Motors: Mitsubishi Pajero in ‘n klas van sy eie

Suid-Afrika het slegs ‘n paar hardebaardviertrekwaens wat byna enige plek sal loop terwyl die insittendes in die gootste gemak kan terugsit en die ervaring beleef. Die slegte nuus is dat die hardebaardwaens almal aan die verkeerde kant van R1 miljoen kos. Nou praat ons van motors soos die Land Rover Discovery, Mercedes G-Klas en Toyota Land Cruiser 200. Die motors bied almal 7 sitplekke en veldryvermoë wat ‘n bobbejaan met ‘n kierie sal kan oortref!

Die Pajero op die teerpad
Die Pajero op die teerpad

Daar bestaan egter drie ander opsies wat tradisionele groot viertrek-7-sitplekhardebaarde betref en ons kon een van die drie vir ‘n paar dae bestuur. Die Mitsubishi Pajero is nou in sy vierde generasie en die huidige vorm is reeds in 2006 aan die wêreld bekendgestel. Die volgende generasie Pajero sal in 2018 die lig sien. Mitsubishi SA het die huidige Pajero al heelwat opgekikker en die voertuig bied byna elke luuksheid wat te kry is in die miljoenrandplusrygoed behalwe dat alles so bietjie ouer en nie verfynd voel soos in die duurder motors nie.

Bakwerk

Van buite gesien handhaaf die Pajero die volmaakte balans tussen alledaagse gesinsryding en hardebaardveldryer. Hy is sag genoeg op die oog om enige ma met ‘n rits kinders te laat tuis voel maar terselfdertyd manlik en sterk genoeg sodat Pa en die manne heel tuis sal voel op die jag- of visvanguitstappie. In sy nuutste gewaad het die Pajero netjiese dagryligte wat onder die hoofligte in aparte luginlate gehuisves word. Die sierrooster en misligte het chroomomhulsels om die luukse kant van die Pajero te benadruk. Daar is netjiese kanttrappe en kleurbypassende syspieëls met flikkerliginsetsels wat stylvol by die res van Pajero se lyne inskakel.

Agtersitplekke in die Pajero
Agtersitplekke in die Pajero

Die Pajero is beskikbaar in beide ‘n langasafstand en ‘n kortasafstandweergawe. Met ‘n lengte van 4,9 meter is die Pajero nie ‘n kompakte ryding nie en vele Pajero-eienaars gee ook hul voertuie name soos “Fat Lady” of “Uberta” wat omstanders onmiddellik laat weet dat hierdie nie sommer nog ‘n sportnutsvoertuig is nie. Die kortasweergawe vertoon korter as wat hy werklik is en met ‘n lengte van byna 4,4 meter is hy langer as ‘n Mitsubishi ASX of Nissan Qashqai. Wat hoogte en breedte betref, is die Pajero hoer as n Range Rover en net so breed soos ‘n Ford Everest. Dit stel eintlik alles in perspektief oor watse grootte die Pajero eintlik beslaan.

Binneruim

Instrumentepaneel van die Pajero
Instrumentepaneel van die Pajero

Aan die binnekant is die Pajero pure weelde met sagte leersitplekke, ‘n leeroorgetrekte stuurwiel met houtinsetsels, so tipies uit die Amerikaanse tydvak van luukse motors. Die instrumentepaneel is groot en bonkig en die middelste konsole waar die rathefboom sowel as die handrem en viertrekhefboom geleë is, is breed en manlik.

Die Pajero se multifunksionele stuurwiel
Die Pajero se multifunksionele stuurwiel

Daar is twee skermpies onder mekaar gemonteer met die boonste een wat inligting van die grondoppervlakte en rigting asook die tyd en buite temperatuur aandui. Die onderste skerm is ‘n raakskerm waar die radio, asook die navigasie verstel kan word. Daar is satellietkontroles op die stuurwiel gemonteer wat die togbeheer, radiovolume en stasies kan beheer, asook die telefoonkoppeling.

Die Rockfordklankstelsel
Die Rockfordklankstelsel

Luukshede soos verhitte voorste sitplekke en ‘n elektroniese sondak, sowel as ‘n Rockfordklankstelsel en klimaatbeheer rond die Pajero se binneruim mooi af. Die bougehalte en ergonomiese gevoel is werklik uit die boonste rakke en dit is moeilik om te glo dat die hele pakket al 10 jaar oud is. Die deure maak wyd oop om maklike toegang tot die binneruim te verseker. Daar is natuurlik ook sewe sitplekke met die agterste twee wat heeltemal verwyder kan word. Voorste sitplekke is ook elektronies verstelbaar.

