Chaos heers by Wits na polisie teen oproeriges optree

Deel op

Chaos het uitgebreek by die hoofkampus van die Universiteit van die Witwatersrand in Johannesburg.

Die polisie moes skokgranate gebruik om oproeriges uiteen te jaag nadat betogers ‘n polisievoertuig omgekeer het terwyl veiligheidswagte massabetogings uiteen probeer dryf het.

Minstens twee studente is in hegtenis geneem weens aanhitsing van geweld, insluitend die aktivis, Busisiwe Seabe.

Die belhamels is na die Hillbrow-polisiestasie geneem waar hulle aangekla sal word.

Die probleme het begin toe sowat 100 swart studente by die universiteit se Groot Saal begin betoog het teen die hervatting van akademiese bedrywighede.

Die polisie is in groot getalle op die kampus ontplooi en volgens RSG is die polisie vasbeslote om betogings in die kiem te smoor.

‘n Polisielid het ‘n kopwond opgedoen tydens ‘n onderonsie met oproeriges buite Wits se Hoofsaal, maar die nasionale voorsitter van die EFF, Dali Mpofu het op die kampus verklaar daar kan nie onnodige lewensverlies van studente moet wees weens die polisie se teenwoordigheid nie.

Die visekanselier van die Universiteit van die Witwatersrand, Adam Habib het vroeër gesê veiligheidswagte en die polisie sal op alle kampusse ontplooi word ná voorvalle van intimidasie Maandag.

Habib sê geen massavergaderings sal by Solomon Mahlangu Huis toegelaat word nie en daar sal onmiddellik opgetree word teen oproeriges.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.