Die insweringsplegtigheid wat Hongkong se wetgewende sessie afgeskop het, het Woensdag in ’n klug ontaard toe pasverkose “pro-demokrasie” wetgewers met opset die ampseed verdraai het, in ’n teken van protes teen Beijing.
Hulle het ook baniere vertoon waarop geskryf is dat Hongkong nie deel van China is nie, het AP berig. Hulle het ook vir demokratiese selfbeskikking vir die semi-outonome Chinese stad tydens die ampsaflegging gevra.
Die uitdagende optrede is ’n voorspel van wat na verwagting ’n chaotiese termyn vir Hongkong se semi-demokratiese wetgewende raad sal wees, nadat ’n groep jeugdige kandidate in September verkies is en opposisiegetalle in die raad laat toeneem het.
Die nuwelinge verteenwoordig sommige van die golf voetsoolvlak aktiviste wat ná die 2014 pro-demokrasie straatbetogings na vore getree het. Hulle kon nie daarin slaag om toegewings van Beijing te kry nie, en dit het tot die opkoms van ’n onafhanklikheidsbewegingen politieke ontwaking van veral die stad se jeug gelei.