Franse skoolstelsel in krisis weens ‘apartheid’ en ‘ongelyke prestasie’

Deel op

Volgens ‘n onlangse verslag wat deur die Raad op die evaluering van die Franse skoolstelsel vrygestel is, “produseer die stelsel self ongelykheid” en is die prestasiegaping tussen meesal blanke middelklas-Franse en gekleurde immigrante “besig om te vergroot”. Die beleid om meer geld aan “prioriteitskole” met nie-Franse, immigrante- of gekleurde kinders te bestee, word ook as ‘n mislukking beskou aangesien die prestasie van sulke skole konstant afneem. Trouens, die meer geld wat sulke skole van die staat ontvang, veroorsaak volgens die verslag dat hulle “gestigmatiseer” word en dat ouers nie graag hul kinders na sulke skole wil stuur nie.

Die verslag veroorsaak konsternasie in die geledere van Frankryk se sosialistiese elite wat reeds jare lank die opvoedingstelsel oorheers, met die meeste onderwysers wat vir die Sosialistiese Party stem. Sosialistiese regstellende-aksie en diskriminasie teen blanke Franse het meer ongelykheid veroorsaak as wat daar andersins in die stelsel sou gewees het.

Die links-liberale koerant Le Monde het gister ‘n pleidooi vir gedwonge integrasie gelewer en betreur dit dat “die stryd ten gunste van meer (rasse-)vermenging grootliks oor die afgelope dertig jaar afwesig was”.

Daar bestaan de facto-apartheid of segregasie in Franse skole, en die verslag meen dat enige beleidsverandering “ondoeltreffend sal wees solank as wat die mees gesegregeerde skole en junior hoërskole nie meer maatskaplike vermenging instel nie”.

Die beleid om meer geld aan ‘n skool te bestee sodra daar 30% of meer nie-Franse of gekleurde kinders in die skool is, het volgens die verslag skouspelagtig misluk. Sulke skole wat as “ZEPs” bekendstaan (zone d’éducation prioritaire) en dus as “prioriteitskole” beskou word, toon groot dissiplineprobleme sodat onderwysers veel minder tyd aan onderwys kan bestee. Die studie bevind dat onderwysers in ZEP-skole ongeveer 21% van skooltyd aan dissipline of aan “die handhawing van ‘n gunstige klimaat bestee”, teenoor 16% in gewone skole en 12% in privaatskole. In die derde jaar (vanaf matriek, want Franse skole klassifiseer leerlinge omgekeerd in jare wat voorlê voor hul matriekjaar, wat as die “terminale jaar” bekendstaan) is leerlinge veronderstel om 4 uur Frans per week te ontvang, maar in ZEP-skole word dit slegs 2 uur en 30 minute, teenoor 2 uur 45 minute in nie-prioriteitskole en 3 ure in privaatskole. Volgens die verslag, “weeg dissiplineprobleme, maar ook skorsings, en die afwesigheid van leerlinge en onderwysers swaar op die rooster”.

Afgesien van die verminderde tyd wat vir onderrig in die grootliks nie-blanke skole beskikbaar is, is die gehalte ook laer. Die verslag vermeld:

“Leerlinge uit agtergeblewe gebiede het nie toegang tot dieselfde onderrigmetodes as diegene uit bevoordeelde gebiede nie,” sê die sosioloog Nathalie Mons wat aan die studie deelgeneem het. “In wiskunde, byvoorbeeld, is die take minder ambisieus, die verwagtinge laer, die onderrigomgewing minder belowend.”

une-situation-qui-se-degrade-en-france_0fa8c116abe6f8bf088dbfc250b323c3Waarskynlik weens die groot aantal gekleurdes wat uit voormalige kolonies na Frankryk toe stroom, is die gaping tussen “bevoordeelde” en “benadeelde leerlinge” in die land die hoogste van al die ontwikkelde lande van die OESO (Organisasie vir ekonomiese samewerking en ontwikkeling, sien bogaande grafiek). Ook Swede, waarvan die onderwysvlak eens van die hoogste ter wêreld was, sukkel vanweë immigrasie deesdae met “benadeeldes” wat nie die mas opkom nie, en dus met ongelykheid wat opvoeding betref. Swede het egter volgens bogaande grafiek ‘n effense verbetering in die wiskundevaardighede van “benadeeldes” behaal, teenoor Frankryk waar daar geen verbetering in agtergeblewenes se wiskunde te bespeur is nie.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.