Die Republikeinse presidentskandidaat, Donald Trump, het aangedui hy gaan voortaan sy verkiesingsveldtog voer presies soos hy wil, noudat die NeoCon globaliste in die party uitgesnuffel is.
Dié Republikeine wat gedink het hul gekonkel teen Trump gaan werk, soos Suid-Dakota se Senator John Thune, het intussen teruggekruip.
WikiLeaks het die week onthul hoe die globaliste die Demokratiese party geïnfiltreer het om oop grense, eenwêreldregering en korporatiewe beheer in te stel, maar kennelik is daar globaliste onder die Republikeine ook.
“Dit is so lekker noudat die boeie van my afgehaal is en ek kan veg vir Amerika op die manier wat ek wil,” het Trump op Twitter gesê.
Hy sê hy gaan Hillary Clinton, die Demokrate se presidentskandidaat, op sy eie voorwaardes aanpak.
Paul Ryan, die top-Republikein in die kongres, het Maandag aan die party se wetmakers gesê hy gaan nie vir Trump stemme werf nie. Dit het ‘n vloedgolf van kritiek teen hom losgelaat.
Ryan is ‘n voorstander van oop grense en het voorheen gesê die VSA is net ‘n “idee”, nie ‘n land met grense nie.
Trump het in reaksie gesê die “dislojale” Republikeine is nog moeiliker as Clinton en het Ryan as ‘n “baie swak en ondoeltreffende leier” uitgesonder.
“Hulle val jou van alle kante af aan. Hulle weet nie hoe om te wen nie – ek sal hulle wys!”
Trump het WikiLeaks Woensdag geprys vir die vrystellings van die Demokrate wat ook toon hoe dat Clinton kiesers dom wil hou en hulle wil manipuleer.
‘n Reuters/Ipsos-peiling wat Dinsdag bekend gemaak is, het intussen bevind dat 58% van die Republikeine wil hê Trump moet hul kandidaat bly. Daar is ook bevind dat 68% van die Republikeinse leierskap hom steeds ondersteun.
Die peiling is gedoen na die tweede debat tussen Trump en Clinton wat Sondag plaasgevind het. Trump het Clinton vermorsel, maar die korrupte hoofstroommedia probeer uitmaak of Clinton die geveg gewen het.