Motors: MX5 teenoor SLC

Almal droom daarvan om ‘n plat sportmotor te kan ry. Daar is al hoeveel liedjies daaroor geskryf maar min van ons kry ooit die geleentheid om dit werklik te ervaar!

In Suid-Afrika is daar ook nie so baie afslaankapsportmotors om van te kies nie; ons het die voorreg gehad om twee relatief bekostigbare afslaankapsportmotors vir ‘n paar dae te kon bestuur.

MX5 met kap opgeslaan
MX5 met kap opgeslaan

Mazda MX5

Die MX5 van agter
Die MX5 van agter

Die MX5 of Miata soos hy in die res van die wêreld bekendstaan, is nou in sy vierde generasie en in elk van die vorige generasies het die motortjie letterlik duisende eenhede wêreldwyd verkoop. Die rede? Wel eerstens is dit ‘n klassieke wenresep vir n sportmotor: die MX5 is klein, lig en maklik om te bestuur. Hy is agterwielaangedrewe met ‘n kort stert en lang neus. Die enjin is klein en baie lig maar tog kragtig. Kombineer die klein, ligte bakwerk met ‘n ligte, kragtige enjin en die wenresep is ‘n klassieke liggewigsportmotor.

Bakwerk

Die MX5 van die kant af
Die MX5 van die kant af

Mazda se MX5 is meer van ‘n evolusie as ‘n revolusie: die lyne is sag dog doelgerig en onmiskenbaar Mazda met min wat verander het deur die vier generasies. Die motor het ‘n klein bietjie langer en breër geword en die voor- en agterligte het heelwat verander, maar van enige kant af bekyk, kan die MX5 met geen ander motor ter wêreld verwar word nie. Die dak is in egte klassieke sportmotortradisie ‘n sagte lapdak wat nog met die hand op en af gevou moet word. Dit dra ook by tot die nostalgie van die egte sportmotorgevoel.

Binneruim

Die MX5 se instrumentepaneel
Die MX5 se instrumentepaneel

Die deure is lig en lank en neem nogal heelwat ruimte om oop te maak veral omdat jy werklik baie laag in die motor sit. Die deur moet wyd oopgemaak word om te kan in- en veral uitklim. Binne-in die nuwe MX5 is alles met sagte leer oorgetrek en daar is iets anders as in die vorige generasies: baie standaardtoerusting. Die leerstuurwiel het ‘n satellietknopppie wat die radio, volume en togbeheer, asook die telefoon kan beheer. Daar is klimaatbeheer, asook twee outimatiese kantruite, die motor bied sleutellose toegang wat beteken dat jy slegs die sleutel aan jou persoon moet hê om die deure oop te sluit, asook die motor aan te skakel. Daar is reënsensors om die ruitveërs outomaties aan te skakel wanneer dit begin reën, elektroniese wegvoubare kantspieëls, LED-xenonhoofligte met dagryfunksie wat outomaties aan- en afskakel na gelang van die lig rondom. Parkeersensors en ‘n trukamera is ook standaardtoerusting.

Die MX5 se binneruim
Die MX5 se binneruim

Die kajuit is baie gemaklik as jy eers jou sit gekry het, langer mense sal effens sukkel om n gemaklike bestuursposisie te vind want die sitplek kan net so ver teruggeskuif word. Die stuurkolom is wel vir reik en hoogte verstelbaar, asook die sitplekke. Die kort sportratkierie lê net reg in die hand en alle instrumente is baie duidelik leesbaar. Daar is n raakskerm wat op die instrumentepaneel gemonteer is wat funksies van die radio en klimaatbeheer, ensovoorts, aan die insittendes vertoon. Ons het weereens die ou probleem dat die skerm nie kan wegvou nie en lyk asof hy net ná die tyd daar vasgesit is.

Rit

Die MX5 se bagasieruim
Die MX5 se bagasieruim

Die MX5 se ritgehalte is een van sy beste eienskappe met ‘n baie presiese stuurgevoel en ‘n mens kan letterlik voel wat die motor onder jou sitvlak doen. Dit is asof jy deel is van die motor en nie bloot in hom ry nie. Wat bietjie pla, is dat die neus baie lank is en die bestuursposisie is laer as die neus so jy moet wyd draai en ver van randstene af parkeer omdat jy nie die neus kan sien nie. Die ligte massa van die motor maak hom dan ook baie vlugvoetig en die gevoel en die geluid van die enjin kan jou baie maklik laat vergeet dat hierdie motor eintlik nie so vinnig is soos wat hy voel nie. Die onderstel en vering is ook tipies sportmotor ferm, maar nie so erg soos baie van die blitsbukse soos die Honda Type R of Golf GTi Clubsport nie.

