universiteit is inderdaad ‘n belangrike onderwerp. Jou vraag egter: “Is universiteite nog relevant?” Ek wil aan die hand doen dat die universiteit as opvoedingsinstelling beslis nog relevant is . Dis nou indien ons inderdaad van ‘n universiteit praat wat objektief as sulks beskou kan word. Universiteite in Suid-afrika het deur die optrede van semi-barbare, politiek gedienstige administrateurs en ideologies gedrewe dosente grootliks disfunksioneel geword en dus irrelevant. Soos jy dit self stel aan die einde van jou brief: “Dit wil voorkom asof universiteite die slagoffers gaan word (reeds geword het!) van politieke, grootliks rasgedrewe standpunte”. Om dus jou vraag te beantwoord: Ja, Suid-Afrikaanse universiteite is in dié sin, irrelevant. Die enigste relevansie wat hulle moontlik nog het, is dat hulle die chaos en verval weerspieël wat in die land as geheel vaardig is.

    Jou argumentering gaan egter ‘n bietjie verder en bevraagteken die universiteit se relevansie as opvoedingsinstelling. Jy begin bv. jou brief deur te sê dat die enigste manier om ‘n volk se voortbestaan te verskeker is om meer analities en strategies na die wêreld om ons te kyk en vinniger te reageer op veranderinge. Dis 100% so, maar analitiese en strategiese denke van hierdie aard is juis die oogmerk van ‘n universiteit wat wel nog ‘n universiteit is. Jy sê ook: “Vir dekades lank is ‘n graad by ‘n universiteit beskou as verteenwoordigend van besonderse akademiese prestasie”. Ja, vir dekades het duisende irrelevante “studente” geteer op die prestige wat eens aan ons uiversiteitsgrade verbonde was.

    Wat anders is verteenwoordigend, of kan verteenwoordigend wees van akademiese prestasie as ‘n universiteitsgraad? In Europese lande is daar inderdaad instansies wat hulle noem Hoërskole (Hochschüle of Grandes Ecoles) wat nie universiteite is nie, maar waarvan die standaard met dié van universiteite vergelykbaar is, en waar hoëvlak onderrig gegee word, veral oor onderwerpe van tegniese aard, maar sulke inrigtings bestaan nie in Suid-Afrika nie en al het hulle bestaan, sou hulle binnekort, vir dieselfde redes net so irrelevant word as universiteite. Universiteite IS inrigtings waar teoreties en filosofies te werk gegaan word . ‘n Universiteit is nie in die eerste plek ‘n instelling waar geleer word hoe om praktiese probleme op die mees doeltreffende wyse op te los nie. Daarvoor is daar ander instellings, of behoort daar ander instellings te wees.

    “Baie akademiese dissiplines het alreeds groot vordering gemaak om weg te breek van die oordrewe gewig wat ‘n universtiteitsgraad dra en dit is vervang met meer doeltreffende alternatiewe.” Wat beteken “oordrewe gewig wat ‘n unversiteitsgraad dra”? Verwys dit na die akademiese verval aan Suid-Afrikaanse universiteite wat veroorsaak het dat hulle grade nie meer die papier werd is waarop dit gedruk is nie? Daarmee sou ek kon saamstem. Is dit nie miskien ‘n rede vir die huidige onrus aan SA universiteite nie, naamlik dat “studente” begin agterkom dat fopspeengrade vir hulle niks in die sak bring nie?

    En wat is die “meer doeltreffende alternatiewe” , d.w.s. meer doeltreffend as akademiese opleiding? As daar meer doeltreffende maniere in Suid-Afrika bestaan, dra ek nie van hulle kennis nie. Jy beweer ” bitter min musikante studeer musiek”. Ek neem aan jy bedoel hulle studeer nie aan universiteite nie. Na my wete studeer 90% van die wêreld se klassieke musici aan universiteite. Maar dan is dit ook weer so dat die ANC regering en sy akademiese handlangers die fakulteite wat Europese kultuurwaardes bevorder, soos die musiekfakulteite by uitstek doen, stelselmatig doodsmoor. Ook “hetsy dit regte, medies of enige ander wetenskap is, daar is alternatiewe om meer bedryfsgedrewe opleiding daar te stel”. Wat is hierdie alternatiewe en wat presies beteken “bedryfsgedrewe opleiding” in regte en medisyne? Is medisyne en die regte bedrywe?

