Namibiese grondkonferensie afgestel weens droogte

Deel op

Die minister van grondhervorming in Namibië, Utoni Nujoma, het Woensdagoggend aangekondig die tweede nasionale grondkonferensie onbepaald uitgestel word.

Die besluit is geneem in die lig van die geldelike knyptang wat besuiniging deur die staat noodsaak, asook die droogte.

Die Namibiese regering tot hede reeds 11% van sy begroting aan die landbou en verwante ministeries bestee, luidens die Namibiese Landbou-unie se nuusbrief.

Dié fondse word aangewend om voedselsekuriteit vir sukkelende gemeenskappe te verseker, maar boere het nog geen droogtehulp ontvang nie.

In Junie is ‘n noodtoestand in Namibië afgekondig weens die waterskaarste, met sentrale damme wat gesamentlik slegs oor sowat 10% water bevat.

Die droogte wat tans groot dele van Suider-Afrika in ‘n wurggreep het, het reeds gelei tot ‘n inkrimping van drie komma drie persent op die bruto binnelandse produk in Suid-Afrika.

‘n Landbou-ekonoom aan die Noordwes-Universiteit se Potchefstroom-kampus, Flippie Cloete, het tydens ‘n diskoersgesprek by AARDKLOP-kunstefees gesê aanplantings van somergraangewasse is vanjaar reeds minder as verlede jaar, toe aanplatings ook weens die droogte in die wiele gery is.

Nog ‘n spesialisnavorser van droogtetoestande in die landbousektor by Senwes, Thuys Grobbelaar, het oor droogte by die Aardklop-kunstefees in Potchefstroom gepraat en gesê die huidige droogte is een van die ergstes sedert die 1960’s.

Grobbelaar sê produsente is in kosteknyptang vasgevang want dit raak al duurder om gewasse te plant terwyl die mark al laer pryse vir die produk aanbied.

Die Departement van Water en Sanitasie het gewaarsku dat die watervlakke in talle damme in Limpopo baie laag is en só ook die watertafel. Dit het daartoe gelei dat die departement en munisipaliteite waterbeperkings ingestel het in alle provinsies wat deur die droogte geraak word.

Die departement van Water se waarnemende streeksbestuurder in Limpopo, Rex Milne sê die watervlakke in damme in die provinsie staan op sowat 26% en grondwater het ook skerp afgeneem.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.