Russe roep skaakmat in Sirië

Deel op

Die Neocons bevind hulself in ‘n doodloopstraat na die ineenstorting van die Kerry-Lawrof-ooreenkoms om ‘n skietstilstand in Sirië uit te roep.

Die Siriese weermag het die djihadis in die ooste van Aleppo vasgekeer, en die werklikheid van verdoemende nederlaag in Aleppo het uiteindelik by mense soos die Amerikaanse VN-ambasadeur Samantha Power ingesink.

Die resultaat is Power se hewige diplomatieke storm met histeriese media-aktiwiteit wat probeer om die Russe in die verleentheid te stel om die offensief van die Siriese weermag in Aleppo te keer.

Die rede vir hierdie aktiwiteit sedert die ineenstorting van die skietstilstand, is dat die Siriese weermag met Russiese hulp sy posisies gekonsolideer het en die djihadi-beheerde Oos-Aleppo in twee verdeel het.

Verslae uit Aleppo toon dat die Siriese weermag en bondgenote reeds aansienlike magte naby of in die stad konsentreer het om die offensief te ondersteun. Die Russiese spesmagte is steeds by die sleutelroete Castellopad ontplooi, en daar is berigte dat tot 8000 Iraanse magte aangekom het in die stad.

Russiese bedrywighede met SU25-vegvliegtuie by Khmeimim-lugmagbasis is ook hervat.

Die belangrike punt om dus te verstaan, en een wat al die woedende retoriek van die laaste paar dae verduidelik, is dat die Westerse moondhede wat die Neocons ondersteun, deur die Siriese offensief teen die djihadis vasgekeer is in Aleppo.

Dit is hierdie Amerikaanse Neocon-bewustheid van sy eie magteloosheid dat sy djihadi-protégés in Aleppo totale nederlaag in die gesig staar, wat verantwoordelik is vir al die woedende beskuldigings van “gruweldade” deur die Russe wat die afgelope week die hoofstroommedia deursuur.

Samantha Power het Sondag, 25 September 2016 by die Veiligheidsraad van die VN, losgetrek en Rusland selfs van “barbarisme” beskuldig.

Maar by ‘n Amerikaanse Senaatsvoorlegging op Donderdag 22 September 2016, het die Amerikaanse stafhoof, generaal Dunford, gesê as die VSA “beslissende optrede” neem deur die instelling van ‘n vliegspergebied, is dit so goed as ‘n oorlogsverklaring teen Rusland, en daarvoor sal hy nie pa staan nie.

Die Republikeinse Senator John McCain, die ou verslete Neocon-oorlogsmous en intervensionis wat voortdurend druk toepas vir Amerikaanse militêre optrede by elke geleentheid en veral konflik met Rusland, het probeer om Dunford te dwing om te sê dat ‘n vliegspergebied nie dieselfde is as “totale beheer van die Siriese lugruim” nie, wat oorlog met Rusland en Sirië sou vereis. Maar Dunford wou nie byt nie.

Beide McCain en Dunford weet baie goed dat die VSA nog nooit ‘n vliegspergebied opgedring het aan ‘n land waaroor hy nie “totale beheer van die lugruim” gehad het nie.

Sonder ‘n vliegspersone is daar dus heeltemal niks wat die VSA kan doen om die verloop van die gevegte in Aleppo te verander nie.

Die Britse minister van buitelandse sake Boris Johnson, het tydens ‘n televisie-onderhoud op Sondag 25 September 2016 min of meer toegegee dat die Neocons hulself vasgedraai het en dat ‘n propaganda-aanslag die laatse uitweg is.

Johnson het gesê dat die enigste ding wat die Weste kan doen in hierdie situasie is om te probeer om die Russe in die verleentheid te stel.

Die huidige histeriese aanklagte van “barbarisme”, “oorlogsmisdade”, die onbewese Russiese skuld vir die aanval op ‘n hulpkonvooi, klagtes oor die doelbewuste afsny van Aleppo se watervoorraad, en dies meer, moet in daardie lig beskou word.

Na aanleiding van die ineenstorting van die skietstilstand, en met die kragdadige oplegging van ‘n vliegspergebied vir alle praktiese doeleindes uitgesluit, het Kerry met die absurde voorstel gekom dat Rusland en Sirië ‘n vliegspergebied oor hulself afkondig.

Die Russiese minister van buitelandse sake Sergei Lawrof, het intussen ten spyte van intense druk van die VSA en sy bondgenote – botweg eensydige skietstakings deur die Siriese weermag uitgesluit.

In plaas daarvan het hy dit glashelder gestel dat ‘n skietstilstand net sal gebeur as die Siriese opposisie hulself werklik verbind tot die vernietiging van die ISIS-filiaal Jabhat Al-Nusra, soos wat die VSA in Februarie en in die onlangse Kerry-Lawrof-ooreenkoms belowe het hulle sou doen.

Die Russe het skaakmat geroep in die stryd om Aleppo en die Neocons se kanse om hul djihadi-protégés in Sirië van totale nederlaag te red, asook uit die vernedering van ‘n openbare mislukking van hul strategie, is nou naby aan nul.

Want tot hul groot verbasing, het Russe nog nie teruggedeins voor die propaganda-aanslag nie.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.