Kettingbotsing op N1 eis twee

Deel op

‘n Gedeelte van die N1 tussen Kroonstad en Koppies by Heuningspruit in die Vrystaat, wat gister bykans die hele dag gesluit was vir verkeer ná ‘n kettingbotsing waarin twee mans dood is, is gisteraand, omstreeks 20:00 weer oopgestel.

Dit kom nadat ‘n kleinerige vragmotor, Dinsdagaand omstreeks 23:00, vermoedelik weens sterk wind omgeslaan het. Die vragmotor het in die rigting van Bloemfontein gery. Polisiewoordvoerder, Ian Gaobepe, sê ‘n ander vragmotor, wat groot kunsmissakke vervoer het, het by die toneel gestop om verkeer te waarsku.

Hy sê twee mans in ‘n bakkie het agter dié vragmotor gestop, waarna ‘n derde vragmotor met swaar staalpype in die bakkie vasgejaag het. Die bakkie is ‘n ent gesleep en is onder die vragmotor met die kunsmis op, vasgepen. Gaobepe sê polisiebeamptes en nooddienswerkers het ure gespook om ‘n vrag van die vragmotor waaronder die bakkie beland het, af te laai.

Die insittendes in die bakkie se lyke kon eers gistermiddag uit die wrak verwyder word. Volgens Gaobepe het die opruimingswerk lank geneem omdat die vrag swaar staalpype eers met spesiale toerusting verwyder moes word. Motoriste moes gister van alternatiewe roetes gebruik maak.

Verkeer in die noordelike rigting na Johannesburg is via Parys en Koppies herlei, terwyl verkeer in ‘n suidelike rigting na Bloemfontein op die R36 herlei is. Volgens Gaobepe is die bestuurder van die vragmotor met die swaar staalpype op na ‘n nabygeleë hospitaal geneem. Hy is intussen uit die hospitaal ontslaan. Gaobepe sê die name van die oorledenes is nog nie bekend nie.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.