Nigeriese voedselkrisis laat algar koud

Deel op

Meer as 20 000 mense is reeds dood en meer as 2,6 miljoen is haweloos gelaat sedert Boko Haram-militante in 2009 met ’n insurgensie teen die Nigeriese ower­hede begin het, het AFP berig.

Ondanks die groot aantal mense wat hierdeur geraak word, het die situasie min aandag geniet in vergelyking met ander humanitêre krisisse in die wêreld, selfs binne Nigerië.

In Julie het die Verenigde Nasies (VN) aangekondig dat byna 250 000 kinders onder die ouderdom van vyf jaar vanjaar in die Borno-staat alleen aan ernstige ondervoeding ly en dat een in vyf, nagenoeg 50 000 sal sterf.

Verlede maand het die VN gesê 4,5 miljoen mense in die noordoostelike state van Nigerië benodig dringend voedselbystand, twee keer soveel as wat in Maart die geval was.

Van hulle staar meer as 65 000 hongersnood in die gesig. Gevegte en onveiligheid het egter daartoe gelei dat van die gebiede wat die swaarste getref is, van hulp afgesny is.

Dr. Bamidele Omotola, ’n spesialis in voeding verbonde aan die VN se Kinderfonds (Unicef) sê globale akute ondervoeding is “ver, ver, ver meer as wat ’n mens in noodtoestand aantref”.

“Ek onthou die laaste keer wat ons sulke ernstige gevalle gehad het. Dit was tydens die Nigeriese burgeroorlog vanaf 1967 tot 1970,” het hy bygevoeg.

Destyds is meer as ’n miljoen mense dood vanweë hongersnood en siekte tydens die oorlog wat teweeggebring is deur die eensydige onafhanklikheidsverklaring deur Biafra in die suidooste van Nigerië.

Nou het gevegte boere verhinder om hul oeste aan te plant, gebiede is verwoes en landmyne is geplant met waterbronne wat besmet is en die tekort aan voedselvoorrade wat pryse by plaaslike markte die hoogte laat inskiet het. Terselfdertyd heers ’n resessie in Nigerië. Die land se geldeenheid, die naira, het waarde verloor en inflasie het tot meer as 17 persent gestyg, wat kos, brandstof en goedere baie duur gemaak het.

Dokters en gesondheidswerkers bied voedingsprogramme in kampe vir hawelose mense en by openbare gesondheidsklinieke in Maiduguri aan en sien daagliks die gevolge van die voedseltekorte.

Desperate ondergewig kinders word geweeg en die omtrek van hul bo-arms word gemeet vir tekens van ondervoeding.

Diegene wat te swak is om teen komplikasies soos masels, malaria en diarree te veg, word na ’n terapeutiese voedingsentrum in Gwange gestuur wat deur Dokters Sonder Grense (MSF) beman word.

MSF sê in Julie is 290 pasiënte opgeneem en 30 kinders is dood vanweë erge ondervoeding. In Augustus het die getalle tot 387 opnames met 72 sterftes verhoog.

Die Boko Haram-konflik en die gevolge het ook reeds oorgespoel na noordelike Kameroen, die suidooste van Niger en die weste van Tsjad met meer as 6,3 miljoen mense in die streek wat ernstige voedselonveiligheid in die gesig staar.

Volgens die VN se humanitêre koördineerder in die streek, Toby Lanzer, is $385 miljoen nodig om die krisis in die noordooste van Nigerië af te weer. Vir die streek word $559 miljoen benodig.

Maar die hongersnood is nie alleen die gevolg van Mosleminsurgente nie. Talle kinders word verhonger deur hul ouers omdat hulle glo die kinders is “hekse”. Enkele van dié duisende kinders word deur hulpwerkers (foto) gered.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.