Klag van moord nadat oproeriges wagte in brandende gebou toesluit

Deel op

‘n Klag van poging tot moord word ondersoek nadat twee veiligheidswagte Dinsdagaand in ‘n brandende gebou op die Bellville-kampus van die Kaap Skiereilandse Universiteit van Tegnologie toegesluit is.

Een persoon is intussen in hegtenis geneem in verband met die brand wat na bewering in die administrasieblok van die universiteit gestig is, het RSG berig.

Twee voertuie is in die voorval beskadig en drie mense is vir rookinaseming behandel.

‘n Gebou is ook op die Kaapstadse kampus aan die brand gesteek. Altwee brande is geblus.

Altesame twintig studente is sedert gister weens gewelddadige betogings op die onderskeie kampusse aangekeer.

Nóg ‘n brand by een van die koshuise by die Universiteit van KwaZulu-Natal se Pietermaritzburgkampus is deur onlusmakers gestig.

Dele van die raadskantore en ‘n gedeelte van ‘n televisiekamer in die Malherbe-koshuis is ook aan die brand gesteek.

Albei brande is deur veiligheidswagte geblus. Die skade aan die kampus sedert die Fees Must Fall-veldtog begin het, word op miljoene rande beraam.

Meer as 30 studente is in hegtenis geneem en sal op aanklag van openbare geweld teregstaan.

Die Universiteit van die Witwatersrand in Johannesburg sê sy akademiese program sal vandag voortgaan.

Wits se bestuur sê die meeste klasse het gister by al sy kampusse voortgegaan, ten spyte van skermutselings tussen studente en die polisie. Volgens die universiteit het die protesoptrede gewelddadig geraak toe ruite van die John Moffat-gebou, die Wartenweile-biblioteek en die Matrix-studentesentrum op die kampus in Braamfontein gebreek is.

Die oproeriges het ook trappies en mure by die kampus se amfiteater gebreek.

Die Universiteit van Kaapstad het intussen aangekondig dat al sy kampusse vandag gesluit sal wees en alle klasse opgeskort is. Die universiteit sê hy is nog besig met planne om die akademiese jaar te red.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.