Amerika probeer Rusland blameer vir die aanval op ’n konvooi wat hulp aan die meer as 78 000 vasgekeerde mense in die Siriese stad Aleppo moes bring.
Maar NAVO se sekretaris-generaal Jens Stoltenberg het geweier om te spekuleer oor wie verantwoordelikheid moet aanvaar vir die aanval op die hulpkonvooi naby Aleppo, en gesê partye moet eers “die feite regkry”.
Nagenoeg 20 mense is in die aanval op die konvooi dood.
Rusland ontken ten sterkste dat die lugaanval op die konvooi deur die land se magte en selfs Siriese regeringsmagte uitgevoer is.
Volgens verklarings deur Moskou was die aanval in die nag en die Siriese lugmag beskik nie oor die vermoë om nagvlugte uit te voer nie. Rusland gee militante die skuld vir die aanval.
Hooggeplaaste Amerikaanse weermagwoordvoerders hou egter vol dat hulle oor voldoende bewyse beskik dat Russiese vegvliegtuie die aanval uitgevoer het.
Rusland het intussen hommeltuig-videomateriaal vrygestel wat volgens hulle bewys dat die konvooi gevolg is deur ’n voertuig wat ’n mortierlanseerder op ’n sleepwa gesleep het.
Die Russiese regering het gesê slegs militante het geweet presies waar die konvooi was, alhoewel die VN alle partye in kennis gestel het van die konvooi.
Die Russiese ambassadeur by die VN, Witali Tjoerkin, het gesê sulke haastig beskuldigings, ontdaan van enige feite, is ontwerp, onder andere, om aandag af te lei van ‘n vreemde fout “gemaak deur vlieëniers van die Amerikaanse anti-ISIS koalisie op 17 September toe Siriese regeringsposisies naby Deir ez-Zor gebombardeer is”.
Amerika se veelvuldige verskonings en verduidelikings wat die land probeer verontskuldig, het reeds gespanne betrekkinge met Rusland verder versleg.
Rusland vermoed die VSA probeer ISIS in Sirië beskerm en sê die VSA moet onverwyld ‘n onderskeid tref tussen Siriese “opposisie” en ISIS-militante.
Die Russiese ministerie van verdediging sê ‘n Amerikaanse hommeltuig was ook in die omgewing van die humanitêre konvooi toe dit buite Aleppo aangeval is.
Hulle sê die Predator het van die Incirlik-lugbasis in Turkye opgestyg tot op ‘n hoogte van 3600 meter en teen ongeveer 200 kilometer per uur en die konvooi gevolg.
Die Verenigde Nasies (VN) het ná ‘n dodelike aanval op ‘n konvooi alle hulpverlening in Sirië opgeskort.
Die Amerikaanse minister van buitelandse sake, John Kerry, het intussen aan die VN se Veiligheidsraad in New York gesê alle vliegtuie in die noorde van Sirië behoort verbied te word om te vlieg sodat humanitêre hulp afgelaai kan word.
Kerry het by die raad gesê so ‘n stap kan die geloofwaardigheid herstel van pogings om ‘n einde aan die konflik in Sirië te maak.