Nog universiteite het besluit om weer te open nadat klasse by die Universiteit van die Witwatersrand hervat het, maar oproermakers dreig steeds met ontwrigting.
Die akademiese program by Wits sal Dinsdag voortgaan nadat studente in ‘n eletroniese meningsopname ná onlangse gewelddadige betogings ten gunste van die voortsetting van klasse gestem het.
Slegs personeel sal nog vandag terugkeer na hul kantore, terwyl studente eers môre klasse sal begin bywoon.
Die akademiese program by sowel die Universiteit van KwaZulu-Natal en die Durbanse Universiteit van Tegnologie is geskeduleer om Maandag opnuut in aanvang te neem.
Betogers waarsku egter intussen dat hulle sal sorg dat hul instelllings nié sal heropen nie.
Agt studente van die Universiteit van KwaZulu-Natal sal na verwagting vandag in die hof verskyn nadat hulle die naweek op die Pietermaritzburg-kampus aangekeer is weens brandstigting by ‘n laboratorium Vrydagnag.
Another building set on fire at #Unizulu main campus. Close proximity to students with disability residence. @ZOPublications pic.twitter.com/7mFrieo25I
— Kyle Cowan (@CowansView) September 30, 2016
Verlede week is die William O’Brien-koshuis (foto) op die kampus byna afgebrand.
Nóg vier studente is Saterdagmiddag in hegtenis geneem nadat hulle skynbaar klippe na veiligheidswagte gegooi het.
Aan die Universiteit van Kaapstad het die studenteraad ‘n verklaring uitgereik en studente gewaarsku om nie klasse by te woon nie.
By die Durbanse Universiteit van Tegnologie het ‘n eposgerug die ronde gedoen dat klasse tot volgende jaar opgeskort is.
Die instelling het die gerug ontken, alhoewel dit nog onseker is of klasse wel vandag, soos wat beplan is, sal hervat weens bewerings dat betogers die instelling afdreig.
Die regering sal vanoggend ‘n noodvergadering hou om die krisis te bespreek nadat verskeie universiteite oor die hele land deurgeloop het onder ‘n vlaag geweld, plundery, brandstigting en vandalisme.
Die presidensiële woordvoerder, Bongani Ngqulunga, sê president Jacob Zuma wil ‘n oplossing vir die krisis vind.