Minstens 330 dood na orkaan Haïti tref

Die presidentsverkiesing in Haïti moes uitgestel word weens die orkaan Matthew en minstens 330 mense is in Haïti en die Dominikaanse Republiek dood in die verwoesting.

Wat beskryf word as mees verwoestende Karibiese orkaan in byna ‘n dekade, het Haïti Dinsdag getref met winde van 230 km/h, storm­reën en reusegolwe.

Bote en opdrifsels was teen die paaie langs die kus in die suidwestelike deel van Haïti opgedam.

Amptenare het die ramp as die ergste humanitêre krisis sedert 2010 se aardbewing bestempel.

Meer as drieduisemnd huise is langs die suidelik skiereiland verwoes en minstens 350 000 mense het hulp van die een of ander aard nodig.

Daar is ook kommer dat die cholera-epidemie wat reeds minstens seweduisend lewens sedert 2010 geëis het, aansienlik gaan vererger weens die omstandighede na die orkaan.

Die storm het ook erge skade in Kuba aangerig waarna dit aanbeweeg het na die Bahamas en die laer ooskus van die VSA.

Meer as 1,5 miljoen mense in dele van Florida in die VSA is intussen aangeraai om die gebied te ontruim.

Goewerneur Rick Scott het inwoners­ gewaarsku dat die orkaan die gebied direk kan tref, met moont­like katastrofiese gevolge.

Honderdduisende mense het reeds in ander deelstate aan die ooskus, soos Suid- en Noord-­Carolina, elders skuiling gaan soek.

Ten minste 12 miljoen mense in die VSA word geraak deur sulke storms.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.