Dan Roodt tans in Swede vir konferensie en gesprekke

Deel op

Dr. Dan Roodt van PRAAG het gisteroggend in Stockholm aangekom waar hy vandag (Saterdag) ‘n Europese konferensie oor identiteit sal toespreek. ‘n Verskeidenheid Europese, maar ook Amerikaanse, groepe en individue woon die konferensie by waar die opkoms van nuwe nasionalismes in Europa onder andere bespreek sal word. Die Amerikaanse nuustydskrif Time het so pas ‘n voorbladartikel aan die toename in regse en nasionalistiese steun in Europa gewy, wat aantoon hoe aktueel die tema van Europese identiteit geraak het.

“Ek dink dis belangrik dat Afrikaners deelneem aan die nuwe Europese identiteits- of identitêre beweging,” het dr. Roodt op die vooraand van sy Sweedse besoek gesê. “Vir ons is dit ‘n nuwe beweging wat alle mense van Europese afkoms, waaronder ook Noord-Amerikaners en Suid-Afrikaners, wil saamsnoer in ‘n front om die afgang van die Europese beskawing te stuit. Afrikaners het geweldig gely onder die soort linkse hegemonie van die sewentiger- en tagtigerjare toe verskeie Westerse lande ons geboikot en selfs terreur teen Suid-Afrika befonds het. Tans sien ons die teenoorgestelde gebeur, waar regse partye en politieke groepe sterk steun in Europa, asook in die VSA met Donald Trump, begin monster. Suid-Afrika was tot 1994 nog altyd ‘n Westerse land met ‘n aansienlike Europese bevolking, daarom spreek dit vanself dat ons deel van die debat moet word. Ook moet die skade wat die Europese sosialiste en kommuniste ons aangedoen het, ongedaan gemaak word. Deur hul steun vir terreur en die marginalisering van Afrikaners, het hulle eintlik ‘n soort volksmoord teen ons ontketen wat vandag nog aanhou.”

Binne hierdie eeu gaan Europeërs wêreldwyd ‘n demografiese inploffing belewe wat hulle minder as vyf persent van die wêreldbevolking gaan maak. Daarteenoor voorspel demograwe van die Verenigde Nasies dat die swart bevolking van Afrika tot meer as vier miljard mense gaan styg en dat die helfte van kinders op aarde swart gaan wees. “Europeërs besef toenemend dat hulle ‘n ramp in die gesig staar indien die afgang op soveel gebiede nie gestuit word nie,” gaan dr. Roodt voort. “Vanweë ons ervaring as onderdrukte blanke minderheid in Suid-Afrika, bring ons ‘n belangrike element na die debat. Soos Martin Bosma van die Nederlandse PVV gesê het, is ons die ‘kanarie in die steenkoolmyn’. As ons uitsterf, mag alle Europeërs of blankes uitsterf.”

Vanaf links word enige vorm van Europese, Westerse of blanke identiteit skerp aangeval. Daar word gepraat van “rassekapitalisme” wat deur Noord-Europeërs geskep is om die hele planeet te onderdruk. Nou word daar vergelding gevra, presies soos wat apartheid in Suid-Afrika vergeld moet word. “Dit het my nie eens verbaas om nou die dag in die linkse dagblad Beeld ‘n artikel deur twee swart professore van UNISA te lees waarin Noord-Europa vir al die boosheid op aarde verantwoordelik gehou word nie,” sê dr. Dan Roodt. “Beeld beskuldig ons daarvan dat ons Europeërs onbeskaafd is en dat ons die swartes se biblioteke afgebrand het. Watter biblioteke? Dit is hierdie soort ekstremistiese antiblanke sienings waarvan Europeërs op hoogte gestel moet word. Nie net ons is in die visier nie, maar almal wat van die suksesvolle Noord-Europa afkomstig is. Soos Jakes Gerwel gesê het toe hy direkteur van Naspers was: ‘die Europese Renaissance neig na apartheid en rassisme.’ Die aanklag teen Europese en Westerse identiteit is totaal.”

By die konferensie in Stockholm sal daar ook boeke verkoop word wat deur PRAAG gepubliseer is.

Ns. Die uitspraak in Beeld deur prof. Sabelo J. Ndlovu-Gatsheni en dr. Everisto Benyera waarna Dan Roodt verwys, verskyn in ‘n artikel met die titel Studente-smeltkroes:

Cecil John Rhodes het nie net kolonialisme en rassisme verteenwoordig nie, maar ook, soos treffend verwoord is deur Njabulo Ndebele, skrywer en kanselier van die Universiteit van Johannesburg (UJ), “the uncivilised that is buried ­deeply in the heart of the ­self-proclaimed civilised”.

Die Europeërs se onbeskaafde streep het neerslag gevind in hul gebruik van vuur om biblioteke wat deur ander gebou is, af te brand.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.