Zim stel nuwe verbod op betogings in

Deel op

Die Zimbabwiese polisie het ’n nuwe verbod op betogings in die hoofstad, Harare, ingestel, het die staatsmedia berig.

Die aankondiging is gedoen net ure nadat ’n koalisie van opposisiepartye aangekondig het dat hulle Saterdag massabetogings landwyd sal hou, het AFP berig.

Die opposisie dring aan dat hervormings vóór die 2018-verkiesings plaasvind.

Anti-regering veldtogvoerders het gesê hulle sal die verbod verontag­saam en hulle op appèl tot die land se howe wend.

“Hierdie is die laaste ­stuiptrekkings van ’n sterwende bewind en ons verwag niks beter van hulle nie,” het Douglas Mwozora, woordvoerder van die opposisieparty, die Movement for Democratic Change (MDC), gesê.

“Hulle het geen respek vir die ­landswette nie, maar ons sal nie ons grondwetlike regte prysgee nie.
“Ons sal teruggaan na die howe en hierdie onwettige verbod uitdaag,” het hy gesê.

’n Vroeëre verbod op betogings in Harare is verlede week deur die hof verwerp, ondanks pres. Robert Mugabe wat regters vir hul “onverantwoordelike” uitsprake gekritiseer het.

In ’n kennisgewing in die ­staatsbeheerde Herald-koerant, het die polisiehoof, Newbert Saunyama, gesê ’n verbod is ingestel teen enige openbare betogings wat vanaf Vrydag vir een maand van krag sal wees.

Hardlife Mudzingwa, ’n woord­voerder vir die drukgroep, Tajamuka het op sy beurt gesê: “Ons sal nie aan hierdie ongrondwetlike opdrag van die polisie gehoor gee nie.”

Opposisie teen Mugabe se 36-jaar lange bewind het in afgelope maande toegeneem met ’n string openbare ­betogings oor die ekonomiese krisis wat banke ’n tekort aan kontant laat ondervind het en die regering wat sukkel om sy werknemers betyds te betaal.

Die 92-jarige Mugabe het in die verlede dikwels geweld gebruik om sy opponente te onderdruk. Hy het die naweek gewaarsku dat betogers “’n gevaarlike spel speel”.

“Laat die opposisiepartye en diegene wat na chaos, wanorde en gewelddadige betogings streef, gewaarsku wees dat ons geduld besig is om op te raak,” het Mugabe by Zanu-PF se sentrale komiteevergadering gesê.

Verlede week het die regering planne aangekondig om 25 000 poste af te skaf nadat dit aan die lig gekom het dat 97 persent van die staat se inkomste aan­ ­staatsamptenare se salarisse bestee word.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.