Leon Lemmer: Die aktualiteit van verraad

Deel op

In sy boek, Three Years’ War (New York: Charles Scribner’s Sons, 1902, 416p; Amazon Kindle $0),* oor die Anglo-Boere-oorlog (ABO, 1899-1902), skryf Christiaan de Wet (1854-1922) in hoofstuk 2: “The English only learned the art of scouting during the latter part of the war, when they made use of the Boer deserters – the ‘Hands-uppers.’ These deserters were our undoing … I shall not hesitate to call them by their true name – the name with which they will be for ever branded before all the nations of the world” (Kindle 292). Dit is duidelik dat De Wet so gou moontlik sy absolute weersin in verraaiers in sy boek wou dokumenteer. “It was far easier to fight against the great English army than against this treachery among my own people, and an iron will was required to fight against both at once” (1372). De Wet het ‘n hensopper as ‘n lafaard beskou, “a man who in the future could never again look any one in the face” (2054). Oor ‘n spesifieke voorval skryf hy: “What made this so hard to bear was that treachery had a hand in it – when the English took the Government and President’s Steyn’s bodyguard prisoner, they had had a Free State burgher as their guide” (3128). [* Ek het toegang tot die Engelse vertaling; ongelukkig nie tot die oorspronklike Hollandse (“Dutch” – 10) teks, Strijd tusschen Boer en Brit, nie.]

Dit is noodsaaklik om ‘n duidelike onderskeid te tref tussen ‘n hensopper en ‘n hanskakie, joiner of verraaier; iets wat De Wet nie in sy terminologie doen nie, hoewel dit duidelik is dat sy afsku eerder op die hanskakie as die hensopper gemik is. ‘n Hensopper is ‘n Boer/Afrikaner wat sonder óf te veg, óf wat gedros het nadat hy ‘n tyd lank aan die kant van die Boere geveg het, hom aan die oorlog onttrek het, aan die Britte oorgegee en die eed van neutraliteit by die Britte afgelê het. ‘n Hanskakie is ‘n Boer/Afrikaner wat hom van die begin van die oorlog af, of nadat hy ‘n ruk lank saam met die Boere geveg het, aan die Britte oorgegee en na die vyand oorgeloop het deur die eed van getrouheid aan die Britse kroon te sweer. Hanskakies het daarna aktief aan die Britse kant teen die Boere aan die oorlog deelgeneem. Dit is hulle wat volgens De Wet net smaad verdien. Teen die hensoppers wat moed opgegee het omdat hulle gedink het die oorwinning kon nie behaal word nie, het De Wet dit nie so erg gehad nie.* Hy wou hulle nie as soldate terughê nie, tensy hulle gemotiveerd was om uit eie beweging weer die wapen op te neem. “I was of opinion that a coerced burgher would be of no real value to us, and would besides be untrustworthy” (2012). ‘n Geval van: Met onwillige honde vang jy nie hase nie. [* Ook omdat “the British Government had been doing its utmost to induce the burghers to commit treason” (JD Kestell, bron hier onder, Kindle 2667).]

Naas die Boere uit die twee Boere-republieke wat hensoppers of hanskakies geword het, was daar Afrikaners uit die Kaapkolonie en Natal wat saam met die Britte teen die Boere geveg het. De Wet skryf: “There was not a man amongst us who would have asked better than to make prisoners of the Cape Mounted Rifles and of Brabant’s Horse. They were Afrikaners, and as Afrikaners, although neither Free-Staters nor Transvaalers, they ought, in our opinion, to have been ashamed to fight against us. The English, we admitted, had a perfect right to hire such sweepings, and to use them against us, but we utterly despised them for allowing themselves to be hired. We felt that their motive was not to obtain the franchise of the Uitlanders, but five shillings a day! And if it should by any chance happen that any one of them should find his grave there – well, the generation to come would not be very proud of that grave. No! it would be regarded with horror as the grave of an Afrikaner who had helped to bring his brother Afrikaners to their downfall. Although I never took it amiss if a colonist of Natal or of Cape Colony was unwilling to fight with us against England, yet I admit that it vexed me greatly to think that some of these colonists, for the sake of a paltry five shillings a day, should be ready to shoot down their fellow-countrymen. Such men, alas! there have always been, since, in the first days of the human race, Cain killed his brother Abel. But Cain had not long to wait for his reward!” (1020).

