Wits het die sekuriteitsmaatskappy wat met swart studente gebots het, vervang, het ‘n woordvoerder Woensdag gesê.
“Ons het die sekuriteitsmaatskappy vervang, maar voel nie ‘n behoefte om personeel te verhoog nie, want daar is minder studente op die kampus,” het Shirona Patel gesê.
Die gedrag van die sekuriteitswagte wat Dinsdag met betogende studente gebots het, is in ‘n verslag vervat en sal oorhandig word aan die bestuur voor die einde van die dag.
Die twee groepe het mekaar met klippe en stukke beton gegooi buite die Grootsaal op die Oos-kampus. Studente was kwaad omdat hulle nie toegelaat is om na Senaathuis te gaan waar hulle ‘n vergadering wou hou nie.
Hulle het daarna die veiligheidswagte se optrede as verskoning gebruik om die Grootsaal te vandaliseer.
Gerugte dat wit studente (foto) ook weer geteiken is, is ook ontvang.
Woensdagmiddag het die polisie pogings van die swart oproeriges gefnuik om Braamfontein binne te vaar. Dit volg nadat die studente probeer het om in die strate ‘n optog te hou om studente van nabygeleë kampusse te mobiliseer.
‘n Groep oproeriges wou buite die kampus gaan betoog maar is aangesê om terug te draai omdat hulle nie toestemming gehad het om ‘n optog te hou nie.
Skermutselings het uitgebreek nadat die polisie probeer het om die studente na die Wits Braamfonteinkampus terug te dryf.
Twee studente is in hegtenis geneem en vier beseer tydens onderonsies tussen betogende studente en die polisie in die Johannesburgse middestad.
Die polisie het skokgranate gebruik, en sommige studente het die polisie met klippe bestook. Volgens die polisie sal diegene wat in hegtenis geneem is, aangekla word van openbare geweld.