    Ek wil saamstem dat Suid-Afrikaanse universiteite nie meer ‘n relevante manier daarstel om ons kinders se toekoms te verseker nie. Dit is egter nie die fout van die universiteit as instelling nie, maar van die manier waarop universiteite sedert Uhuru in Suid-Afrika bedryf word.

    • Betzie van Rensburg

      Dankie vir jou antwoord.

  • besoeker

    Die vraag is eintik: Wat maak ‘n universiteit relevant?

    Die konsep van ‘n universiteit is nie irrelevant nie, dit is irrelevant gemaak deur gemors vakke soos politieke wetenskap, sosiale antropologie en humanistiese politiese gedrewe filosofie.

    Met die suiwer populistiese benaderings het universiteite hulleself irrelevant gemaak. Die besigheids model, die massa toegang, die onbenullige vakke, die oppervlakkige navorsing ens ens. Alles gaan oor geld. Studentegetalle en publikasies.
    Geld word gegee vir die massa ipv die meriete. Geld word gegee vir navorsing vir die ‘flavour of the month’. Geld word gegee vir navorsing oor sinnelose mense en sinnelose goed.

    Tegnologie kan net suksevol gebruik word as dit in teoretiese kennis begrond is. Daar is ‘n spreekwoord: garbage in and garbage out. Sonder om dit wat rekenaar en programme uitspoeg korrek te interpreteer, is alles ‘n klug. Dan wil ek nie eers praat van die rekenaarprogramme wat geskep word nie.

    ‘n Universiteit was daar om teoretiese kennis te leer vir die ou wat in die industrie probleme kan oplos. ‘n Ware universiteits student het IK nodig. Dis al. ‘n Bogemiddelde IK laat jou vinnig leer, laat jou probleme oplos en verseker innovasie.

    Daar is geen kits oplossing vir sekere vakke nie. Alhoewel die wêreld ‘n kits van alles geword het, is daar tyd nodig om ‘n vak soos wiskundige statistiek en wiskunde te bestudeer sodat nuwe toepassings wel haalbaar is vir innovasie.

    Voorbeeld:- sonder die nodige wiskundige statistiek van die teorie van ekstreem waardes, wat uit statisitiek ontwikkel is, sou damme nie gebou kon word wat veilig en koste effektief is nie. Sonder wiskundige statistiek is data, en baie data, nutteloos vir meeste besighede en ekonometriese modelle sinneloos. Maar ‘n vak soos dit het tyd nodig, goeie insig-toetsing nodig en kan nie sommer so vinnig onder die knie gekry word nie. Nog minder kan dit oop gestel word vir massas wat droompies droom.

    Die probleem is dat die toets van insig het oorbodig geword vanwee politiek en sosiale druk. Kits studente kry kits grade. Hier en bietjie en daar ‘n bietjie en siedaar ons het ‘n BSc.

    • Vuiluil

      Wat irelevant is, is staats ondersteunde universiteite. Die Engelsprekende wereld het universiteits grade die afgelope 20 jaar aktief verwater (dumbed down). Oorspronklik was universiteite outonome instansies en gereeld in oposisie van die staat. Vandag is die akademie hoofsaaklik tot rommel status verlaag deur “he who pays the piper calls the tune”.

      Ek lei n RF/mikrogolf navorsings en ontwikkelings groep met mense in Nieuw Zeeland, Australie en Kanada wat aan my raporteer. Dit is meer as tien jaar gelede dat ek laas n jong ingenieeur met n B graad as navorsings ingenieeur kon aanstel. Twee van ons huidige tegnikuste het n M graad in ingenieeurswese en die tendens met jong ingenieeurs wat deesdae tot n derde en finale onderhoud vorder het n PhD met toepaslike post doc navorsing ondervinding.

      Soos wat Vannermerwe stel; die vraag wat vandag gestel word is: Kan die ou die jop doen, met of sonder n graad. Ons het n ou “ster ingenieeur” hier sonder n ingenieeurs graad.

      n Outonome Afrikaanse Universiteit in n Volkstaat?