Die Britte het in die tweede helfte van die ABO, die guerrilla-fase, ‘n beleid van verskroeide aarde gevolg deur die huise en plase van vegtende Boere en selfs van hensoppers te vernietig omdat hulle die Boere in hulle oorlogvoering ondersteun het deur bv kos en perde aan hulle te voorsien. Baie van hierdie vroue en kinders is na konsentrasiekampe weggevoer. “They were driven out of their houses, and had to see their dwellings burnt down or destroyed before their very eyes. Could inhumanity go further? … All the food of the women was carried away or scattered upon the ground; and it was only through the kind-heartedness of here and there a more humane officer, or of some simple ‘Tommy,’ that a dish of flour was secretly left behind for the housewife. What made everything still more sad was the great service rendered by traitorous Africanders as guides to the enemy … These Africanders made it possible for the English to travel long distances at night, and, acquainted as they were with the habits of their countrymen, they enabled the English to capture Boers, or to seize cattle, where otherwise they would have been unable to do so, or at least could not have done so without infinitely more trouble. How must every noble sentiment have been stifled in these men! It is impossible to comprehend how they could have endured listening to the constant abuse which in the camps was heaped on their own race – incomprehensible how they could constantly, from one farm to another, look on the misery which they were helping to bring upon women and children – who were their own flesh and blood” (JD Kestell, Through shot and flame, London: Methuen, 1903, 406p; Amazon Kindle $0, 2456).

John Daniël Kestell (1854-1941) is in Natal gebore met ‘n Engelse pa en ‘n Afrikanerma. Hy was die predikant van die NG-gemeente op Harrismith. Gedurende die ABO was hy ‘n kapelaan vir die Boere-soldate. Oor 1902, dus oor die laaste maande van die oorlog, skryf Kestell:

“That our people as a people remained steadfast became more and more evident to me. However much our numbers in South Africa may have become diminished through the deportation of great numbers, and through the still greater numbers who had lost courage and had surrendered, our people as a people still always continued to exist. This the English were anxious te deny. They were fond of asserting that it was only a small fraction of the people that still resisted. This was not the case. It is true that it was only a minority that were still able to continue the struggle; but the heart of the nation, as a whole, was still always faithful. The majority of our prisoners-of-war had remained loyal to the cause. The majority even of those who in their dejection laid down their arms had no desire to remain under British rule … If there were hundreds of our flesh and blood siding with the British, then there were thousands who did not. Even those on whom the depressing influence of imprisonment must have had a baneful effect remained irreconcilable, and showed it in every way” (2667).

In sekere opsigte word die geskiedenis herhaal. Veral sedert 1994 het die getal Afrikaners in Suid-Afrika weens emigrasie gedaal en het daar ‘n sifting plaasgevind in die geledere van dié wat in Suid-Afrika aangebly het. Baie van diegene wat eens Afrikaners was, het hulle gatte geswaai en hulle Afrikanerskap versaak. Byvoorbeeld, ‘n mens kan tereg vra: Waar is al die Broeders heen? Gelukkig het die gesonde kern van Afrikaners oorgebly; mense wat volhou om vir die behoud van hulle waardes en taal te veg. Hulle vorm ‘n klein minderheid in ‘n verswelgende swart meerderheid.

Dit was veral Vrystaters, soos Marthinus Theunis Steyn (1857-1916) en Christiaan de Wet, wat bittereinders was en nie aan die Britte wou oorgee nie. Kestell skryf:

“There was, notwithstanding all the destruction, no thought of surrender … let the enemy do his worst. Let him ruin us completely if it was our fate to be overwhelmed. The English had to do with a people who were no barbarians, but with a race sprung from the same stock as themselves – with the offspring of ancestors who had sacrificed everything for their Faith – with descendants of forefathers who had contended for eighty years against a great world power. Such means, therefore, as Great Britain had for the last fifty years been in the habit of employing against barbarous or semi-barbarous races had till now failed signally when applied to the people of South Africa” (2115).

In sy wildste drome sou Kestell nie kon voorsien nie dat slegs ‘n halfeeu na sy dood in 1941 die Europese oftewel blanke beskawing in Suid-Afrika sou verkrummel voor terrorisme en geweld en ten prooi van afrikanisering val. Nog minder sou Kestell kon dink dat ‘n klein groepie Afrikaanssprekende blankes op verraderlike wyse die leiding in hierdie projek sou neem. Daardie verraaiers word verloopte Afrikaners genoem. Sommige van hulle en hulle navolgers is boonop hanskakies in dié sin dat hulle voorkeur aan Engels bo Afrikaans gee.

