Geweeklaag omdat SA Internasionale Strafhof wil verlaat

Die sekretarisgeneraal van die Verenigde Nasies, Ban Ki-Moon het ‘n beroep op Suid-Afrika gedoen om sy onttrekking van die Internasionale Strafhof te heroorweeg voordat die besluit oor ‘n jaar in werking tree.

Die VN het bevestig dat Suid-Afrika tot dusver die enigste land is wat ‘n formele kennisgewing ingedien het om van die Statuut van Rome te onttrek, ten spyte van berigte dat Burundi dit reeds gedoen het.

Die regering het verlede week die sekretarisgeneraal ingelig oor sy besluit om van die Strafhof te onttrek.

‘n Woordvoerder van die sekretarisgeneraal, Stephane Dujarric sê die besluit raak nie net die VN nie, maar die internasionale gemeenskap as ‘n geheel.

Die verklaring deur Suid-Afrika is ‘n groot slag vir die aansien van die hof.

Die aankondiging volg na ‘n dispuut verlede jaar toe Soedanese president Omar al-Bashir die land besoek het, ten spyte van ‘n lasbrief oor beweerde oorlogsmisdade wat die hof uitgereik het. Vroeër hierdie maand, het Burundi gesê hulle sal die hof verlaat, terwyl Namibië en Kenia ook die moontlikheid oorweeg.

Die hof is gestig in 2002, maar dikwels daarvan beskuldig dat hulle partydig teenoor Afrika staan.

Die stigting is gekenmerk deur ‘n gebrek aan internasionale samewerking, ook van die Verenigde State, wat die verdrag rakende die jurisdiksie van die hof onderteken het, maar dit nooit bekragtig het nie.

Suid-Afrika se besluit sal die weg baan vir ander Afrika-state om die hof vaarwel te roep. Die hof is opgerig om die “vervolging van die ernstigste misdade wat die gewete van die mensdom skok, naamlik volksmoord, oorlogsmisdade, misdade teen die mensdom en misdade van aggressie”.

Intussen is die DA en derglike surrogate onthuts oor die besluit. Die party wil die besluit “onwettig” laat verklaar omdat dit nie deur die parlement besluit is nie, en gaan “direk” na die Konstitusionele Hof hardloop om dit te doen.

Die leier van die DA, Mmusi Maimane, het sonder ironie gesê die besluit is strydig met die land se verbintenis tot internasionale geregtigheid en menseregte.

Hy sê dit dui op ‘n “drastiese agteruitgang in Suid-Afrika se aansien in die internasionale gemeenskap”. Hy sê Suid-Afrika is besig om weer die muishond van die wêreld te word met ‘n regering wat hom nou skaar by moordenaars en diktators regdeur die wêreld.

Amnestie Internasionaal het die besluit deur die Suid-Afrikaanse regering as “diep verraad teen miljoene slagoffers wêreldwyd” bestempel en die vrees uitgespreek dat apartheid sal terugkeer.

“Suid-Afrika se skielike kennisgewing om te onttrek van die ISH is diep teleurstellend. Met hierdie skuif, het die land miljoene slagoffers van die ernstigste menseregteskendings verraai en die internasionale regstelsel ondermyn,” het Netsanet Belay, Amnestie Internasionaal se direkteur vir Afrika geweeklaag.

“Die Statuut van Rome is ‘n verbintenis tussen lande dat hulle nie meer misdade onder die internasionale reg, insluitend apartheid, sonder straf sal toelaat nie,” het Belay gesê.

Die voorsitter van die Afrika Unie-kommissie, Nkosazana Dlamini-Zuma, sê Suid-Afrika het die reg gehad om die Internasionale Strafhof te verlaat. Dlamini-Zuma sê lede van die AU besluit self of hulle lid van die strafhof wil wees.

Volgens ‘n presidensiële woordvoerder in Kenia, Manoah Esipisu, het dié land nog nie met die formele proses begin om van die Internasionale Strafhof te onttrek nie.

Indien die groot moondhede soos die VSA en China reeds in 1998 hulself nie wil verbind tot die Statuut van Rome nie, wonder ‘n mens hoekom ander lande daarin sal belangstel.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.