Die Universiteit van Kaapstad het bevestig dat die polisie vier oproeriges vasgetrek het wat met houers vol ontlasting na die kampus op pad was.
‘n Woordvoerder vir die universiteit, Elijah Moholola sê die amokmakers is by die ingang van een van die kampusse aangekeer.
Vroeër is nog twee studente in hegtenis geneem nadat betogende studente opnuut met veiligheidswagte op die kampus slaags geraak het.
Moholola sê onderrig gaan egter voort op elektroniese vlak. Hy sê elke fakulteit gebruik hul eie metode van onderrig en kommunikasie vir sy betrokke studente.
Die bestuur van die Universiteit van die Wes-Kaap het intussen onderneem om vandag te reageer op die 40 eise van amokmakers nadat hulle Maandag tydens ‘n massavergadering 48 uur tyd gegee om te reageer.
Die eise sluit in gratis tersiêre onderrig en dat alle skuld afgeskryf word. Klasse by die UWK is steeds opgeskort.
Die universiteit se bestuur sê hulle sal ook vandag ook duidelikheid gee oor die voltooiing van die akademiese jaar en eksamendatums.
‘n Massavergadering, die jongste poging om ‘n vreedsame oplossing vir die universiteitskrisis te vind, word vandag by die Holy Trinity Katolieke Kerk langs Wits gehou.
Daar sal gefokus word op die stryd om universiteite se deure oop te hou en te befonds. Enigeen wat hoop dat die geweld en onrus by universiteite gestaak word, is gevra om die massavergadering by te woon.
Die Katolieke priester, Graham Pugin, wat betrokke was by studente vandat die protesoptrede begin het, sal by die byeenkoms praat.
Nog hooggeplaastes wat verwag word is ‘n stigterslid van Cosatu en voormalige minister in Nelson Mandela se regering, Jay Naidoo, asook die voormalige Openbare Beskermer, Thuli Madonsela.