Ek het by ‘n vorige geleentheid oor een van die bekendste hanskakies, Christiaan de Wet se broer Piet (1861-1929), geskryf (Praag 30.07.2016). Ek het dit gedoen na aanleiding van Albert Blake se boek, Broedertwis: Bittereinder en joiner: Christiaan en Piet de Wet (Kaapstad: Tafelberg, 2016, 314p, R240; Amazon Kindle $16,01). Daarin word Bram Fischer (1908-1975) en Beyers Naudé (1915-2004) verloopte Afrikaners genoem. Christiaan de Wet het so ‘n renons in hanskakies gehad dat hy gedreig het om Piet soos ‘n hond dood te skiet. Piet het die Britse oorlogspoging goedgepraat terwyl Chistiaan die hanskakies as die moordenaars van die vroue en kinders in die konsentrasiekampe uitgekryt het. Die twee broers het nooit versoen geraak nie. Christiaan was van mening dat dit goed was dat daar ‘n sifting in Boere-geledere plaasgevind het. Die afmetings wat die hanskakiesindroom aangeneem het, blyk uit die volgende statistiek: Teen die einde van die oorlog was 5 464 burgers in Britse diens teenoor 17 000 tot 20 000 bittereinders. Na die oorlog het die Britse owerheid beter skadevergoeding aan die hensoppers en veral aan die hanskakies as aan die krygsgevangenes en bittereinders uitbetaal. Dit het stukrag aan Afrikanernasionalisme gegee. In hierdie proses is die hensoppers makliker en gouer as die hanskakies vergewe.

In Anna Barry (1884-1964) se dagboek word onder meer vertel van haar pa, Thomas, wat ‘n veldkornet in die ABO was maar uit moedeloosheid ‘n hensopper geword en die eed van neutraliteit afgelê het (Praag 4.09.2016). Soos in die tweede paragraaf hierbo, tref Anna ‘n skerp onderskeid tussen ‘n hensopper en ‘n hanskakie. In die geval van die hensoppers onderskei sy verder tussen dié wat soos haar pa aanvanklik in die ABO geveg het en diegene wat nooit aan Boerekant geveg het nie. Sy veroordeeld die gedrag van hanskakies ten sterkste, bv dié van Piet de Wet .

Barry skryf van ‘n Bestendig de la Harpe en dat die De la Harpe-familie hulle reeds vroeg in die ABO in Basoetoland tuisgemaak het (p 123; ook 126, 135, 136, 143, 144; na-ABO: 153, 163, 166). “Hulle het nie een lid van hulle groot familie in die oorlog verloor nie, daar is nie een in ‘n krygsgevangenekamp of in ‘n vrouekamp nie en maande gelede het hulle reeds oor die Caledon[-rivier] gevlug. Ons verskil hemelsbreed in ons opvattings tov die oorlog en ons onafhanklikheid” (133). Na die ABO vind die De la Harpe egter dat hulle huis in die Vrystaat afgebrand is “en alles is vernietig” (151). Hulle het ook ‘n neef verloor wat in die ABO doodgeskiet is (154). Die De la Harpe het Barry genoop om graadverskille by hensoppers te beklemtoon. Oor SG Vilonel (kyk hier onder) skryf Barry: “Ook hoor ons dat Vilonel van Senekal nou werklik aan die hoof van ‘n burgerwag is wat teen ons eie mense veg. Dit is ongelooflik en skandelik” (136) en “‘n Ierse parlementslid … het … gesê … dat hy Vilonel as ‘n lae verraaier beskou. Ek is nie verwonderd dat Vilonel selfs die veragting van die buitewêreld op hom gehaal het nie” (142).

Alexander Strachan se roman, Brandwaterkom (Kaapstad: Tafelberg, 2015, 383p, R260; Amazon Kindle $20) is onlangs met ‘n prys bekroon. Veral die Oos-Vrystaatse dorpe Senekal, Fouriesburg en Ficksburg word betrek, dus dieselfde geografiese gebied as in Barry se dagboek. Aan die einde van hoofstuk 2 staan: “Wat wou die kom [die Brandwaterkom] vir my sê? Net ‘n veraf geruis, ‘n ligte wind of dalk die fluistering van verraad?” (p 11). Die ABO is ook die hoofonderwerp van hierdie boek, maar die fokus is op die hanskakie, Stephanus Gerhardus (Fanie) Vilonel (1866-1918). Let deurgaans op hoe die leser voorberei word op Vilonel se oorlopery na die Britte. Die naam van ‘n ander verraaier, Piet de Wet, duik ook in die teks op (95, 262).

