Kerry smeek terwyl Russe skoonmaak in Sirië

Deel op

‘n Byeenkoms van belangrike wêreld- en streeksmagte, in Switserland en onder voorsitterskap van die VSA, het min vordering gemaak om die konflik in Sirië finaal te besleg.

Rusland het die VSA verlede week voor ‘n ultimatum gestel en gesê hulle sal nie militêre ingryping duld nie. Russiese S-400 missiele is ontplooi om Amerikaanse lugaanvalle teen die Siriese weermag te keer.

Die VSA het daarna die aftog geblaas en ‘n mediastilte het oor die VSA gedaal, waarskynlik om die kanse van die Demokrate se Hillary Clinton te verbeter aangesien sy as die oorlogsugtige kandidaat bekend staan.

Net ‘n week tevore is verwoede oorlogskoors deur dieselfde media aangeblaas in ‘n poging om hul “gematigde rebelle”, terroriste en ISIS-simpatiseerders, uit die verknorsing te red en lesers kon verskoon word as hulle onder die indruk gekom het van die ergste krisis in die nuwe Koue Oorlog tot nog toe.

Amerika se minister van buitelandse sake, John Kerry, het Saterdag vir vier en ‘n half uur met top diplomate van Rusland en streeksmagte, onder meer Saoedi-Arabië, Turkye, Katar, Irak, Egipte, Jordanië en Iran, vergader om die pad vorentoe te bepaal na die Amerikaanse nederlaag.

Voorheen het die radelose Kerry telkens verwys na Russiese “oorlogsmisdade” in Sirië om druk op die Russe te plaas.

Die onderhandelinge was midde groter dringendheid oor die stad Aleppo, waar Amerikaans-gesteunde terroriste genadeloos deur die Siriërs en Russe uitgedelg word.

Kerry se nuwe benadering kom ná verlede maand se mislukte skietstilstand, wat binne dae ten gronde gegaan het nadat die terroriste nie uit die gebied wou beweeg soos ooreengekom nie.

Die onderhandelaars het ‘n dapper front voorgehou toe hulle in Lausanne byeengekom het in ‘n poging om die Clinton-kamp ‘n verleentheid te spaar. Die enigste punt waarop ooreengekom is, was om gesprekke te hervat.

Rusland het klem geplaas dat daar geen onderskeid is tussen al-Kaïda-gesteunde militante, wat op die Verenigde Nasies se lys van terroriste-organisasies is, en “gematigde rebelle” wat Amerikaanse steun geniet nie.

Washington het weer probeer voorgee dat die lugaanvalle op die oostelike dele van Aleppo gestaak moet word om die “verskille” uit te pluis tussen die “twee groepe”, wat in wese ‘n oproep is net soos die vorige een, om die terroriste kans te gee om te herstel.

Terwyl die VSA oor maande se onderhandelinge toegewings moes maak, is die hoofstroommedia tjoepstil. Kerry het na afloop van die vergadering gesê ministers het met voorstelle vorendag gekom wat “die moontlikheid van ‘n verskillende benadering” inhou, maar het geen besonderhede verstrek nie.

Saterdag het Siriese en Russiese lug­aanvalle verskeie gebiede in rebelle-­hande in Aleppo gebombardeer.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.