Oproer tref Windhoek se kampus

Deel op

Universiteit van Namibië het die eksamens wat Dinsdag moes begin, uitgestel nadat oproeriges amok gemaak het omdat hulle daarvan weerhou word om te skryf tensy hul studiegelde betaal word, het die Republikein berig.

Die registrateur, Sifiso Nyati, het vroeër aangedui dat studente wat sukkel, gehelp sal word met registrasiegelde. Maar volgens Nyati het nie een van die groep van sowat 40 studente wat gister voor die administratiewe gebou gevra het dat “eksamens moet val”, om geldelike hulp aansoek gedoen nie.

“Daar is mini-beurse in die Stigting-afdeling, sowel as die registrateur en dekaan se kantoor waar finansiële hulp beskikbaar is vir studente met uiters desperate finansiële beperkinge en wat akademies goed vaar.”

“Ons kon nie een opspoor wat dié kantore genader het nie.”

Die universiteit het Maandagaand laat weet eksamens vir Dinsdag en Woensdag is uitgestel.

Oproeriges het Maandag chaos in verskeie lesinglokale gesaai toe hulle studente se eksamenroosters summier begin opskeur het. Die Republikein beskryf die situasie as volg:

Duisende studente het Maandagoggend via Unam se webportaal kennis gekry dat elke student sy eksamenrooster by aangewese lokale op die kampus moes gaan afhaal. Studente wie se studentegelde nie vereffen was nie, sou nie toegelaat word om hul eksamens af te lê nie. Eksamenroosters is voorheen op die webportaal geplaas waar studente dit self kon aflaai.

Volgens Nyati is dit om te verhoed dat studente die roosters van hul eie webportaal uitdruk, nadat die verskuldigde bedrag aan die universiteit verander is om ’n balans van nul te wys.

“Die universiteit het besluit om self die roosters te druk en persoonlik aan studente te oorhandig. Dié wat nie gelde verskuldig is nie, kry ’n amptelike stempel wat dit bevestig.”

Hy het beklemtoon dat studente toestemming het om te betoog.

“Ons het egter gevind daar is dié wat hul frustrasie uitwoed, omdat hulle blykbaar nie eens vir die eksamen kon kwalifiseer nie. Dis hulle wat die vrede bedreig. Ons het daarom besluit om die dienste van ‘vredesbeamptes’ (polisie) te bekom.”

Uitstaande studiegelde van internasionale studente wat by Unam studeer, beloop volgens Nyati sowat N$10 miljoen.

“Ongelukkig het hulle nou ook by die betogers aangesluit.”

’n Tweedejaarstudent het die uitdeel van eksamenroosters aan studente op kampus as “chaoties” beskryf.

“Elke fakulteit is toegewys aan ’n sekere lokaal. By een lokaal was daar tot 800 studente met vier tot ses mense wat almal moes help.” Volgens hom het studente later ongeduldig begin raak en selfs deur ’n deur gebreek. Eksamenroosters wat in stapels gereed was om aan studente uitgedeel te word, is opgeskeur.

“Dit het van die een lokaal na die ander oorgespoel. Ek dink die opstokers voel hulle kan met hul optrede Unam sover kry dat hulle wél kan skryf en hul uitslae kry wanneer die skuld vereffen is.”

Unam het op 27 Julie vanjaar ’n amptelike kennisgewing op sy webtuiste geplaas waarin duidelik gemaak word dat uitstaande gelde vóór of op 30 September betaalbaar is. Volgens die kennisgewing het studenteskuld by die universiteit vanjaar beduidend gestyg as gevolg van ’n besluit om studente te registreer, sonder dat die normale betalingsvereistes by registrasie geld. Die gevolg is dat die universiteit nou beduidende tekorte in sy 2016-begroting het.

Die kennisgewing in Julie beklemtoon dat studente met uitstaande studentegelde nié toegelaat sal word om die Oktober 2016-eksamens af te lê nie.

Die bestuur het aangedui dat eksamens op al die universiteit se kampusse afgestel is vir Dinsdag en Woensdag. Die nuwe datums sal mettertyd bekend gemaak word.

Eksamens wat soos oorspronklik Donderdag sou plaasvind, gaan soos normaal voort.

Maar studente wat reeds betaal het kla die uitstel van eksamens raak alle studente, insluitend dié wat soos sy reeds haar rekening ten volle vereffen het.

Hulle bevraagteken Unam se tydsberekening om op die dag vóór ’n eksamen vir studente te laat weet skuld sluit vir hulle die deur tot eksamenlokale.

“Dit is onregverdig en moes voor die tyd gekommunikeer en uitgeklaar gewees het,” het een gesê.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.