Afrikaanse gebiede vaar sleg op lys van SA miljoenêrs

Hoewel Afrikaners vir die grootste deel van die twintigste eeu die land regeer het, besit hulle weinig van die land se rykdom. Dié afleiding kan gemaak word uit die jongste rykdomverslag oor Suid-Afrikaanse stede wat deur die maatskappy New World Wealth vrygestel is.

By verre die rykste stad in die land – waar weinig Afrikaners woon – is Johannesburg. Dié stad beskik oor $243 miljard se rykdom. Daar woon 17 600 dollarmiljoenêrs en twee dollarmiljardêrs in die Goudstad.

Kaapstad met sy geurtjie van Britse kolonialisme, is die Suid-Afrikaanse stad met die tweede meeste rykdom ter waarde van $130 miljard. Daar woon 7 400 dollarmiljoenêrs en 2 dollarmiljardêrs in die skadu van Tafelberg.

Nog ‘n Engelse koloniale stad, Durban, beskik oor die derde meeste rykdom, ter waarde van $45 miljard. In dié subtropiese kusstad woon daar 2 700 dollarmiljoenêrs en een dollarmiljardêr.

Pretoria, die stad in die land waar die meeste Afrikaners – en blankes – woon, is vierde op die lys met ‘n totale rykdom van $42 miljard. Daar woon 2 600 dollarmiljoenêrs in die Jakarandastad, dog geen miljardêr nie.

Twee gebiede wat egter deur New World Wealth as “ontluikende setels van rykdom” uitgelig word, en waar Afrikaners nietemin sterk verteenwoordig is, is: Paarl-Stellenbosch-Franschhoek en die Tuinroete. In Paarl-Stellenbosch-Fransschoek is $40 miljard se rykdom gekonsentreer en woon daar 2 500 dollarmiljoenêrs, byna soveel soos in Pretoria.

Op die Tuinroete wat omskryf word as “van Mosselbaai tot die Stormsrivier” met dorpe soos George, Knysna, Plettenbergbaai
en Wildernis is daar $38 miljard se rykdom, met vele afgetrede miljoenêrs wat oor die see uitkyk.

Daar woon net soveel dollarmiljoenêrs op die Tuinroete as in Paarl-Stellenbosch-Franschhoek, te wete 2 500.

‘n Gebied wat nie op die verslag verskyn nie, is die Oos-Rand wat ook oor ‘n aansienlike ekonomiese uitset beskik, maar wat moontlik by Johannesburg ingereken is.

Die stad met die meeste rykdom ter wêreld is Londen, wat ‘n kortkop voor New York verkeer. Die Britse hoofstad huisves $2,7 triljoen se rykdom, met 357 000 dollarmiljoenêrs en 62 dollarmiljardêrs wat daar woonagtig is. Maar die groot stede van China en Indië is besig om opgang te maak en gaan waarskynlik binnekort die Britse en Amerikaanse finansiële hoofstede onttroon.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.