Wits smeek OVK, polisie om hulp om akademiese jaar te red

Deel op

Die Universiteit van die Witwatersrand het die hulp van die Verkiesingskommissie ingeroep om die uitslag van ‘n meningspeiling oor die hervatting van lesings te verifieer.

Die Universiteit doen blykbaar die peiling onder dosente en studente sodat hulle ‘n getallemeerderheid kan monster om die betogers te keer.

Die woordvoerder van die Universiteit, Sherona Patel sê honderde e-posse is ontvang waarin gevra word dat die akademiese program hervat word.

Sy sê die universiteit is van menig dat die stemme van die “meerderheid” gehoor moet word.

Die universiteit het ook die hulp van die polisie ingeroep soos in ‘n anonieme brief aan alumni uiteengesit.

By die Universiteit van die Witwatersrand het die leier van die veldtog oor universiteitsgeld, Mcebo Dlamini gesê meer as 50 vakbonde gaan hulle more by ‘n optog aansluit om gratis hoër onderwys te eis.

Intussen is verskeie kampusse landwyd gesluit weens voortslepende protesoptrede. Swart betogers het gedreig dat al die tersiêre instellings in Gauteng vandeesweek gesluit sal word.

By die Universiteit van Pretoria is die Oktoberreses vervroeg en die Universiteit bly gesluit tot die negende van aanstaande maand.

Twee motors van personeellede is Maandag op die kampus aan die brand gesteek.

Lesings by verskeie kampusse van die Tshwane Universiteit van Tegnologie is opgeskort en by die Universiteit van Johannesburg is lesings opgeskort en die biblioteek is gesluit.

Lesings by die Universiteit van KwaZulu-Natal se kampus in Pietermaritzburg is ook steeds opgeskort. ‘n Koshuis se ingang is vroeër aan die brand gesteek.

Betogers het aangedui dat hulle hul oproer gaan voortsit ten spyte van elf studente wat verlede week weens die onrus op die kampus in hegtenis geneem is.

Die Universiteit van Kaapstad moes sy somergradeplegtigheid tot Junie aanstaande jaar uitstel weens die voortslepende onluste oor universiteitsgeld. Klasse is ook vir nog ‘n week opgeskort en sal na verwagting aanstaande week hervat word.

‘n Woordvoerder vir die universiteit, Elijah Moholola sê hulle sal ook die oproeriges raadpleeg.

Dit behels die jaareind-eksamen wat moontlik geraak kan word indien akademiese bedrywighede nie komende Maandag, soos beplan, hervat word nie.

Oproeriges versprei boodskappe op sosiale media wat studente waarsku dat hulle hul akademiese loopbane vir ‘n jaar sal moet uitstel.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.