Enjin

Mazda se SKYACTIVE-enjintegnologie is seker vir ons van die gevorderdste enjintegnologie wat tans beskikbaar is. Mazda put byna dieselfde krag uit geen-turbo-enjins as wat al die ander vervaardigers met turbo-aanjaers uit hul enjins tap. Die MX5 is toegerus met n 2.0-literenjin wat 118 Kw lewer en 200NM. Dit lyk op papier nie na syfers wat die koppe sal laat draai nie, maar die verstommende aspek hiervan is dat die enjin se uitlaatgassyfer dieselfde is as ‘n 1.6-literenjin met 156 CO2g/km. Brandstofverbruik is ook in pas met ‘n turbo-aangejaagde enjin van dieselfde kapasiteit: slegs 6,7l/100km. Wat die werkverrigting aanbetref, voel die MX5 heelwat vinniger as wat hy werklik is, maar die 100km/u-merk word binne 7.3 sekondes bereik en die MX5 se asem raak anderkant 210km/u eers op. Met die dak afgeslaan, voel enige spoed oor 160km/u in elk geval te ongemaklik en buitendien waar in Suid-Afrika kan ‘n mens so vinnig ry? Die motor is ‘n regte sportmotor wat jou die wind-in-die-hare-gevoel gee, mooi lyk en maklik bestuur.

Gevolgtrekking

Teen R437 000 is die MX5 nie goedkoop nie, maar in sy segment en vir wat die motor jou bied, is dit n absolute winskoop. Mazda verkoop die MX5 met ‘n 3-jaar- onbeperktekilometerwaarborg en ‘n 3-jaar- onbeperktekilometerdiensplan as standaard.

Mercedes-Benz SLC 200
Mercedes-Benz SLC 200

Mercedes SLC 200 AMG Line

Die SLC het die SLK vervang, inderdaad eintlik maar dieselfde motor met ‘n ander naam. Dink ‘n mens aan SLC, dan sien jy die aflaankap-Mercedesse van die sewentigerjare. Daardie SLC was destyd die vlagskip in die Mercedes-modelreeks en het later net die SL geword wat ons vandag nog as die vlagskip van die hele Mercedes-modelreeks beskou. Met die nuwe benamings het Mercedes eintlik die hele reeks net so effens ontrimpel en nou maak alles bietjie meer sin.

Die SLK teenoor die SLC van die kant af
Die SLK teenoor die SLC van die kant af

Kortom, begin die reeks met die A-klas wat die intreevlakluikrug is, B-klas wat die gesinswaentjie is, C-klas wat die C-segment verteenwoordig, E-klas wat die D-segmentbesigheidsklas verteenwoordig en S-Klas wat die groot eksklusiewe klas verteenwoordig. Dan is daar al die G-klasse: as daar ’n G agter op ‘n Mercedes staan, beteken dit dat hy deel is van die veldryklas, so kry ons die GLA wat veldry-A-klas beteken, GLC wat veldry-C-klas beteken, GLE wat veldry-E-klas aandui en GLS wat natuurlik die S-klas se veldryer is. Die gewone G-klas is die rowwe, geenfeiterjasieveldryer wat afgelei is van die “Geländewagen” van die tagtigs. Dan kry mens die SL wat die vlagskipafslaankap-Mercedes is en die SLC wat eintlik net SL “Compact” beteken, met ander woorde ‘n kleiner, ligter weergawe van die SL. SL staan natuurlik vir “Sport Light”.
Dít nou daar gelaat. Ons het die SLC 200 AMG Line vir ‘n paar dae onder hande geneem.

Bakwerk

SLK-agterligte
SLK-agterligte

Soos in tipiese Mercedes-styl skreeu die SLC klas én styl. Daar is net geen ander motor wat dieselfde gevoel as ‘n Mercedes bied nie. Die SLC verskil baie min van die SLK wat hy vervang het. Daar is aan die voorkant ander hoofligte en ‘n ander lugskort in die voorste buffer, die dagryligte is nou deel van die hoofligte en nie meer soos in die SLK ‘n aparte ry liggies onder die hoofligte nie.

SLC-agterligte
SLC-agterligte

Agterlangs is dit slegs die uitlaatpype wat nou meer deel van die bakwerk lyk en dan natuurlik die kenteken wat SLC lees. Die wit truliggies is nou aan die onderkant van die agterste lig en nie meer aan die bokant soos dié van die SLK nie. Die sierrooster van die SLC is ook meer gerond as dié van die SLK. Die basiese resep van sportmotorontwerp soos met die MX5 is nog steeds hier sterk teenwoordig met ‘n kort stert en lang neus. Baie klein oorhange voor en agter. Die SLC lyk werklik soos n mini-SL met stukkies wat aan die SLS asook die GT herinner.

