Swart studente se eise hou nie op nie

Deel op

Die swart studente van die Universiteit van die Witwatersand het intussen besluit om voort te gaan met hul protesoptrede tot daar aan al hul eise voldoen is. Die lys van hul eise het klaarblyklik ook geen einde nie.

Dit sluit nou behalwe gratis onderwys ook gratis kos en verblyf in sodat hulle kan aanhou om lesings te ontwrig en nie-betogendes af te dreig.

Volgens die ontevredenes sal hulle alles wat beskikbaar is gebruik om vir gratis hoër onderwys te veg, ten spyte daarvan dat petrolbomme op die kampus gevind is.

Die studente is kwaad omdat die Wits-bestuur nog nie op hul eis vir gratis onderwys gereageer het nie.

Hulle het ook die universiteit daarvan beskuldig dat die bestuur drie petrolbomme op die Braamfonteinse kampus sou versteek het as afskrikmiddel vir die studente.

Die studente sê as die universiteit die koshuise sluit sal dit voedselnood veroorsaak. Die studente eis gratis verblyf en kos.

Wits se studenteraadsvoorsitter, Kefentse Mkhari sê hulle gaan op die kampus bly, al moet hulle mag gebruik. Volgens hom kan die bestuur hulle goed vat en loop, want die universiteit behoort aan die studente.

Eiendom is weer beskadig in konfrontasies tussen betogende studente en veiligheidswagte. Vandale het reeds miljoene rande se skade veroorsaak op kampusse regoor die land.

Intussen is lesings by die Universiteit van Kaapstad vir ‘n verdere week opgeskort na voortgesette dreigemente deur oproerige swart studente.

Lesings sou vandag hervat word nadat dit verlede week weens studentebetogings opgeskort is, maar studente het gedreig dat die ontwrigting van akademiese bedrywighede sal voortgaan.

Personeel sal met werksaamhede voortgaan, maar biblioteke sal gesluit wees uit vrees vir nog brandstigting.

Die visekanselier, Max Price het druk op die regering geplaas om die universiteitsgeldkwessie in die nasionale begroting te vervat en geen woord van kritiek teen die betogers gehad nie.

Price sê ‘n plan om die krisis te besleg behoort voor die einde van die jaar aangekondig te word.

Veiligheid by die Universiteit van Fort Hare se hoofkampus in Alice in die Oos-Kaap is ook opgeskerp.

Sleutelgeboue en waardevolle toerusting sal veral bewaak word.

Dit volg nadat die onderhoudsgebou verlede week aan die brand gesteek is.

Die universiteit se bestuur sê hulle is bereid om met verteenwoordigers van die studente oor die FeesMustFall-veldtog in gesprek te tree. Die woordvoerder van die universiteit, Lizo Phithi sê hul hoofdoel is nou om eiendom te beskerm.

Die woordvoerder van die Kommissie, Musa Ndwandwe het studente aangemoedig om voorstelle in te dien sodat hulle sienings verteenwoordig kan wees in die Kommissie se ondersoek.

Die minister van Basiese Onderwys, Angie Motshekga het ‘n beroep op studente gedoen om die Kommissie oor Universiteitsgeld die geleentheid te gee om sy werk te doen.

Die Kommissie is aangestel om ondersoek te doen na die befondsing van hoër onderwys.

Die minister van Hoër Onderwys, Blade Nzimande se aangekondiging dat universiteite self sal besluit oor verhogings in universiteitsgeld was egter nie die oorsaak van wydverspreide onrus op kampusse nie.

In Junie is Witsstudente vertel dat hulle eineksamens ontwrig sal word, ongeag van wat Blade gaan aankondig.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.