Daar word na Bestendic de la Harpe verwys (97) en na twee boeke van WH de la Harpe wat oor Fouriesburg en die ABO handel (161, 379). In die bibliografie is daar geen verwysing na Barry se dagboek of Albert Blake se 2016-boek oor die De Wet-broers nie. Hierdie boek van Blake en die tweede uitgawe van Barry se dagboek is na Strachan se boek gepubliseer. Daar word wel verwys na ‘n vroeëre boek van Blake, Boereverraaier: Teregstellings tydens die Anglo-Boereoorlog (Kaapstad: Tafelberg, 2010, 368p; Amazon Kindle $11,96) en die bogenoemde boeke van Christiaan de Wet en JD Kestell (379-380), asook na die 2013-rolprent, Verraaiers (250, 383). Dit lyk asof Strachan die geskiedenis van die ABO deeglik nagevors het.

Voor die ABO was Vilonel ‘n prokureur op Senekal wat geweet het hoe om homself finansieel as bv boedelberedderaar en afslaer te bevoordeel. Later word hy die stadsklerk. Hy het op Edenburg skoolgegaan en “verkies om Hollands te praat” (258) maar die “Engelse taal [het] net so gemaklik as Hollands in sy mond gelê” (259). Sy mate van Engelsgesindheid skemer van meet af deur in bv sy liefde vir krieket en sy aangetrokkenheid tot ‘n Skotse dame, miss L Sutty. Hy hou van Engelse leesstof (106) en het geen erg aan boeresport nie (60).

In 1893 was Vilonel die Vrystaatse skyfskietkampioen (46). Met die uitbreek van die ABO is hy ‘n veldkornet vir die Winburg-distrik, waaronder die Senekal-kommando ressorteer (67). Later is hy tot kommandant bevorder (207). Hy bewonder die korrektheid, stiptelikheid, netheid asook die “geordendheid en dissipline” van die Britse magte (87). Daarenteen word van die Boere-magte gesê: “Die kommandolewe en dissipline was nog lank nie in die burgers se bloed nie. Veral tydens nagmarse het elke burger, ongeag bevele, sy eie kop gevolg. Die verbod op rook is in die wind geslaan” (111). Ook: Hoofkommandant Marthinus “Prinsloo laat op die nippertjie weet die aanval kan onder die omstandighede nie voortgaan nie – hy en sy offisiers wil daardie dag ‘n veeveiling op Harrismith gaan bywoon! … Watse voorbeeld stel hy aan die klomp wat gedurig om verlof kla sodat hulle na hul eie boerderye kan gaan omsien?” (188).

“Tog kan Vilonel amper nie anders as om iets van ‘n bewondering vir die vyand te ervaar wat so doodsveragtend voor die Boerekoeëls hurk onderwyl hulle roerloos* op die vuurbevel wag nie” (89). Op die slagveld onderskei Vilonel hom as ‘n hoogs suksesvolle skerpskutter. Dit lyk “asof die kommandant se geweer om ‘n hoek kan skiet” (105). Dit is ‘n geval van “Vilonel wat al hoe meer die man word” (93), dus aansien as soldaat geniet. “In Senegal bereik allerhande berigte uit die slagveld hulle. Ja, sy slag met die mauser het hom vooruitgeloop. Die dorp is trots op hom” (207). Terselfdertyd voel sy vrou, Sarah, al hoe sterker daaroor dat hulle hulle liewer in die Kaapkolonie moet hervestig (102). “Hoekom wil sy [Sarah] so graag uit Senekal padgee dat sy selfs bereid is om die Boeresaak te versaak?” (225). [* ‘n Ongelukkige woordkeuse. “Roerloos” beteken hier sonder om te beweeg; nie om sonder gewere te wees nie.]

