‘n Oos-Vrystaatse boer, wat in hegtenis geneem is nadat hy na bewering verlede Vrydag ‘n sestigjarige swarte raakgery het, se aansoek om borgtog is vanoggend in die Bethlehemse landdroshof na Maandag uitgestel.
Josef van Eeden (34) het na bewering vir Johannes Mahlaku op ‘n plaas buite Bethlehem raakgery. Mahlaku het Saterdag, in ‘n plaaslike hospitaal, aan sy beserings beswyk. Van Eeden het homself Dinsdag aan die polisie oorgegee.
Volgens Oos-Vrystaatse polisiewoordvoerder, Zweli Mohobeleli, het Van Eeden na bewering oor Mahlaku gery.
Hy sê twee aanklagte van moord word tans teen Van Eeden ondersoek.
Die ander saak hou verband met ‘n voorval, laat verlede jaar in Fouriesburg, toe Van Eeden na bewering ‘n 36-jarige man noodlottig gewond het. Die oorledene wou Van Eeden glo met ‘n byl aanval, waarna hy hom geskiet het.
Van Eeden se prokureur het aan OFM-nuus gesê hy het namens sy kliënt voorwaardelik toegestem dat die borgtogaansoek uitgestel word. Die voorwaardes is dat die aansoek finaal op 17 Oktober aangehoor word en dat die staat moet seker maak dat die ondersoekbeampte teenwoordig is en alles in plek is.
Niemann sê as dit blyk dat die staat weer eens volgende Maandag, soos vandag, nie reg is vir die borgtogaansoek nie en met vertragingstegniek blyk besig te wees, behou hy hom die reg voor om die saak onmiddellik na die Hooggeregshof te neem.
Nieman sê wat werklik gebeur het, sal Maandag ter tafel gelê word. Van Eeden is steeds in aanhouding.
Bron: OFM