Twee kampusgeboue deur swart oproeriges in puin gelê

Deel op

‘n Saal is by die Universiteit van Zoeloeland by Empangeni aan die KwaZulu-Natalse noordkus in ‘n brand vernietig terwyl onrus oor ‘n verhoging in klasgelde by verskeie universiteite voortgaan, het RSG berig.

Dit is nog nie duidelik wat die oorsaak van die brand was nie. Die polisie en nooddienste is ingeroep en die brand is geblus voordat dit na nog geboue kon versprei.

Die president van die studenteraad, Wandile Mathabela het Dinsdag gesê hulle sluit aan by die landwye protesoptrede teen ‘n verhoging in klasgelde.

Daar was gister ‘n beroep dat veiligheidsmaatreëls verskerp moet word nadat studente in groepe begin byeenkom het. Die universiteit was nie beskikbaar vir kommentaar nie.

Die visekanselier van die Universiteit van Fort Hare, Mvuyo Tom het intussen die voorval waar ‘n gebou op die Alice-kampus in die Oos-Kaap aan die brand gesteek is, veroordeel.

Hy sê die gebou huisves ‘n maatskappy wat opknappingswerk by die universiteit doen.

Die universiteit se bestuur het gister met die studenteraad vergader en ooreengekom dat studente sal terugkeer na klasse nadat hulle ‘n week lank weggebly het weens vrese oor veiligheid by koshuise.

Tom sê ‘n klein groepie studente het na die vergadering begin betoog en die gebou aan die brand gesteek. Hy sê die polisie en die brandweer is ingeroep om die situasie te hanteer.

Die Universiteit van Kaapstad het klasse tot Sondag opgeskort. Die universiteit sê in `n verklaring op sy webblad dat alle biblioteke en studielokale gesluit sal wees.

Studente beplan om later vandag `n protesoptog na die parlement te hou teen die verhoging in klasgeld. `n Student, Mickey Moyo sê hulle is besig om alle studente in die Wes-Kaap te mobiliseer om aan die optog deel te neem omdat hulle `n nasionale verklaring daarmee wil maak.

Volgens hom sal dieselfde as verlede jaar weer gebeur as daar nie `n duidelike aanduiding is oor wanneer klasgelde afgeskaf word nie.

Agt studente van die Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit in Port Elizabeth is gisteraand op borgtog van 450 rand elk vrygelaat.

Hulle is gistermiddag op aanklagte van openbare geweld in hegtenis geneem gedurende `n protesoptog van die hoofkampus na die Tweede Laan-kampus in Somerstrand.

Die polisie moes skokgranate gebruik toe die studente verkeer by die ingang van die Boardwalk Casino naby aan die Tweede Laan-kampus ontwrig het.

Na hul inhegtenisname het ander studente buite die Humewood-polisiestasie betoog en hul vrylating geëis.

Studente op die Mahikeng-kampus van die Universiteit van Noordwes is aangesê om die kampus te verlaat nadat die universiteit besluit het om dit te sluit.

Die kampus sal eers weer oor drie weke heropen. Die universiteitsbestuur het die kampus gesluit weens kommer dat gewelddadige protesoptrede oor klasgeld kan toeneem nadat studenteverteenwoordigers geweier het om met die bestuur te vergader.

Die ingang van die kampus is steeds met brandende voorwerpe versper.

‘n Woordvoerder vir die Mahikeng-kampusbestuur, Koos Degenaar sê koshuisinwoners moet ook die kampus verlaat.

Die Universiteit van Pretoria het ook klasse vir die res van die week opgeskort.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.