Multimiljoenrandse projekte van die Vrystaatse Onderwysdepartment en die nasionale Departement van Basiese Onderwys – waaronder die nuut geboude Heide Primêre Skool in Heidedal, Bloemfontein – word nou ondersoek.
Die ondersoek is geloods deur die Spesiale Ondersoekeenheid (SOE). Dié skool vorm deel van ‘n lys van tien skole in die Vrystaat wat deel uitmaak van die proklamasie vir die ondersoek wat in die Staatskoerant gepubliseer is.
Die proklamasie lees dat ‘n ondersoek gelas word nadat daar “verskeie bewerings” in verband met die aangeleenthede van die Onafhanklike Ontwikkelingsraad (OO), die Departement van Basiese Onderwys en die Departement van Onderwys in die Vrystaat gemaak is.
Die Heide Primêre Skool (foto) was sedert die begin van bouwerk aan die nuwe skoolgebou in omstredenheid gedompel. Die bou van die skool, wat aanvanklik net nege maande sou duur, is ná drie jaar eers voltooi.
Bouwerk is verkeie kere tot stilstand geruk deur protesoptogte van die gemeenskap en/of die nie-betaling van kontrakteurs.
Leerlinge het uiteindelik aan die begin van die vorige kwartaal die nuwe skoolgebou betrek.
Bron: OFM