Die uitgaande Openbare Beskermer, Thuli Madonsela, is ‘n “assistent van wit monopolie-kapitaal” en ‘n CIA-agent, volgens die ANC-jeugliga.
“Mev Thuli Madonsela is ‘n CIA-agent,” het die Ligapresident, Collin Maine, gesê.
Die Liga sê omdat Madonsela nie kommentaar gelewer het oor soortgelyke bewerings by ‘n vorige geleentheid nie, is genoeg bewys dat die sy op die betaalstaat van die Amerikaanse intelligensiediens is.
Die Liga het die bewerings op ‘n inligtingsessie in Johannesburg gemaak waar die Jeugliga gesê het hulle glo vas die staat is onder beleg van “imperiale magte”.
Die nie-so-jeugdige jeugvleuel van die regerende party sê Madonsela se toetrede tot die ondersoek teen die Gupta-familie en haar beskuldigings van ‘n staatskaping, is ‘n bewys van haar vooroordeel.
“Ons moet ook praat oor monopoliekapitaal. Veral die Stellenboschmafia. Dit sal ook aangespreek moet word. As jy wil praat oor die kwessie van staatskaping, kom ons praat oor al die dinge.”
Madonsela sê sy oorweeg regstappe teen Maine vir die aanval op haar persoon en die kantoor van die Openbare Beskermer.
Die Liga het ook ‘n beroep vir ‘n onmiddellike einde aan protes op kampusse ten einde toe te laat dat die fooiekommissie sy geregtelike ondersoek voltooi na universiteitsbefondsing.