Tydens die bestorming van Platrand is Vilonel nie waar hy behoort te wees nie. “‘Waar is die Senekallers en die Winburgers?’ Die groepie kyk om hulle rond. ‘En waar is Vilonel, die bobaasskut op wie se roer almal altyd so staatmaak? Geen Boer is dan in sig nie'” (128). “Vilonel? Ja, waar was die geleerde prokureur van Senegal? … Tog bly die spraaksame kommandant van Senegal swyg” (130). Vilonel word uitgebeeld as ‘n intelligente en strategiese vegter wat die Britse soldate by hulle plek van aankoms wou keer pleks van te wag totdat hulle hulle in die binneland bevind. “Tot aan die einde glo Vilonel die Kakieversterkings kon gestuit gewees het toe hulle by Durban-hawe voet aan wal gesit het. Moenie die vyand voorsit nie, gaan hom tegemoet” (111). “Hy praat in die laaste Nataldae* al hoe minder, die gesit rondom Ladysmith kry sy geduld onder. Hy sukkel met die gesag bokant hom. Nie almal kom sy ongedurigheid agter nie, maar die stilsit is een van die redes … Met die uitbreek van die oorlog was daar maar ‘n aks meer as 27 000 Britse soldate in die land teenoor die amper 55 000 weerbare burgers. Hoekom nou die Engelse tyd gun om hul getalle aan te vul totdat hulle die Boeremag op die ou einde heeltemal gaan oorskadu?” (101-102). [* Vilonel sê: “Dit voel of al die maande daar verniet was … As ons die oorlog gaan verloor, is dit juis oor die leeglêery by Ladysmith. Generaal Piet Joubert wou nie dat ons die Engelse doodskiet toe ons hulle in die hand gehad het nie” (202).]

Teen die middel van die drie jaar wat die ABO geduur het, het “die oorlog … ‘n verkeerde afdraaipad gevat” (254). Baie Boere se hoop op ‘n oorwinning het gekwyn. “Oral om hom kan Vilonel die neerslagtigheid sien” (254). “Die Boere is nou oorlogstam” (256). Vilonel het moeilik gesag oor hom geduld en nie goed met Christiaan de Wet oor die weg gekom nie. “‘n Perd en ‘n os trek nie aan dieselfde juk nie” (263). “Hoe verder van De Wet af, hoe gemakliker voel hy” (256). Om die Boere in staat te stel om vinniger te beweeg en meer doeltreffend te veg, gee De Wet opdrag dat geen waens met vroue, kinders en voorraad meer toegelaat sal word om saam met die vegters te trek nie. In Vilonel se kommando was daar ‘n dertigtal waens maar hy ignoreer De Wet se opdrag. “Maar steeds gee die kommandant van Senekal nie bes nie” (261).

By De Wet kla Vilonel: “Die rol van die skerpskutter word nog heeltemal geringgeskat” (263). “Het Vilonel sy hand doelbewus oorspeel omdat hy nie langs De Wet wou inval nie?” (263). “Sy lewe lank het dit hom [De Wet] nie aangestaan as iemand trag om hom te dwarsboom nie” (274). De Wet sê aan Vilonel: “Jy sal al my bevele gehoorsaam. So nie, moet jy as kommandant bedank. Andersins gee ek jou self jou ontslag” (263). “Ek bedank” sê Vilonel (263). De Wet: “Jy is verlaag tot ‘n gewone burger en ek soek jou in ieder geval nie meer in my geledere nie” (264). Dan word hierdie woorde De Wet in die mond gelê, dieselfde as wat hy van sy broer Piet gesê het: “As ek daardie man [Vilonel] weer raakloop, skiet ek hom soos ‘n hond dood” (264). “Toe die waens wat hy so verdedig het, stadig wegdraai van die hoofkommando af terug in die rigting van Senekal, besef Vilonel die laaste spyker is in die kis geslaan. Voortaan gaan hy sy lyf skaars hou; hy staan nou op sy eie” (274). “Die naam De Wet [is] een van die bitterste pille wat hy nog op sy tong geproe het” (276).

Oor later in die ABO word gesê: “Die joiners van die omgewing het aan dieselfde Britse korps behoort, die Vallentin’s Heidelberg Volunteers. ‘n Groep Engelse en Afrikaanse vrywilligers wat wapen neergelê en by die Britte gaan gatkruip het, soos die mense gesê het” (196). Toe daar destyds, anders as deesdae, na “die mense” verwys is, is blankes bedoel. Daar is die volgende stelling oor Britse imperialisme: “Dit is nou eenmaal van ‘n Engelsman. Alleen sal hy vir jou nie alleen los nie. So nooit as te nimmer. Sodra jy dink jy het nes geskop, kom klop hy maar net weer aan jou voordeur. Dit het ek uit die geskiedenis geleer. Daarom was die oorlog vir my niks nuuts nie. Ek het die Kakies sien kom soos die oosteson wat soggens oor die bergtop loer” (215).