Binneruim

SLK-ratkierie
SLK-ratkierie

Wat die binneruim aanbetref, is die SLC byna identies aan die SLK, die kort ratkierie wat dieselfde is as in die AMG GT-motor en ‘n meer geronder middelste gedeelte van die stuurwiel wat identies is aan die nuwe C-klas, verteenwoordig die groot verskille. Verder is die kleurskerm in die bestuurder se ooglyn tussen die spoed en toeremeter ook ‘n nuwer weergawe as in die SLK.

SLC-ratkierie
SLC-ratkierie

Toerusting en bougehalte is uit die boonste rakke met swart leer wat alles bedek van die stuurwiel tot die binnekant van die deure. Alle instrumente is duidelik leesbaar met ‘n logiese uitleg. Daar is afstandbeheerde knoppies op die stuurwiel vir die radio, togbeheer en om die aanboordrekenaar se funksies te beheer. In die SLC is die dak ook afslaanbaar soos in die MX5, maar hier gebeur alles elektronies. Wanner die dak heeltemal afgeslaan is, neem dit nogal heelwat plek in die begasieruim op en kan daar slegs klein plat items ingelaai word. Met die dak toegemaak, bied die SLC 335 liter se pakplek, met dak oop krimp dit na 225 liter toe, en toegang is baie beperk.

Enjin

SLC van die kant af
SLC van die kant af

Ons toetsmotor is toegerus met Mercedes se 2.0-literturbo-aangejaagde enjin wat 135 Kw lewer en 300 Nm se wringkrag te danke aan die turbo. Brandstofverbruik is 6,1l/100km en uitlaatgasse is 143g/km. Daar is n 9-spoed- outomatiese ratkas wat ook deur middel van trekpedale agter die stuurwiel die bestuursgenot so bietjie kan aanvul. Ratskakelings is seepglad en die 2.0-literenjin grom erg soos ‘n dier in ‘n hok wanneer die lepel bietjie plat getrap word. Verrigting is 6,9 sekondes van rus tot 100km/u en ‘n heel onwettige 237 km/u-maksimumsnelheid.

Gevolgtrekking

Die verskil tussen die MX5 en die SLC 200 is natuurlik die prys van die Benz wat R234 000 meer is, maar die ooreenkomste is volop. Albei is liggewigsportmotors met hope skop, albei is toegerus met alledaagse luukses wat dinge binne-in die motors net soveel lekkerder en gemakliker maak. Die verrigting is so naby aan mekaar dat jy werklik ‘n goed geskoolde renjaer en natuurlik ‘n renbaan gaan nodig hê om ‘n wenner te kan kies. Wat lengte aanbetref, is die SLC slegs 2cm langer as die MX5 en minder as 1cm breër. Die MX5 is wel 7cm laer as die SLC maar die SLC se grondvryhoogte is weer 3,8cm laer as dié van die MX5. Wat ander mededingers aanbetref, is daar nie werklik enige iets anders wat meeding nie. Mens kon dalk die Alfa 4C Spider ook hier inreken maar Alfa bemark die 4C Spider teen dubbel die R702 000 van die SLC en dan kry jy ook nie naastenby soveel motor soos die MX5 of die SLC nie. Porsche se Boxster is ‘n ander mededinger, maar teen byna R80 000 duurder as die SLC bly die MX5 en die SLC die twee mees bekostigbare opsies in die sportmotorklas.

Mazda MX5 R437 300

Prys 5 uit 5
Voorkoms buite 3 uit 5
Binneruimgehalte en afwerking 5 uit 5
Ruimte en praktiese toepassing 3 uit 5
Agter die stuur 4 uit 5
Enjin en ratkas 5 uit 5
Op die pad 4 uit 5
Veiligheid 5 uit 5
Totaal 34 uit 40

Mercedes SLC 200 AMG Line R702 222

Prys 3 uit 5
Voorkoms buite 5 uit 5
Binneruimgehalte en afwerking 5 uit 5
Ruimte en praktiese toepassing 4 uit 5
Agter die stuur 5 uit 5
Enjin en ratkas 5 uit 5
Op die pad 5 uit 5
Veiligheid 5 uit 5
Totaal 37 uit 40

 

 

 

 

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.
  • Rooikop

    Net vrouens en haarkappers ry plat karre met afslaankappe.

    • Karel Combrinck

      Net dokters en tandartse se vrouens en hulle haarkappers!
      Nietemin dankie André vir ‘n interessante en goedgeskrewe artikel.

      • Rooikop

        Stem saam die artikel is goed geskryf.