Amokmakers dreig UV, UK en NWU

Deel op

Swart studente van die Universiteit van die Vrystaat (foto) het besluit op ‘n aggressiewe plan van aksie om die regering te dwing om aan hul eise vir gratis hoër onderwys te voldoen.

Na ‘n vergadering op die Bloemfontein-kampus van die UV, is ook besluit om die UV-bestuur te dwing om alle dissiplinêre optrede teen diegene wat betrokke was by oproer vroeër vanjaar, onmiddellik te staak.

Hulle wil ook die universiteit dwing om nie verhogings in klasgelde aan te kondig nie.

Volgens Tumelo Rapitsi, Sasco se UV-takvoorsitter, wil swart studente nie meer besin oor verhogings nie maar gratis onderwys eis.

Studente sê hulle sal onbepaald die kampus ontwrig as daar nie aan hul eise voldoen word nie.

By die Universiteit van Kaapstad is lesings steeds opgeskort.

Swart studente het Dinsdag voortgegaan met hulle betogings na die aankondiging deur die Minister van Hoër Onderwys, Blade Nzimande, dat die klasgeldverhoging vir 2017 nie meer as agt persent sal wees nie.

Studente het die ingange na die universiteit versper om nie-betogende studente toegang te weier.

Volgens ‘n lid van die Studenteraad, Mickey Moyo, het stryd om gratis onderwys nie in 2015 tot ‘n einde gekom nie.

Geen besluit is nog geneem in verband met die opskorting van klasse en administrasie by die Noordwes-Universiteit (NWU) se Mafikengkampus nie.

Dit volg na protes deur ‘n klein groepie ontevrede swart studente Dinsdag.

NWU-woordvoerder, Louis Jacobs, sê ‘n groep studente wat ontevrede is met Nzimande se aanbeveling het kantore en lesinglokale binnegestorm en probeer om personeel en studente Dinsdag te intimideer.

Hulle het buite die kampus brande probeer stig. Hulle is daarna deur die polisie verwilder maar het weer op die kampus met die polisie gebots. Die onrus het voortgeduur tot 20:00.

Jacobs sê vier studente is in hegtenis geneem vir openbare geweld.

Die situasie is kalm vanoggend, maar word gemonitor deur die polisie, sê Jacobs. Hy sê net ‘n klein groepie studente is betrokke.

Jacobs sê daar was geen ontwrigting op die NWU se Potchefstroomkampus en Vaaldriehoekkampus nie. Aktiwiteite sal soos normaal voortgaan op hierdie kampusse vandag.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.