‘n Groep swart oproeriges van die Sentrale Universiteit van Tegnologie (SUT) se Bloemfontein-kampus sal vandag in die plaaslike landdroshof verskyn in verband met ‘n onwettige byeenkoms, openbare geweld en opsetlike saakbeskadiging.
Polisiewoordvoerder, Chaka Marope, sê altesaam 13 mans en sewe vroue is gisteroggend omstreeks 02:00 in hegtenis geneem. Hulle was deel van ‘n groep studente wat as deel van die voorslepende studentebetogings oor di eland heen van dié kampus na die SABC se kantore in die stad opgetrek het.
Hy sê ‘n groep van sowat 300 betogers het na die SABC se kantoor op die hoek van Kellner- en Markgraaffstraat beweeg. Met hul aankoms het hulle die polisie met klippe bestook waarna lede van die polisie ‘n skokgranaat gebruik het om die studente uiteen te dryf.
Marope sê die groep betogers het ook na bewering ‘n staatsbakkie, wat aan veiligheidsdienste behoort en voor die Bram Fischer-gebou gestaan het, beskadig. Verskeie vullisdromme is omgekeer. Sover bekend is niemand in die voorval beseer nie.
Die Indiërmarxis en anti-apartheid staatmaker Ahmed Kathrada het die swart studente gemaan om nie hul eise vir gratis tersiêre onderwys te benadeel deur geweldpleging nie.
Hy het hulle egter aangemoedig om voort te gaan met die protes.
“Ons moet hulle nie veroordeel nie. Ons verstaan hul ongeduld,” het hy gesê by die bekendstelling van ‘n replika van Nelson Mandela se Robbeneiland tronksel in Mitchells Plain.
Maandagoggend het brandstigters die William O’Brien koshuis aan die Universiteit van Pietermaritzburg-kampus byna in puin gelê.
Die ingang na die gebou is aan die brand gesteek teen 06:00. Brandbestryders, beskerm deur ‘n beduidende polisiekontingent, kon die vlamme blus.