Russe woedend oor blaam vir hulpkonvooi-aanval

Deel op

“Ons is werklik woedend oor hierdie aanval. Daar was ‘n lang proses van toestemming en voorbereiding voordat die konvooi toegelaat is om geïsoleerde burgerlikes te gaan bystaan,” het die Verenigde Nasies (VN) se spesiale gesant vir Sirië, Steffan de Mistura, in ’n verklaring aan Reuters gesê, nadat ’n noodleni­gingskonvooi onderweg na Aleppo Maandagaand aangeval is.

Die VN het sy hulpkonvooie aan die konflikgesteisterde gebied gestaak en waarsku oor die gevolge.

Vroeër Dinsdag, het die Russiese ministerie van buitelandse sake ook hul verontwaardiging te kenne gegee oor die “flagrante pogings van ‘n paar buitelandse ondersteuners van gewapende rebelle en terroriste in Sirië” om blaam na Moskou en Damaskus te verplaas.

Die Russiese ministerie van verdediging se woordvoerder het gesê die Russiese weermag het videomateriaal van die toneel en daar is geen teken dat die konvooi geteiken is in ‘n lugaanval nie.

“Ons het nou die videomateriaal bestudeer van waar die voorval plaasgevind het en daar is geen tekens van enige ammunisie gevind in die konvooi wat getref is nie. Daar is geen kraters nie, die voertuie se onderstelle is ongeskonde en hulle is nie erg beskadig nie.”

Dinsdag het die Verenigde Nasies hul verklaring aangepas en gesê hulle weet nie of dit ‘n lugaanval was nie. “Ons is nie in ‘n posisie om te bepaal of dit in werklikheid lugaanvalle was nie. Ons is in ‘n posisie om te sê dat die konvooi aangeval is,” het die VN se humanitêre woordvoerder Jens Laerke gesê.

Die Withuis het volgehou dat dit “lugaanvalle” was.

Twee onlangse aanvalle teen die Siriese weermag in Oos-Sirië dui volgens ontleders op ‘n Amerikaanse plan om die Siriese regering se teenwoordigheid oos van Palmyra uit te skakel.

Dit sal die VSA en sy bondgenote in staat stel om “Sunnie-entiteit” in Oos-Sirië en Wes-Irak op te rig wat ‘n permanente doring in die vlees van Sirië en sy bondgenote sal wees.

Volgens ‘n woordvoerder van die Rooikruis het meer as 10 mense in die aanval omgekom. Sowat 20 voertuie is ook aan die brand gesteek.

Die voorsitter van die Siriese Rooi Halfmaan was klaarblyklik onder die oorledenes.

Rusland en die VSA het gesê hulle sal werk om die skietstilstand staande te hou ten spyte van die terugslag, maar volgens sekere Westerse nuusbronne is dit beëindig nadat ‘n djihadisteleier gesê het hulle maak gereed om die aanvalle voort te sit.

Die ooreenkoms is verlede week bereik, maar is reeds etlike kere verbreek.

Rusland het die naweek gesê ‘n aanval van die VSA-geleide koalisie teen die Islamitiese Staat (ISIS) het meer as 60 Siriese soldate in die ooste van die land gedood.

Die jongste skietstilstand is die tweede vanjaar wat deur die VSA en Rusland bemiddel is om die oorlog in Sirië, wat nou al ses jaar duur, te beëindig.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.