Na sy ontslag het Vilonel geredeneer: “Die magtige Engeland kan tog nie deur die hand vol Boere verslaan word nie” (278). “Weens die hopeloosheid van die ongelyke stryd het ek besluit om my aan die oorlog te onttrek” (329). Hy het “in Basoetoland ‘n draai loop maak om hom te vergewis van die situasie daar … Daar het hy die Fouchés raakgeloop en op troppe en troppe vee van oorlogsontduikers afgekom” (278). Die verwysing is na die ouers van Jacobus Johannes (Jim) Fouché (1898-1980), die tweede staatspresident van Suid-Afrika (1968-1975). Tydens die bewind van die Nasionale Party is gepoog om die Fouchés se status as lafhartige ABO-ontduikers dig te hou. Nasionale Pers was toe ook nie gewillig om inligting hieroor te publiseer nie.

Vilonel se vrou, Sarah, het sy uittrede uit die ABO verwelkom. “Fanie, ek is bly jy is uit die oorlog; ek het van die begin af geen sin daarin gehad nie” (299). Maar sy het ook gesê: “As jy nie voortaan heeltemal neutraal in die oorlog staan nie, is jou [prokureurs]kantoor die eerste wat in die slag gaan bly” (299). ‘n Britse bevelvoerder, Leslie Rundle, het dit bevestig. “As Vilonel nie oorgee nie, is die uiteinde onafwendbaar. ‘It will leave me with no choice but to burn your office down'” (340). Vilonel se Skotse vriendin, miss Sutty, het sy onttrekking as Boere-soldaat veroordeel: “My people never quitted the battlefield!” (339).

Vilonel het probeer om veldkornet Hans van Rooyen en sy manskappe te oorreed om aan die Britte oor te gee. ‘n Strik is vir Vilonel gestel en hy is deur die Boere gevange geneem presies soos Christiaan de Wet in sy boek vertel. Hy word aan hoogverraad skuldig bevind en tot “vyf jaar gevangenisstraf met hardepad” gevonnis (352). Vilonel is deur die Britte bevry en sy vonnis is “deur die Britte ter syde gestel” (369). Teen die einde van die boek word genoem dat Vilonel “beoog om Boere te werf vir die Orange River Colony Volunteers. As leier van die Britse kommando gaan hy die Boere met die geweer aandurf om sodoende die oorlog tot ‘n spoedige einde te bring” (374). Vilonel was dus nie net ‘n hensopper wat die neutraliteitseed afgelê het nie, maar ‘n hanskakie of joiner wat die eed van trou aan die Britse kroon gesweer het. Hy was in ‘n gewapende skermutseling met die Boere betrokke maar het daarin geslaag om te ontsnap (375).

Die hoofkarakter in Strachan se boek, Esther van Emmenes, doen navorsing oor Vilonel en haar aandag is op die ABO toegespits. Sy word (deels) gemotiveer deur ‘n familielid wat destyds lid van die Vallentin’s Heidelberg Volunteers was en as hanskakie deur die Boere ter dood veroordeel is (268). Sy stam “uit die joinerfamilie Van Emmenes, van Heidelberg” (334). Oor die latere Grensoorlog sê sy: “Die Grensoorlog? Snaaks dat dit skaars ‘n indruk op my gemaak het” (143). Dit lyk asof sy onbetrokke by, of afwysend oor, die Afrikanergeskiedenis sedert bv 1948 is.

‘n Ander karakter, Bullet, was ‘n soldaat in “die Bosoorlog” (159) en bring sommige van die werklikhede van ons onlangse verlede onder Emmenes se aandag. “Ons het ook ons helde gehad. Maar dinge het oornag verander” (193). Daarop reageer sy soos volg: “Ons het almal hang-ups. Lyk my jy sukkel om dit uit jou sisteem te kry” (159). Soos deesdae in die mode is, verwys sy na “‘n geskiedenis met sy wortels in die tyd lank vóór 1652 – Jan van Riebeeck se ‘volksplanting'” (147). Haar waardes is klaarblyklik anders as dié van nie-verloopte Afrikaners.

