Amerika sê daar is toenemende aanduidings dat Iran-gesteunde Houthi-rebelle, ondanks ontkennings, vir Sondag se aanval op die Amerikaanse vlootvaartuig ná aan die kus van Jemen, verantwoordelik was.
Die rebelle het oënskynlik klein skuitjies as uitkykposte gebruik om te help om aanduidings vir ’n missielaanval op die oorlogskip te gee, het Reuters berig.
Amerika ondersoek ook die moontlikheid dat ’n radarstasie onder Houthi-beheer in Jemen gebruik is om die posisie van die USS Mason vas te stel en dit aan die rebelle beskikbaar te stel om die aanval te beplan.
Nie een van die twee missiele wat van die Houthi-beheerde gebied afgevuur is, het die USS Mason of die nabygeleë USS Ponce, ’n amfibiese transportdok getref nie.
Die voorval bied nou aan die Amerikaanse weermagoptrede ‘n verskoning om teen Houthi-rebelle in Jemen op te tree.
Die Houthies het tot nou enige rol in die aanval ontken.