Ethiopian Airlines steek SAL as grootste Afrika-lugdiens verby

Dudu Miyeni, voorsitster van die raad van SAL
Deel op

Die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL), wat voor die revolusie een van die bes bestuurde lugdienste ter wêreld was, maar tans aanhoudende verliese ly, is verlede jaar deur Ethiopian Airlines as die grootste lugredery in Afrika verbygesteek. Die jongste uitgawe van die Britse Economist bevat ‘n lowende artikel oor Ethiopian, maar vermeld oor SAL: “Suid-Afrika se nasionale redery, wat verlede jaar deur Ethiopian in grootte verbygesteek is, is al sedert 2011 onwinsgewend, en sou sonder regeringswaarborge insolvent wees.”

In die mees onlangse boekjaar het SAL onder die voorsitterskap van Dudu Miyeni ‘n verlies van anderhalf miljard rand gemaak. Dit was ‘n “verbetering” op die vorige jaar se verlies van R2,5 miljard. SAL het ook in die openbaar gesê dat hy waarborge van R16 miljard nodig het.

The Economist het al voorheen oor die onbekwame bestuur by Suid-Afrikaanse openbare maatskappye, waaronder SAL, berig en die volgende grafiek oor hul finansies gepubliseer.

sa_state_enterprisesEthiopië is ‘n arm Afrikaland wat nie eens oor ‘n stabiele regering beskik nie. Desnieteenstaande het Ethiopian Airlines daarin geslaag om ‘n winsgewende lugdiens op te bou wat vriendelike diens aan ‘n toenemende aantal kliënte lewer. Volgens The Economist het Ethiopian verlede jaar bykans $300 miljoen (R4,5 miljard) wins gemaak en is vanjaar bestem om $500 miljoen (R7,5 miljard) se winste te lewer.

ethiopian_airlinesBenewens Suid-Afrika, is ander Afrikalande waar die nasionale rederye in ‘n haglike toestand verkeer, onder andere Kenia en Zimbabwe. Trouens, Ethiopian Airlines verdien nou meer geld as al die ander rederye in Afrika saam. In 2015 het die Ethiopiese lugdiens 82 internasionale bestemmings bedien, waarby nog 13 vanjaar gevoeg is.

 

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.