Die kykNet/Rapport-fiksieprys vir 2016 is aan Strachan vir Brandwaterkom toegeken. In die commendatio verwys Frederik de Jager na die “versaakte soldate” van die Grensoorlog en “die implisiete verraad van die apartheidsowerheid teenoor die soldate soos Bullet … Uiteindelik is dit verraad wat onderliggend aan die hele boek lê” (LitNet 27 September).

Die hoofkarakter, Emmenes, vors die geskiedenis van ‘n verraaier, Vilonel, na. In daardie sin is verraad die tema van die boek. Maar daar is geen bespreking van wat verraad is nie en nog minder word daar oor die etiek van hierdie verskynsel besin. Die rede waarom Emmenes nie teen verraad te velde trek nie is moontlik omdat sy uit ‘n joinerfamilie stam. In daardie sin is die hoofkarakter verkeerd gekies. Aan die ander kant is dit sekerlik vir iemand moontlik om ander waardes as jou voorgeslag te hê. Byvoorbeeld, dink aan die mate waarin rassesegregasie- en apartheidondersteuners deesdae verdoem word. ‘n Duidelike en skerp veroordeling van verraad kon dus in die mond van Emmenes gelê word, maar so iets kom nêrens in die boek voor nie.

Die Grensoorlog waarin ‘n ander karakter, Bullet, geveg het, word sydelings betrek en nie afdoende in die verhaal geïntegreer nie. Dit bly ‘n randeier. Daar word glad nie duidelik beswaar gemaak teen die versaking deur die Suid-Afrikaanse regering van dít waarvoor die soldate geveg het nie. Die waarheid is dat die soldate wat in die Grensoorlog geveg het inderdaad kan voel dat hulle tevergeefs geveg het, want eers is Suidwes-Afrika aan die vyand oorgegee en daarna Suid-Afrika. Dit geld eintlik ook Rhodesië omdat die Suid-Afrikaanse regering sy ondersteuning van Ian Smith se bewind beëindig het. Eerste minister John Vorster het toegegee aan Henry Kissinger, die Amerikaanse minister van buitelandse sake, se eise. Peter Carrington, die Britse minister van buitelandse sake, het daarna die blanke bewind in Rhodesië vernietig. Terloops, albei hierdie bliksems, Kissinger (gebore in 1923) en Carrington (gebore in 1919), lewe nog.

Maar my politieke beswaar teen die boek is dat die hoofverraad wat in 1990/94 in Suid-Afrika gepleeg is nie deur Strachan en dus ook nie in De Jager se commendatio ter sprake gebring word nie. Magsdeling is aan die blanke kiesers belowe en magsoorgawe is aan hulle opgedring. Toe die meerderheid blanke kiesers ten gunste van magsdeling gestem het, was hulle onder die indruk dat die plegtige belofte nagekom sou word waarvolgens die finale ooreenkoms tussen die Nasionale Party-regering en die terreurgroepe in ‘n tweede referendum aan die blanke kiesers vir goed- of afkeuring voorgelê sou word. Dit is nooit gedoen nie. Dít is verraad in sy suiwerste vorm.

In die ABO het verraaiers uit eie geledere die Boeresaak onberekenbare skade berokken. Die nuwe Suid-Afrika het tot stand gekom nadat ‘n klein groepie veral Afrikaanssprekende blankes verraad teenoor die blanke kiesers en hulle nageslag gepleeg het. Dat die nuwe Suid-Afrika bestaan en hoe hy is, kan aan verraad toegeskryf word. Die blanke soldate wat verloën is, was net ‘n fraksie van die kiesers. Die politieke magsoorgawe het die belange en toekoms van al die blankes aangetas.

In my jeug het ons van iets wat heeltemal onverstaanbaar was of teen ons grein gegaan het, gesê: Dit is my gat se deksel. Dit is my gat se deksel dat ons verraaiers nie ‘n lae profiel handhaaf en uit die openbare oog bly nie. In plaas daarvan maak hulle hulleself wys dat hulle gepresteer het, bv dat die uitverkoping van die blankes ‘n burgeroorlog verhoed het. Pleks van laag te lê en weg te raak, soek hulle eer en publisiteit vir hulleself. Net die vyand en verloopte Afrikaners bied lippediens aan hierdie verraaiers. Hopelik sal (sommige) historici hulle vorentoe realisties beoordeel.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.