Globaliste dreig Kenia oor ‘internasionale regskendings’

Deel op

Kenia skend internasionale reg deur inwoners van die wêreld se grootste vlugtelingkamp te dwing om na Somalië terug te keer, het ‘n hulporganisasie gister gesê.

Kenia hou vol dat die ontruiming van die Dadaab-kamp, die tuiste van honderdduisende meestal Somaliese vlugtelinge, in pas met internasionale wetgewing uitgevoer word, het AFP berig.

Die Noorweegse raad vir vlugtelinge (NRC) sê die “vrywillige terugkeerproses” voldoen nie aan internasionale standaarde nie. Dit beteken dat Kenia hom aan die gedwonge terugkeer van vlugtelinge en asielsoekers skuldig maak.

“Druk om meer as 280 000 geregistreerde vlugtelinge uit die Dadaab-kamp te dwing, het tot chaotiese en ongeorganiseerde terugkeer gelei,” het die sekretaris-generaal van die NRC, Jan Egeland, gesê.

“Van wat ons gesien het, is die proses nie meer vrywillig, waardig of veilig nie,” het hy gesê.

Kenia se regering het in Mei aangekondig dat die kamp in die noordooste van Kenia gesluit word en het kommer oor veiligheid as rede aangevoer.

Die owerheid het herhaaldelik beweer die kamp is ’n teelaarde vir Islamitiese terroriste, maar kon geen bewyse ter stawing hiervan voorlê nie.

Volgens menseregte-organisasies word vlugtelinge teruggestuur na ’n land waar meer as ’n miljoen mense haweloos is, vyf miljoen nie genoeg kos het om te eet nie, en waar magte van die Afrika-unie en Somalië steeds teen die Al-Kaïda-geallieerde Al-Sjabaab­-militante veg.

Die NRC sê benewens die nie-vrywillige aard van die terugstuur van vlugtelinge, bring die onveilige omstandighede in Somalië mee dat die terugkerendes se veiligheid nie gewaarborg kan word nie en dat basiese dienste in die land onvoldoende is.

Die Verenigde Nasies se agentskap vir vlugtelinge (UNHCR) is deur menseregte-organisasies gekritiseer vir hul ondersteuning van die nie-vrywillige repatriasies van Somaliese vlugtelinge. Verlede maand het die organisasie Human Rights Watch gesê die repatriasie word deur “vrees en wan­inligting” aangedryf.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.