Enjin

Beide die langasafstand- en die kortasafstandmodelle word deur ‘n 3,2-liter-4-silinderdieselenjin met tussenverkoeler asook turboaanjaer aangedryf. Die enjin lewer 140kW en 441 Nm se wringkrag. Dit is gekoppel aan ‘n 5-spoed- outomatiese ratkas wat al vier wiele aandryf. Daar is ook laestrek en ‘n middelste ewenaarslot. Die enjin is glad en ratskakelings baie sekuur. Byna geen turbotraagheid is te bespeur nie. Die direkte-inpuitingenjin verseker verbeterde ontbranding asook laer brandstofverbruik en dan ook ‘n laer koolstofuitlaatsyfer. Verbruik word aangegee deur Mitsubishi as 10,1 l/100km en die uitlaatgassyfer is 245g/km. Die Pajero kan gemaklik teen snelhede bo 140km/u toer en 100km/u sal binne 12,3 sekondes bereik word. Met ‘n massa van ‘n aks oor die 3 ton is die Pajero nie ‘n liggewig nie en met die massavoordeel en ‘n kragtige enjin kan ‘n sleepwa sonder remme van tot 750kg gesleep word. Die brandstoftenk van 88 liter kan die Pajero net so onder die 900km ver laat ry voor daar weer opgevul sal moet word. Grondvryhoogte is dan ook 235mm.

Op die pad

Die Pajero van die kant af
Die Pajero van die kant af

Daar is vier modusse waarvan die bestuurder kan kies om die vier-by-vierstelsel te aktiveer. 2H beteken dat die Pajero in 2-slegsagterwielaandrywing verkeer, wat vir alledaagse gebruik in en om die stede op die teerpad geskik is. 4H beteken dat al vier wiele nou die motor trek en sodoende beter vastrapvermoë verseker. Op 4 HLC is die ewenaarslot gesluit wat beteken dat daar ‘n 50/50-vespreiding van vastrap tussen voor en agter is, asook dat al vier wiele dieselfde krag ontvang sodat die Pajero met elke wiel ewe sterk trek. 4LLC is nou wanneer dinge ernstig raak. In dié modus sal ‘n kees met ‘n kierie sy klim moet ken om voor die Pajero te kan bly. Dit sluit die ewenaar en verseker die maksimum wringkrag na elke wiel sodat daar sonder moeite deur of oor byna enige hindernis gery kan word.

Gevolgtrekking

Vir ‘n voertuig wat tien jaar oud is met tien jaar gelede se estetiese en meganiese ontwikkeling, is die Mitsubishi Pajero steeds een van die heel beste middelslag-vier-by-vier-hardebaarde. Daar bestaan slegs twee ander motors in die Suid-Afrikaanse mark wat hoofsaaklik teen die Pajero meeding en dit is die Nissan Patrol en Toyota Prado. In kortasafstand het die Pajero geen mededinger nie en sal die Land Rover Defender 90 of die Jeep Wrangler sekerlik die naaste aan die Pajero kom, maar vergelyk dan die ergonomie en teerpadvermoë van die drie en die Pajero SWB is in ‘n klas van sy eie. Teen R789 900 is die Pajero LWB mooi in die middel van die Patrol teen R680 000 en die Prado teen R800 000 geprys. Gaan ry egter al drie en jy sal vinnig agterkom dat die Pajero eintlik in die Discovery of Mercedes G-Klas se segment moet deelneem en daar begin die Discovery se pryse teen meer as ‘n miljoen en die Mercedes begin aan die verkeerde kant van een en ‘n half miljoen. Die Pajero word verkoop met ‘n 3-jaar- 100 000km-fabriekswaarborg en 5-jaar- 100 000km-onderhoudsplan.

Mitsubishi Pajero 3.2 DI-D GLS Legend II

Prys 4 uit 5
Voorkoms buite 4 uit 5
Binneruimgehalte en afwerking 5 uit 5
Ruimte en praktiese toepassing 4 uit 5
Agter die stuur 4 uit 5
Enjin en ratkas 4 uit 5
Op die pad 4 uit 5
Veiligheid 5 uit 5
Totaal 34 uit 40

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.
  • besoeker

    Nissan Patrol – bo! Geen beter 4×4 vir die prys nie. Monster op klippe en duine. By Langstrand teen die ‘slip face’ opgery.