Klipgooiers val simbole van ‘witheid’ by Wits aan

Deel op

Tydens gister se onluste deur swart studente aan die Universiteit van die Witwatersrand is simbole van “witheid” soos die Grootsaal met sy nieuklassieke pilare aangeval. Vir die eerste keer in die geskiedenis is die ruite van die ingang tot die Grootsaal waar geslagte Engelse studente hul graaddiplomas onder begeleiding van “Gaudeamus igitur” ontvang het, stukkend gegooi.

Die ingang van die Grootsaal by Wits nadat dit deur klipgooiende studente beskadig is.
Die ingang van die Grootsaal by Wits nadat dit deur klipgooiende studente beskadig is.

Onlustonele soos laas in die tagtigerjare gesien is toe die Skandinawiese lande, die Anglikaanse Kerk en Oos-Duitsland tienmiljoene dollar bestee het om oproer in Suid-Afrika aan te blaas, het hul gister op die kampus van dié links-liberale universiteit afgespeel. Aanvanklik het privaatveiligheidspersoneel die Grootsaal teen klipgooiers probeer beskerm en selfs van die klippe teruggegooi, waarna polisie-ondersteuning bygekom het. Van die akademiese personeel wat gewoonlik hul studente in polities korrekte ideologie soos “witheidstudies”, feminisme, marxisme, rassisme en gay studies onderrig, was nêrens te sien nie.

Een van die groot opstokers op die kampus is ‘n Indiërstudente wat ook sekretaris-generaal van die verteenwoordigende studenteraad is, Fasiha Hassan. Sy het die polisie en privaatveiligheidsbeamptes op die kampus as “misdadigers” beskryf.

Fasiha Hassan
Fasiha Hassan

“Ná wat ons van die polisie en privaatveiligheid gesien het, is dit duidelik dat hulle nie hier is om ons te beskerm nie… trouens, hulle is almal misdadigers op ons kampus,” het Fasiha Hassan aan die oproerige studente gesê.

Die polisie moes van skokgranate gebruik maak om die klipgooiende swart studente in bedwang te bring. Op ‘n stadium was ‘n groot skare op die plein reg voor die historiese “sentrale blok” met die Grootsaal gegroepeer en het die gebou met groot klippe en bakstene bestook.

Een-en-dertig studente is gister vir oproerige gedrag en saakbeskadiging in hegtenis geneem, maar is gistermiddag weer onvoorwaardelik vrygelaat.

Swart studente, wat reeds NSFAS-lenings van die staat ontvang wat hulle agterna nie terugbetaal nie, betoog vir “gratis opvoeding vir almal”. ‘n Opgeruide swart studente het op die liberale dekaan vir studentesake, Rob Sharman, tydens ‘n SAUK-TV-onderhoud begin skree en hom daarvan beskuldig dat hy twee koshuise laat afbreek om parkeerplek vir studente van die sakeskool “wat kan betaal” te bou. Die hele onderhoud is hier op die SAUK se YouTube te siene, maar hier volg die laaste 44 sekondes waartydens Sharman verneder word nadat hy minute lank sprakeloos teenoor haar tirade gelaat is.

Ironies genoeg kritiseer Rob Sharman in die voorafgaande gedeelte van die onderhoud die polisie dat hulle ‘n skokgranaat na die swart studente gewerp het, wat agterna “paniek” veroorsaak het.

Voor die klipgooiery het ‘n groot skare van ongeveer 500 swart studente van die Parktown-kampus (voormalige JCE of Johannesburg College of Education) na die hoofkampus op Braamfontein in Empireweg gestap sodat verkeer heeltemal tot stilstand gebring is.

Volgens ‘n persverklaring van die universiteit gaan Wits na afloop van gister se klipgooiery en onluste vir die res van die week gesluit wees. Tuks, wat ook gister onder geringe brandstigting en betogings deurgeloop het, gaan egter vandag normaalweg voort en studente is gevra om klasse by te woon. Toetse aan die Universiteit van Pretoria wat gister weens oproerige swart studente afgestel is, sal aanstaande week geskryf word.

Die Universiteit van Kaapstad is insgelyks vir die res van die week gesluit verklaar.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.